|
My Oupa en Ouma se Afrikaanse Tierlantyntjies deur Petrus Haakskeen My ouma en oupa hou van die Afrikaanse taal. Ook maar tweedetaalsprekers daarvan, was hulle nou nie so gelukkig soos ek om Afrikaans op skool te leer nie. Hulle het dit sommer so in die werk – dis nou plaaswerk, huiswerk, stukwerk, loswerk by die witmense (soos my oupa sou sê) geleer. Eerstens, my oupa het van Afrikaans gehou omdat hy lekker daarin kon vloek. (Terloops: dis wat Afrikaans is – ’n lekker vloektaal). Ek praat nou nie van vloek in die ware sin van die woord nie, maar eintlik iemand soort van beledig of sommer sleg sê. En daarvan het my oupa gehou. Hy het dit vreeslik geniet om vir ’n ander iets te sê, en as dit nog in Afrikaans is, soveel meer te lekker! Vir ’n goeie rede, slegte rede of selfs vir geen rede kon my oupa enige iemand ter woord bykom en sommer kwaai ook. Ek persoonlik, as sy kleinseun wat hy grootgemaak het, het baie onder deur sy vloeke geloop. As ’n kind was my neus heelwat plat en altyd vuil. Kom hier! jou vuil, plat snorkneusding soos ’n ou skaapooi! het hy my altyd geroep. Een van sy vriende het mank geloop en altyd vriendelik gegroet as hy by Oupa se huis verby loop. Moro! jou mank hanggat mal ding! het Oupa altyd terug gegroet ten spyte van die vriendelikheid. My sustertjie was taamlik maer en het daarvan gehou om met die oupa se pyp te speel. Bring daai pyp hier, jou verhongerde, maer teef! Selfs my ouma wat altyd gepraat het oor sy gevloekery het onder Oupa se vloektong deurgeloop. Aai! los my uit! jou vervloekte duiwel se dooie ding! is wat hy my ouma soms gesê het. Wel, ek kan nog voortgaan, maar dit sal al hoe erger raak. So, laat ek maar my oupa nou met rus laat anders word ons almal nou gevloek. Behalwe die vloekery was my oupa wel ’n goeie mens van wie almal gehou het. Nou my ouma … sy hou ook van die Afrikaanse taal, maar snaaks genoeg dat sy eintlik haar eie Afrikaanse dialek het wat net deur haar gepraat word. Ek het al probeer rond hoor of ek nie ’n ander kon hoor wat my ouma se dialek deel nie, maar sonder sukses. My ouma praat byvoorbeeld altyd van soekor, en as dit nog wit is, is dit bit soekor. Ek weet nie so mooi wat van my ouma se w geword het nie. As jy haar vra of sy iets weet, dan beet sy dit of soms sê sy dat dit dit nie beettie. En as sy geheel en al nie iets weet nie, dan sê sy eerlik: ek beet geling en allie. My ouma raak ook nooit honger nie, sy raak houngor. Sy waarsku ook vir ons teen die dodelike vigsvirus wat sy sommer peps noem. My ouma het ook in haar lewe baie gesokkel, om nie te praat van kenners grootmaak, die tjerk werk en alle tjerk kôfrêsies wat sy moes bywoon as ’n christelike vrou wat selfs ook ’n oudly, dis nou ouderling, is. Hoe sy daaraan gekom het, weet ’n mens nie, maar my ouma hou ook van die woord hanakam. Wat dit nou eintlik beteken, weet ’n mens nie, maar jy kan my ouma soms hoor sê: Ek moes hanakam my rook gestryk het. Hoekom die rook hanakam gestryk moes word, beet net sy. Wel, hoe dit ook al sy, my ouma kan Afrikaans praat en as sy eers begin te praat, is daar geen keer nie. Jy kan maar bybly oftewel agterbly met die volg, sy traak nie, sy laat waai net. Want sy geniet haar Afrikaans. Op die ou end as sy dankie moet sê, dan is dit: Ek is dankie of selfs: ek is baie dankie. Wel, ons kan nog baie praat oor my ouma se taal, maar ek is bang my ouma gaan hiervan te bete kom, en dan is die gort gaar! |
|
Na Hoor-Hier! Tuisblad |