|
HOOR-HIER! KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS Februarie 1999: 17
|
|
DAGSÊ VRIENDE |
|||
|
Die tyd om te luier soos ons illustrasie hier suggereer, is helaas nou verby! Dit beteken egter nie dat daar nie steeds dinge is wat geniet kan word nie: die reuk van die grond as dit begin reën; die intieme saamwees met vriende en familie - kosbare momente met mens se kinders; lekker eet en lekker drink; stilsit buite as almal al slaap en mens het net die maan en sterre as geselskap! Behou entoesiasme en energie … ons gaan dit nodig hê in 1999!
(Ek plaas die illustrasie met erkenning aan Piet van As van Soetanys in Kraaifontein)
|
|||
|
LESERSBRIEWE |
|||
|
Tannie Marie Dalton skryf 'n heerlik sappige briefie met drie staaltjies oor osse. Ek deel graag een van die stories met ons lesers: Die volgende osstorie het voorgeval op Laersdrif. Boet Henri (wat saam met tannie Marie en hulle kleiner sussie as kinders altyd speletjies met die osse gespeel het) was nou die boer wat na die ploeëry moes omsien. Van die eerste keer as dat hy die os, Donkerberg, van 'n buurman gekoop het, het die halstarrige dier hom net probleme verskaf - veral as dit kom by die inspannery. Toevallig was ek en my man met ons eersteling daar om te kuier. My man het elke dag met die plaaswerk gehelp. Dag na dag het dit die twee manne, plus 'n gehuurde plaashulp, tot twee ure gevat om Donkerberg aan te keer. Teen die tyd dat daar ingespan is, kom die donderweer op en moet die ploeëry agterweë bly. Soos op een sekere dag. Terwyl hulle so agter die os aanhol, kom daar 'n swaar donderstorm op. Hulle wou net inspan, toe Henri noem dat hulle nie 'n voor geploeg sal hê voordat die storm losbars nie. Hy stuur toe maar solank sy swaer huis toe. Uit frustrasie met Donkerberg wat hulle soveel moeite gee, gee hy die os 'n harde skop met die woorde: "Ek wens jy vrek! Ek hoop die bliksem slaan jou dood." Op daardie oomblik - Henri wou net deur die draad klim - gly daar 'n blou vlam al langs die draad en tref die os 'n ent vorentoe: morsdood! Spierwit verskrik en met oë soos pierings kom Henri minute later by die huis ingehardloop. "Ek het nou net 'n dier doodgewens." (Wat 'n merkwaardig storie, tannie Marie! Ek het nou net gedink: as die os nie getref is nie, kon jou broer dit dalk ontgeld het! Red.) Ek kry 'n ander bydrae van vriendin Erina Junius : "My man het begin om sy van-genote van oor die hele wêreld deur middel van hul elektroniese posadresse op te spoor om sodoende te kommunikeer. Een van diesulkes reageer toe uit België en skryf onder andere as volg oor die Afrikaanse briefie wat hy ontvang het: "… ik hou van Afrikaanse teksten. Zij klink zo zappig, zo puur, zo oer-Nederlands. Bijvoorbeeld: Rekenaarwinkel - een prachtig woord. Hier in België en Nederland nemen we te snel Engelse woorden over, zeker als het gaat oor technologie-begrippen." Ons kan sekerlik dankbaar wees vir al die moeite van Suid-Afrikaanse kundiges om ook die tegnologie in Afrikaans 'n werklikheid te maak. Mag Hoor-Hier! 'n vrugbare en opwindende 1999 beleef! Sterkte vir die redaktrise. (Baie dankie, Erina! Red.) Op die Gasteboek van die Hoor-Hier op Internet kry ek die volgende bydrae uit Nederland van Joep Giling: Hallo, Ek was baie verras om vanaand so plotseling op 'n webblad van Afrikaans uit Namibië te kom. Ek sal seker gereeld kom loer wat daar verskijn. Die gediggies is pragtig! Ek het in die jare sewentig in Suidwes gewoon maar ek is al weer heel wat jare terug in Nederland. Ek dink nog baie kere aan die land. Eerdaags kom ek weer kuier! Miskien is daar nog mense wat mij ken en met my in Mariental (Danie Joubert Laerskool) of in Windhoek (Academia/ Jan Mohr of WHS) op skool het gesit? Ek sou graag met hulle gesels. Groete aan almal en ga so deur met die blad! (Dankie vir die bydrae, Joep. Indien ou vriende van Joep met hom wil skakel, kan u gerus met my kontak maak. Red.
Ek kry die volgende van 'n getroue Hoor-Hier-leser uit Nederland:
|
|||
|
WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT |
|||
|
Ek het in die hande van diewe verval: wat daarvan! Hulle het die son en die maan vir my laat staan, vuur en water, 'n vrou wat my liefhet en baie vriende wat vir my jammer is, en 'n paar wat my sal bystaan. En ek kan nog 'n gesprek voer; en, tensy ek dit toelaat, ontneem hulle my nie my vrolike gesig, my blymoedige gees en my goeie gewete nie. Die mens wat so baie redes tot vreugde het, en sulke gróót vreugdes, moet erg behep wees met droefgeestigheid en neulerigheid as hy al hierdie plesiere kwytraak en verkies om op sy handjievol dorings te bly sit.
|
|||
|
LAAT ONS VAN JOU HOOR! |
|||
|
Aangesien ons in hierdie maand ook vir ons geliefdes op 'n spesiale manier wil vertel hoeveel ons vir hulle omgee, sluit ek graag met 'n liefdesversie van Philip de Vos:
|
|
Vorige Uitgawe |
|
Volgende Uitgawe | |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
|
|
|
|