|
HOOR-HIER! KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS Januarie 1999: 16
|
|
DAGSÊ VRIENDE |
||||
|
Mag hierdie nuwe jaar mooi dinge vir julle inhou. Benut elke geleentheid wat vir julle gegee word. Anna M. Louw het gesê: 'n Mens sondig nie net met die dinge wat jy doen nie, 'n mens sondig ook met die dinge wat jy ongedaan laat … en die dinge wat jy ongesê laat.
|
||||
|
LESERSBRIEWE |
||||
|
Ek kry 'n lekker briefie van ouma Elsie van Windhoek. Sy vertel 'n staaltjie uit haar kinderjare: Vandag gril ek as ek dink watter onheilige dinge 'n kind soms kan aanvang. As kind het ek baie skoolvakansies saam met my niggie - wat ook op Hopetown op skool was - na hulle plaas gegaan. Die veld was ons speelplek waar ons ook dolosse opgetel het om mee "klip-klip" te speel. So het ons eendag in die veld twee skilpadjies gekry wat ons huis toe geneem het. Dit was juis die dag dat my tannie brood gebak het. Die brood was toe pas in die oond gesteek. Ons moes toe natuurlik ons skilpaaie ook in die oond sit - gebakte skilpad het baie aanloklik geklink! Toe my tannie na 'n uur of wat die brood gaan uithaal, sit die twee skillies bo-op die brood - gaar gebak. Ek sal maar die gordyn laat sak oor dit wat daarna met ons twee gebeur het! (Gelukkig dat die wysheid met die ouderdom toeneem! Red.)
|
||||
|
WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT |
||||
|
'n Digbundel wat my al die jare steeds aanspreek met die aardsheid en ongekunsteldheid van die verse, is Donald W. Riekert se Wensbeen. Ek deel graag met ons lesers 'n gedig wat praat van die mens se afhanklikheid van God. Ek glo dat die Namibiërs hierdie taal goed verstaan:
|
||||
|
LESERSBRIEWE |
||||
|
Neville Neveling, bekende omroeper by die Afrikaanse Diens van die NBC skryf die volgende gedagtes oor inisiatiewe wat in Afrikaans plaasvind: Ton Luiting en Roger Wastijn het per geleentheid 'n bundel getiteld: Ik heb het woord gezocht, saamgestel. In hierdie bundel skryf vyftig digters vanoor die hele wêreld van die stryd om die juiste woord te vind. In die bundel vind ons pragtige gedigte van twee Namibiërs: Doc Immelman en Kobus Lombaard. Wat my getref het is dat nie een van hierdie digters al ooit eie digbundels die lig laat sien het nie. In dieselfde asem kan ek Namibiese kunstenaars noem wat besig is om opgang te maak met die Afrikaanse lied, naamlik Loraine Husselman en Wilmarie Rautenbach. Hulle sing liedere wat deur Namibiese woordkunstenaars soos Betsie van Wyk, Ia van Zyl, ene Poolman en Doc Immelman geskryf is. In die werk wat ek doen, het ek navraag gedoen waarom daar so min gehoor word uit die ryke bron van talentvolle mense. Die antwoord het my laat besef dat daar nie 'n tekort aan probeerslae van die onderskeie persone is nie, maar dat die uitgewers nie hierdie soort gedigte wil publiseer nie. Dis kwansuis te outyds, nie resent genoeg nie - maar dis mooi gedagtes van ons land en dit spreek tot ons mense. Ek was verwonderd en ook bly om uit te vind dat daar mense is wat wel die moed gehad het om self te publiseer en self 'n kompakskyf op te neem. Connie Zondagh het nou al 'n hele paar boeke self laat druk, bind en versprei. Loraine Husselman het 'n prag-kompakskyf, getiteld, My Land Namibië opgeneem. Dankie vir die geloof wat die twee mense in hulself en hul landgenote gehad het om die waagmoedige stap te neem! Hierdie pragtige inisiatiewe laat my dink dat dit net moontlik kan wees dat ons 'n oplewing in Afrikaanse kuns beleef. Ek hoop dit is so! (Neville - baie dankie vir jou bydrae en volgehoue betrokkenheid by Afrikaans! Red.) Ek kry 'n baie interessante bydrae van Ia van Zyl waarin sy onder meer verwys na 'n berig wat in die Time van 16 November 1998 verskyn het. Onafhanklik van haar bydrae, kry ek net daarna 'n faks van Barry Steyn waar hy die einste berig, getiteld: Auf Wiedersehen, English vir my stuur! Dit was net insiggewend dat een berig verskeie mense tog so sterk kan aanspreek! Is dit belangrik dat 'n mens jou taal suiwer praat? Is die mengsel van Afrikaans en Engels wat deesdae dikwels vir Afrikaans deurgaan 'n simptoom van die algemene gebrek aan dissipline in 'n gemeenskap wat gekenmerk word deur morele verval en die verwerping van oorgelewerde waardes? Of is die "nuwe" soort Afrikaans bloot 'n gerieflike en praktiese manier om te kommunikeer, bevry van die "borsrok" van taalpurisme? Dié debat sal seker nog lank voortduur. In Namibië word ook na Namibiese Engels soms spottend verwys as Namlish. Nou lees ek in 'n onlangse uitgawe van Time dat dié debat tans ("op hierdie stadium tans" of "huidiglik" soos ek al meermale in "Afrikaans" oor die radio gehoor het - darem nie deur omroepers nie!) ook in Duitsland gevoer word. Daar praat die voorstanders van suiwer Duits - wie se getalle glo aan die groei is - van Denglisch om beswaar te maak teen die indringing van Engelse woorde in die Duitse taal. Daar word onder meer kapsie gemaak teen die gebruik van "kids" (pleks van "Kinder"), "fun" (pleks van "Spass") en "entertainment" (pleks van "Unterhaltung"). Daar bestaan nou al 'n Vereniging vir die Beskerming van die Duitse Taal ("Verein zur Wahrung der Deutschen Sprache") om dié verskynsel te beveg. Aan die ander kant is daar egter diegene wat sê die aantal Engelse woorde in die Duitse taal moet verwelkom word omdat daar nou vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom 'n lingua franca vir die hele wêreld. Dié soort ding sê een professor van Duitse letterkunde, is 'n natuurlike proses en kom ook in ander tale voor. Ons weet! (Dankie vir hierdie baie interessante klip in die bos, Ia. Is daar nie van ons lesers wat wil reageer nie? Red.)
|
||||
|
LAAT ONS VAN JOU HOOR! |
||||
|
Ek hoop dat van my getroue lesers het besluit dat een van hulle nuwejaarsvoornemens is om nou en dan 'n bydraetjie vir Hoor-Hier! te stuur. Groetnis tot volgende keer.
|
|
Vorige Uitgawe |
|
Volgende Uitgawe | |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
|
|
|
|