HOOR-HIER!

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

November 1998: 14

Redaktrise: Susan Alexander

 

Telefoon tuis: 235757 in Windhoek
Faks: 212169 Windhoek
Posbus 9677 WINDHOEK
E-pos:  
susanalexander@mweb.com.na
Web-adres: http://www.pro.co.za/hoorhier

 


 

BELANGRIKE AANKONDIGING!

Die volgende opwindende nuus het op 30 Oktober 1998 in die Afrikaanse dagblad, Republikein, in Namibië verskyn:

Geskiedenis is Woensdagaand op die gebied van die Afrikaanse taal in Namibië gemaak toe die Windhoekse Gesinstak van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereninging (ATKV) sy eerste ATKV Pluimpie (veer)-toekennings gemaak het. Die spog-geleentheid in ‘n hotel in Windhoek is deur sowat 155 mense bygewoon onder wie mnr. John Mutorwa, Minister van Basiese Onderwys en Kultuur, as een van die eregaste.
Hierdie eerste poging van die ATKV sal voortaan ‘n jaarlikse instelling word met die doel om erkenning te gee aan die gebruik van Afrikaans op verskeie terreine in die land. Bydraes in nege kategorieë was gefynkam deur ‘n span beoordelaars onder leiding van Madelet du Plessis, wenner van die Suid-Afrikaanse Pendoring-toekenning se kategorie Advertensies. Finaliste in elke kategorie het ‘n sertifikaat gekry terwyl die wenner onder die finaliste met ‘n trofee beloon is.
Die wenners in die verskillende kategorieë is: Skrywers: Piet van Rooyen vir sy boek Olifantjagters; Liriekskrywers: Doc Immelman vir Boesmankrale van Tsumkwe; Digters: Kobus Lombaard; Joernaliste: Errol Hurter vir sy bydrae oor Geloftedag; Omroepers: Paul Brits vir sy hoorbeeld Kersure tussen grou mure; Kunstenaars: Loraine Husselman vir haar laserskyf My land, Namibië; Publikasies: Susan Alexander vir Hoor-Hier!; Advertensies: Ou Mutual; Organisasies: Die Afrikaanse Diens van die NBC vir sy bekendstelling van Langstrand.
Volgens die voorsitter van die ATKV in Namibië, mnr. Neville Neveling, sal die kompetisie van volgende jaar verskeie subkategorieë insluit ten einde ‘n beter strukturering daar te stel. Belangstelling in die kompetisie is egter oorweldigend en die ATKV-bestuurslede was oorval met navrae oor hoe te werk gegaan moet word om volgende jaar deel te neem. Afrikaans in Namibië is nie dood nie! (Uittreksel uit ‘n berig in die Republikein van Vrydag, 30 Oktober 1998)

(Wat kan ek sê? Baie dankie vir elke Hoor-Hier!-leser wat so getrou ons blaadjie ondersteun het met bydraes en positiewe kommentaar. Baie dankie vir Gerrie de Beer wat ‘n webruimte vir my geskep het en al die blaadjies op Internet beskikbaar stel. Red.)


DAGSÊ VRIENDE (Uiteindelik!)

Ek kry via Pieter Pieterse wat lekker daar onder sy voortent op Stompneusbaai sit, die naam en adres van Piet van As van Kraaifontein. Ek stuur toe vir Piet ‘n Hoor-Hier en kry ‘n briefie in heerlik sappige Afrikaans. Ek deel graag ‘n stukkie van die briefie met julle:

Dankie vir die geselsblaadjie oor mense wat daar in Namibië nog hul ding in Afrikaans doen… Ek het jare terug mooi tye in daardie wonderlike land van julle gehad en baie goeie mense leer ken en ervaar, maar met my jare op see het my spore daar so te sê toegewaai. Tog kan ek nie anders as om vir ‘n ordentlike vuur, kameeldoring te gebruik nie en sal ek vér loop vir die regte bier. Ry ons nou een dag nog die hele pad op Stompneusbaai toe om by Pieter-hulle ‘n Hentiesbaaigaljoen te gaan verslind. Dit het darem nie net oor die galjoen gegaan nie, want by Pieter sal ek ‘n kraai ook eet. Skilpad ook.

Jammer dat ek nie ‘n bydrae tot julle Hoor-Hier kan maak nie. Daarvoor is hierdie tikding van my te oud en lamlendig en is ek te streekgebonde. My hele groot verlang en denke is vir die Strandveld. Daardie wonderlike stuk kuswêreld tussen Gansbaai en die Breederivier waar elke tweede mens familie kan wees en waar strepe vóórmense elkeen onder sy eie hopie begrawe lê. Kla my Marie as ek vier ure of meer Struisbaai toe ry, maar hoe kan dit dan anders as daar by elke plaasafdraai ingery moet word? Kan ‘n mens ook nie net groet en weer jou ry kry nie, want daar moet oor die hele klomp familiemense verslag gedoen word en is dit oor etenstyd, kan so ‘n afdraai langerig word. Mis jy in jou haastigheid ‘n iemand se hek, kan jy vir ‘n paar maande kwalik geneem word …

Daar vergeet ek myself al weer ‘n ander koers in …

(Dankie vir die brief Piet. Ons gee nie om vir ou tikmasjiene en streekgebonde mense nie … solank daardie mense net hierdie lekker taal van ons praat. Ek kry briewe uit Kanada, Amsterdam en Loeriesfontein. Skryf gerus weer eendag as jy jouself so in ‘n ander koers in vergeet! O ja – ons vertel later die storie van die skilpadetery! Red.)


KRIT 1998

By die laaste Krit van 1998 is Landskap met Vroue en ‘n slang deur Lettie Viljoen bespreek. Daar is ook tentatief op ‘n klompie tekste vir 1999 besluit. Dit sluit onder meer in: Die Groot Vyf deur Johann Botha; Die gordel van Smarag deur Elsa Joubert; Op soek na Generaal Mannetjies Mentz deur Chris Coetzee; Die Sagte Vlees deur Vincent Oliphant; Ek stamel ek sterwe deur Eben Venter; Duiwelskloof deur André P. Brink.

Enige persoon wat belangstel om te deel in hierdie literêre gesprek, kan skakel met Susan Alexander (inligting op voorblad).


WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT

Here van die dag, Here van die nag,
ons sien rondom ons hoe die jaar na sy einde spoed.
So baie om te doen; so min is gedoen!
Help my om dié deel van die jaar wat nog oorbly maksimaal te benut:
om elke geleentheid wat U op my pad stuur ten beste te gebruik.
Dis die tyd van die jaar om verantwoording te doen, o Meester.
Kinders en studente lê belangrike eksamens af.
Hulle weet dat hulle U nodig het. U Woord leer ons:
"As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid …"
Sterk hulle na liggaam en verstand.
Dankie vir dierbares wat hulle getrou ondersteun en vir hulle bid.
Ons bid ook in liefde vir hulle wat oud geword het.
Dankie vir die rypheid wat jare van ervaring meebring;
Vir rustigheid en vrede ná die storm en drang van die lewe;
vir wysheid en besonkenheid ná die soektog.
Vernuwe my gees wanneer my liggaamskragte kwyn.
Dit bid ons in die Naam van alle name: Jesus Christus.

(Uit Solly Ozrovech se Novembergebed in Van dag tot dag deur God gedra)

LIEFDE

Dig, my meisie, dig
dig ‘n deuntjie, ‘n sinnetjie of twee
of dalk drie, seker maar vier of meer
dig en sê hoe jy oor my voel
vanaf die vroeë klam oggenddou
die goue sonsopkoms
die silwer oggendure
deur die diamant middaguur
die brons namiddag-ure
die koper sonsondergang
die brieserige koel skimmernag
tot die donkere aand jou in slaap ontvoer
Dig, meidjie, dig
ek’s baie lief vir jou …
en jy vir my?
Dig nonnatjie dig!

SO 'N WILLE RAAD

Haai! my vriend, watch up
Aids is nou innie town en hy wil murder.
Kykie, as jy jou onnie uittrek,
trek somma ‘n kondoom aan
verstâ jy, my broer
hulle sê ‘n wyse vegter bly tenvolle geweapon
maa ek sê jou, ‘n wyse vryer bly tenvolle gekondoom!

(Albei verse deur Petrus Haakskeen in ‘n ongepubliseerde bundel: Sommer so ‘n bietjie van Alles)

LAAT ONS VAN JOU HOOR!

Groete tot Kersfeesmaand.

 


Volgende Uitgawe
Vorige Uitgawe
Tuisblad
Gasteboek

 

Die Knoop: Honderde Afrikaanse Bestemmings! Afrikaans oppie Net Afriklub