In die Kamer Langsaan...

deur Anna-Marie Steenkamp

Willem het in die kamer langsaan gebly. Op sy beste – en slegste – was Willem ’n eienaardige man. Maar talentvol. Hy was vaardig met ’n pen en ’n mes – twee van die mens se kragtigste wapens.

Die koshuispa het nie omgegee as die manne hulle kamers herversier nie, net solank die mure weer netjies wit was as hulle daar uittrek. Willem het sy kamermure pikgitswart geverf en oral in goue Gotiese letters spreuke van Nietzsche geverf. Net om die atmosfeer te versterk, het hy ’n flou lig aangeskakel en wierook gebrand.

Sy medestudente was bang vir Willem. Hy het dit geniet, want hy het daarvan gehou om, soos hy daaroor gedink het, respek by die manne af te dwing. Om verder respek af te dwing, het hy met ’n uitdrukkinglose gesig rondgeloop. Dit het hom die etiket psigopaat om die nek laat kry. Dit het só gebeur …

Willem sit dié dag op sy bed met ’n mes en speel. Hy is baie vaardig daarmee sodat die mes presies doen wat hy wil hê dit moet doen. Hy kry nóóit ’n ongeluk daarmee nie. Willem en sy beste vriend sit en "filosofeer" toe Frans daar aankom.

Willem trek sy gesig dadelik so dat dit op "uitdrukkingloos" staan. Frans is heel vrolik en tik-tik so aan Willem se arm. Willem vervies hom. Van die getik-tik deur die ventjie met die hoë stemmetjie hou hy niks. "Frans, hou op," waarsku hy, maar Frans tik-tik hom weer so. Willem vererg hom verder. Hy trek los met die mes en raps Frans so teen sy arm. Frans skrik hom boeglam. "Kyk hier!" sê hy ontsteld toe hy die skraap op sy arm sien.

Frans warrel by die kamer uit. "Die vent is mal," dink hy ontstoke. Toe hy by die telefoon verbydraf, kry hy ’n idee. Hy kom gelukkig met die eerste probeerslag na sy psigiaterpa toe deur. "Pa! Pa!" gaan hy uitasem te kere, "Pa, hier’s ’n mal ou in die koshuis. Sowaar as vet, Pa, hy’s ’n psigopaat! Ek sal op my kop staan dat hy ’n psigopaat is!" Frans vertel in die fynste besonderhede vir sy pa van Willem: sy kamer, sy optrede … "Klink vir my soos ’n psigopaat," is die psigiaterpa se uitspraak .

Dit kom by Willem uit dat Frans dink hy is ’n psigopaat en die storie versprei onder almal in die koshuis. Dié storie pas Willem uitstekend. Tog te lekker as almal so padgee as hy die gang afstap of ’n sitplek in die oorvol sitkamer soek. Hy konsentreer daarop om te reageer soos ’n tipiese psigopaat. Hy weet presies hoe dit is, want ’n ander eienaardigheid van Willem is dat hy sielkundehandboeke vir tydkorting lees. Wat dié indruk nog verder versterk, is Willem se musieksmaak, want hy luister óf na heavy metal óf na Wagner. Dit laat sy koshuisgenote besluit dat Willem by redding verby is. Net sy beste vriend weet dat Willem eintlik ’n gawe ou is met wie niks skort nie.

Willem se plan verloop goed totdat "die kleintjie" op die toneel verskyn. Santie is klein en fyn en blond, en in háár kom Willem sy moses teen. Nie lank nie, of Willem is so verlief dat hy nie weet wie hy is, waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. Hy vertel heel ernstig vir sy vriend dat hy "vreeslik lief vir die ou kleintjie" is.

"Jy besef natuurlik dat jou psigopaatstorie nou in sy kanon is, want psigopate is nie in staat tot emosie nie. Hulle kan dus nie verlief raak nie."

Willem het sy keuse gemaak: sy uitdrukkinglose voorkoms is verruil vir ’n ewig-skaapagtige voorkoms. Frans het sy "respek" en vrees vir Willem verloor. Ja – so het Willem (en vele helde vóór en ná hom) geval …




Na Hoor-Hier! Tuisblad