|
KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS 'n Gespreksblad/brief wat nog sy fetusstadium belewe... sonder naam... drywend in vrugbare vog... met al die potensiaal waaroor ons kan droom!
Die eerste uitgawe van: Blad-sonder-naam September 1997
Inisieerder/Tikster/Mede-Afrikaanssprekende:
|
|
Dagsê Vriend |
|
Dit is vir my lekker om in hierdie sterk, warmbloedige Afrika-taal vir jou te groet. Ek was al lankal lus vir hierdie gesprek. Dit kan natuurlik nie 'n eensydige pratery wees nie, want dan is dit hoogstens 'n monoloog; dus hoop ek om bydraes, wenke, kommentaar en brokkies oor Afrikaanse dinge wat plaasvind, te ontvang. Lekker geselsbriewe oor jou kontrei en sy dinge is ook welkom. Kom ons kyk of hierdie Afrikaanse gesprek op skrif bestaansreg het! Wildewoordeboek "As 'n dryfwyf jou 'n skroeibui gee en jy voel jy word nou te veel gestamptrap, moenie kwella nie. Drink 'n halfpasdop en dink aan vanaand se moljol. Jy het mos nie sulke karringjafels nodig nie." Dalk Grieks vir Afrikaanssprekendes, maar as die Wildewoordeboek, wat binnekort uitgegee word, inslag vind, is dit nie onmoontlik dat bogenoemde wel meer verstaanbaar sal wees nie.Want vandat die Hoërskool Richardsbaai in 1993 'n jaarlikse neologisme-kompetisie begin het, het soveel lekker woorde ingestroom dat dit net in boekvorm uitgegee moes word. Volgens mnr. Kobus Grobler, waarnemende adjunk-hoof van die skool, het die kompetisie Laat Afrikaans Groei begin nadat die debatsvereniging 'n beter vertaling as "gelukkige trekking" vir Lucky draw gesoek het. 'n Kompetisie het nie net die woorde "gelukpluk" en "pryspret" opgelewer nie, maar boonop woorde soos pikrit (lift), doffel (nerd) en gee my tong hare (give me the creeps). "Die kompetisie is mettertyd in drie afdelings aangebied en woorde het deur die jaar ingestroom," sê mnr. Grobler. Volgens mnr. Frans van Niekerk, mede-koördineerder, is die oorgrote meerderheid woorde en uitdrukkings deur leerlinge gedoen. "Al word dit nie algemene omgangstaal nie, is die skoliere só bewus gemaak van die rekbaarheid en onuitputlikheid van Afrikaans. Woorde soos grootjiegrot (granny flat) is ook juis gekies omdat daar nog nie goeie vertalings is nie … En as jy nog steeds nie die koorsmooi (stunning) eerste paragraaf kon uitwerk nie, hier volg dit in huidige "Afrikaans": "As 'n backseat driver jou 'n bad mood gee en jy voel jy word te veel rondgeshunt, moenie worry nie. Drink net 'n halfjack en dink aan vanaand se blind date. Jy het mos nie sulke stirrers nodig nie." (Uittreksel uit die Beeld van 30 Januarie 1997) Laat hierdie koerantuittreksel jou nie ook dink aan Engelse woorde en uitdrukkings wat so algemeen in Afrikaans gebruik word en eintlik skreeu vir 'n behoorlike Afrikaanse vertaling nie? Laat weet vir ons van sulke woorde met of sonder voorstelle vir 'n Afrikaanse vertaling. Ons plaas die woorde en kyk of ons kreatiewe, werkbare terme daarvoor kan kry. Krit
Krit is 'n Literêre gespreksgroep wat ongeveer ses keer in 'n jaar vergader en oor nuwe Afrikaanse boeke gesels. In 1997 gaan daar nog twee gesprekke plaasvind: Vir my klein kandas, wat ver is
Die wind wat waai op Naroegas Laat ons van jou hoor! Stuur vir ons jou naam en adres sodat dit op ons sirkulasielys kan verskyn. Kom ons kry nou ook 'n naam vir hierdie geskrif sodat die tweede uitgawe nie weer so skandelik naamloos kan verskyn nie. Die beste voorstel sal tien gratis eksemplare verdien! Tot volgende keer
In hierdie pragtige Septembermaand groet ek julle terwyl dit buite sous … nie drup-drup-drup nie, sous! In hierdie land het ons mense mos hoeka geleer om ons nie aan weerprofete te steur nie - hulle is soms erger as Jobstroosters. Ek glo dat die bydraes van my mede-Afrikaanssprekendes ook in oorvloed sal instroom!
|
|
Volgende Uitgawe |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
|
|
|
|