KATUTURA!
deur Petrus Haakskeen
Ons wil hier bly Baas
ons wil nie daar gaan bly nie
ons wil hier bly innie ou lokasie
nie daar by daarie kartonbokse nie
Aikôna, tatsé, nante nante, matja katutura
Julle het ons hier kom kry Baas
hier op ons vaderland
by die grafte vannie voorvaders
nou wil julle ons wegneem
doer na die berge toe
Aikôna, tatsé, nante nante, matja katutura
Nee - nee, nou praat jy eskreta Baas
jy kan vir ons nie by force hier wegvat nie
ons behoort hier
ons was lankal hier
toe jy vannie unie gekom het
nou wil jy hê ons moet gaan
Aikôna, tatsé, nante nante, matja katutura
Maar my goeie genade Baas
waar kom jy daaraan
dat jy vir ons swart mense hier verwyder
om jou wit mense hier te vestig
om op ons swart land te loop
met hul wit voet
en ons swart voorvader grafte weg te grou
met hul wit hand
dit sal die dag wees
Aikôna, tatsé, nante nante, matja katutura
Bull dozer, watse goed praat jy Baas
moenie my wegstoot nie
haai! julle daar! los my pondok uit!
moenie die goed breek nie man, bleksam!
en los jy my uit! jou vark
Haai! wie skiet gewere daar
waarom huil die kinders
hoekom skree die vroue
waantoe hardloop die manne
hoekom laai julle onse goed oppie lorries!
haai! Twaa!
Einaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaahhhh!
Aikôna,
tatsés, tsîna,
Nante nante,
Matja Katutura