|
HOOR-HIER! KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS Oktober 1998: 13 Redaktrise: Susan Alexander
(Illustrasie met erkenning aan publisiteitsbeamptes van die kabaret: |
|
DAGSÊ VRIENDE |
|
E-pos-vriend Gerrie de Beer van Die Knoop-faam (op die Internet) het my gehelp om ’n tuisblad vir Hoor-Hier! te skep (as deel van die blaadjie se verjaarsdagviering!). So is nr. 12 al daar beskikbaar. (BAIE dankie Gerrie!) Die vorige uitgawes van die blaadjie gaan waarskynlik ook mettertyd daar te lese wees. Die Internetadres: http://www.pro.co.za/hoorhier Na aanleiding van hierdie mylpaal in die kort lewe van ons blaadjie, kry ek die volgende gelukwensing van vriend Johan Loubser van die Nasionale Biblioteek in Windhoek: Van die NBC luggolwe via die Visriviercanyon se klippe na die kuberruimte en dit als in een jaar... waar gaan dit eindig? Baie geluk en ek hoop niemand kry dit reg om jou te anker nie! (Vir die lesers: Ek praat nou en dan oor Afrikaanse boeke oor die NBC – ons nasionale radiodiens – en ek het onlangs saam met vier ander vriendinne en ons kinders die vyf-dae-staptog in die Visrivier aangepak; vandaar Johan se opmerkings. Baie dankie vir jou mooi woorde, Johan. Sjoe! ek hoop ek behou my energie. Krag, waar is jou einde! Red) Ek kry ’n lekker storie uit "die goeie ou tyd" van Ouma Elsie in Windhoek. Sy skryf: Ek wil darem ook ’n stuiwer in die armbeurs gooi. My ouma Du Toit het ’n baie groot huis gehad op Hopetown daar in die Groot-Karoo waar ek grootgeword het. Daar het heelwat skoolkinders, wat op plase gebly het, by haar loseer. Elke aand na ete was daar boeke gevat soos dit nog die gewoonte was in die "goeie ou tyd". Die aand net voor die ete het my pa vir die kinders vertel van die 1899-oorlog tussen die Boere en die Engelse. Die einste aand lees hy toe uit die Bybel hoe Moses en die Israeliete deur die Rooisee getrek het; maar glo my, toe hulle by die Rooisee kom, toe trek die Engelse deur! Soos te verstane, was daar ’n gegiggel. My pa het net oor sy bril geloer en ons kwaai aangespreek. Hy staan toe weer by die Rooisee en sowaar, daar trek die Engelse vir die tweede keer deur! Nou was die koeël deur die kerk. Almal het geskree soos hulle lag. Selfs my ouma, ’n baie waardige ou dame, het so onderlangs geglimlag. Toe my pa baie vererg so om die tafel kyk, sê een van die seuns: "Maar oom Gawie, Oom laat dan elke keer die Engelse deur die Rooisee trek! My pa het maar die Bybel toegemaak en self heerlik begin lag oor die flater wat hy begaan het. Tannie Marie D’Alton van wie ons al ’n paar keer gehoor het, skryf dat sy op haar oudag die stryd met die rekenaar aangeknoop het: Ralda Goosen-Jacobs skryf uit Okahandja:
"Vir skryf het ek nie belowe nie, maar toe ek van Pieter Pieterse in Hoor-Hier! nr. 11 lees, het ek dadelik na die pen gegryp. Pieter het my seun se laaste twee lewensjare gedeel (aai, hoe beny ek hom!) en ’n Bospa (sy eie woord) vir hom gewees voor hy in die Noorde verongeluk het. Pieter het na die tyd die wonderlikste getuigskrif oor my seun aan my gestuur – geskryf op ’n manier soos net hy dit kan doen – dankie Pieter." |
|
KRIT 1998 |
||||||||||||
|
By die laaste Kritgeleentheid van die jaar op 27 Oktober, word Landskap met vroue en slang deur Lettie Viljoen bespreek. |
||||||||||||
|
OULAP-STORIES Daar’s ’n nuwe manier van publiseer vir aspirant-skrywers in Namibië: skryf ’n Oulap-storie... Hierdie is die naam van ’n storiepamflet-reeks wat pas begin is. ’n A4-bladsy word volgeskryf. Dit kry ’n nommer. Dit kan ook ’n prentjie kry. Die bladsy word gelamineer en siedaar: ’n Vetkol- en frommel-bestande storiepamflet vir die vreugde van almal wat graag lees – veral ook vir ons kindertjies… Hierdie is tegelyk ’n nuwe manier van adverteer: Regs bo aan die pamflet is ’n blokkie wat sê Geborg deur/geborg vir... Pragtige bydraes is al gemaak. Oulap-storie no. 15 is van die Kavango-dogtertjie Chimbumbura wat agtien jaar gelede ’n krokodil-aanval oorleef het. Rustig vertel Ellen Strauss die gebeure en vul dit in met beskrywings van die omgewing en die leefwyse van die mense vir wie die gevreesde ngandu, die groot krokodil, ’n daaglikse werklikheid is. Ongesofistikeerde vertellings wat bietjie snaaks, bietjie hartseer, maar baie Namibies is sal waardeer word. Dit is wonderlik om te kan publiseer en hierdie storiepamflette maak dit moontlik. Van die eerste pamflette is versprei onder skoolkinders vir die landswye Namibiese leesmarathon. ’n Volgende reeks is al aangebied aan kinders in hospitale. Bydraes kan ge-e-pos word aan annatjie@iafrica.com.na of gepos word aan Annatjie Louw, Posbus 9188, Windhoek. Op hierdie stadium is dit ’n liefdeswerk en bydraes moet asseblief in hierdie lig gesien word... |
||||||||||||
|
DIE AFRIKAANSE TAALVERENIGING VAN NAMIBIË |
||||||||||||
|
Die ATVN is op 16 Julie 1994 in die lewe geroep met die doel om aktiwiteite in en oor Afrikaans te inisieer. Akademiese en minder akademiese geleenthede het al sedert hul stigting plaasgevind, onder meer dinees en ’n boekeveiling, ’n skrywersaand, musiekkonserte, skryfskole. EN NOU!: In samewerking met die Afdeling Afrikaans en die Departement Uitvoerende Kunste van UNAM, bring die ATVN twee Klein Karoo Kunstefees produksies Windhoek toe.
Belangstellendes kan skakel met Leona Compion by telefoon 081 124 5019 of Chrisna Beuke-Muir by 20638610 of met Susan Alexander by 235757. Die jaarvergadering van die ATVN
|
||||||||||||
|
WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT |
||||||||||||
|
O Here van hemel en aarde, ons dank U vir die ryke belofte van somer; vir sondeurdrenkte skoonheid wat ons elke dag toelag; vir somer en son en saffier! Die graan sal geryp word en daar sal brood wees vir die hongeriges. Gee aan ons die lewensbrood, o Here. Daar is blydskap in die natuur en die voëls sing lofgesange tot U eer! Laat ons, die kroon van u skepping, ons verbly in die Here! (Uittreksel uit ’n Oktobergebed deur Solly Ozrovech) LAAT ONS VAN JOU HOOR! |
||||||||||||
|
Groete tot volgende keer.
|
|
Volgende Uitgawe |
|
Vorige Uitgawe |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
|
|
|
|