|
HOOR-HIER! KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS September 1998: 12 Redaktrise: Susan Alexander
|
|
DAGSÊ VRIENDE |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
Ek kry ’n heerlike briefie van Petrus Haakskeen (van wie ons al ’n "diggie" geplaas het). Hy betitel homself as : ’n Heel-hartige Hoor-Hier Heer van Windhoek. Hy skryf: Hoor Hier, Susan, hierdie Hoor-Hier koerantjie van jou is mos ’n aangename plesiertjie... ek dink dat die blaadjie waarlik nog diep spore in die toekoms gaan trap. As ’n tweedetaalspreker van Afrikaans (my moedertaal is Damara) dink ek dat soortgelyke ondernemings soos dié Hoor-Hier van jou vir die Afrikaanse taal ’n groot deurbraak tot vooruitgang is. Jy sê dat die blaadjie binnekort ’n jaartjie gaan omslaan. Ek ondersteun jou voorstel dat dit ’n nuwe gesig moet kry. Ek sou ook voorstel dat dit nog ’n blaadjie as ’n geskenk moet bykry, want alhoewel die blaadjie so aangenaam is om te lees, is dit ’n bietjie suinig met die inhoud. Mens dink jy het begin lees, maar dan is jy lankal klaar. Wel, veels geluk vir Hoor-Hier en mag hy, of sy, lank lewe. (Terloops, wat is hierdie leesdingetjie? ’n koerantjie, ’n blaadjie, nuusbriefie of sommer net ’n Hoor-Hiertjie?) (Beste Petrus - jou briefie en bydrae (wat in hierdie uitgawe verskyn) is die beste verjaarsdagpresent wat hierdie eenjarige blaadjie kon kry. Nee – ek weet ook nie of dit ’n blaadjie, briefie, notatjie in Afrikaans of wat-ook-al is nie... dit maak ook seker nie regtig saak nie: solank dit net plesier verskaf aan elke Afrikaanse leser wat dit onder oë kry. Baie dankie vir jou lojale ondersteuning. Ek hoor graag weer van jou. In die toekoms sal ek weer van jou "diggies" plaas. Die omvang van die Hoor-Hier sal groei saam met die bydraes wat ek van die lesers ontvang! Red.) Klik hier om Petrus se bydrae te lees: My Oupa en Ouma se Afrikaanse Tierlantyntjies. Ek kerm verder al geruime tyd dat ’n vriendin van my - wat met haar gesin na Kanada geëmmigreer het – ’n bydrae vir die Hoor-Hier! moet stuur. Sy skryf uiteindelik ’n gedig. Sy skryf by die gedig: Sê maar dit gaan oor die disoriëntasie van uitgelewer te wees aan ’n vreemde wêreld. Baie dankie Emsie. Jy het my hart warm gemaak met jou woorde.
Soos belowe in die vorige uitgawe, plaas ek graag ’n mooie storietjie wat Pieter Pieterse daar vanaf Stompneusbaai vir my gestuur het: Buurvrou Sumanda koop die materiaal waarmee sy haar portretrame maak by Heilie se skilderyplek in die Kaap.
(Dankie Pieter. Lekker weer daar by Stompneusbaai onder die voortent! Red.) |
|
KRIT 1998 |
|
In die twee Kritbesprekings wat daar nog oor is, bespreek ons: WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT |
|
Dis middernag en slaaptyd. Maar wie kan slaap met die reën wat so kisa op die sinkdak? Van vroegaand af al sit ek en luister na die geruis teen die ruite, die borrelende geute in die wind en gerammel van weer bo iewers in die donker. Ek is mos sentimenteel. Ek kan nie slaap as dit reën nie. Ek is soos my pa wat altyd geglo het ’n mens sit regop as die weer swaar is. Uit respek. Die dag was soos ’n oond, so bedompig. Die son was ’n beneukte bal vuur. Bitterbek en Pompies, my twee eseldonkies, het stowwerig en verlep in ’n maer koeltetjie staan en vlieë waai. Ons het kort-kort die lug bespied en wolke gesoek, maar daar was niks. Eers namiddag het die lou wind ’n ietsie oor die berg begin stoot. Ons het draad gespan en in die bloedige hitte het ek myself belowe vanaand sien daardie kooi my sommer gou-gou. Maar nou is dit middernag en ek sit by die kombuistafel tussen twee kerse en ek voel soos Dawid wat ’n psalm wil skryf... Uit: ’n Reënpsalm deur Chris Barnard LAAT ONS VAN JOU HOOR! |
|
Groete tot volgende keer.
|
|
My Oupa en Ouma se Afrikaanse Tierlantyntjies
|
|
Volgende Uitgawe |
|
Vorige Uitgawe |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
|
|
|
|