|
HOOR-HIER! KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS April 1999: 19
|
|
DAGSÊ VRIENDE |
|
|
Ek herinner my nog die kosbare briefies wat ek van oom Pieterse uit Walvisbaai gekry het. Hy vertel mos hoe rustig hy saans op sy balkonnetjie sit en sy rooiwyntjie drink terwyl hy die ondergaan van die son geniet. Ek kry toe onlangs 'n brief uit Suid-Afrika van ene Manus Hanekom wat ook besluit het dat hy rus en vrede soek. Hy skryf: By my staan die amandelboom reeds halfmas in die bloei, maar die sprinkaan spring nog sterk en die gees is soos die van 'n jeugdige. Jy sou my seker al 'n senior burger kon noem. Het besluit om die "rat race" vroeg te verlaat en my op 'n plasie digby Mosselbaai kom vestig om die sieledrang van elke Afrikaner (moet my tog net nie vra wat die jongste definisie van die term is nie) om 'n eie stukkie grond te besit te bevredig. Klippe kap ken ek, maar met boerdery het ek leer klippe kou en heel gou tot die gevolgtrekking gekom dat die diepste skag kan op 'n boereplaas geleë wees, 'n bodemlose put wat geld met groot teue sluk, amper soos Jona se vis.
(Ek verseker jou dat 99% van ons lesers jou beny... die klippe kou ten spyt! Ja, niemand het ooit gesê dat vrede en vreedsaamheid verniet is nie! Red.)
|
|
|
KRIT |
|
|
Ek herinner ons lesers aan die literêre gesprek op Dinsdag, 13 April om 19:30 by die kantore van Windhoek Consulting Engineers, Bismarckstraat 44.
Gordel van Smarag deur Elsa Joubert word bespreek. Navrae kan by Susan Alexander gedoen word.
|
|
|
ONTHOU VAN DIE NAMIBIES-AFRIKAANSE WOORDELYS |
|
|
In die vorige Hoor-Hier het Annatjie Louw 'n oproep op ons Afrikaanssprekende Namibiërs gedoen om tipies Namibiese woorde en uitdrukkings vir haar te laat kry vir 'n kompakte woordelys wat sy wil saamstel vir buitelandse toeriste wat graag iets van Afrikaans wil beleef terwyl hulle in ons land is.
Ek is seker die Hoor-Hier-lesers kan 'n kosbare bydrae lewer!
Die adres is Annatjie Louw, Bus 9188, Eros, Windhoek.
E-pos: annatjie@iafrica.com.na
|
|
|
BOODSKAPKAARTJIES IN AFRIKAANS |
|
|
Ek kry toe 'n oproep van mnr. Attie la Cock in Windhoek.
Hy het ál die maande die bekendstellingsberiggie wat in die koerant verskyn het oor die Hoor-Hier gehou.
Hy was ongelukkig baie siek en dit is nou die eerste keer dat hy met my kan kontak maak:
Het die Hoor-Hier toe oorleef?
En hoe gaan dit met my en met die blaadjie?
Mnr. La Cock vertel my toe van die Afrikaanse boodskapkaartjies wat hy self begin ontwerp het.
Ek gaan lê toe besoek af by sy huis en gaan daar weg met mooi voorbeelde van die kaartjies.
Mnr. La Cock noem sy hele projek:
Die Deelgenoot, want (so deel hy sy lesers mee in een van sy kaartjies):
Indien enige van ons Hoor-Hier-lesers meer wil uitvind oor die Afrikaanse Boodskapkaartjies, kan hulle skryf vir mnr. A.J. la Cock, Posbus 160, Windhoek of hom bel by 061 - 231004. |
|
|
WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT |
|
|
Ek deel graag met die lesers die slotparagrawe uit die lieflike roman, Hierdie lewe, deur Karel Schoeman. Die hoofkarakter lê van die aanvang van die roman op haar sterfbed. In haar gedagtes herleef sy momente uit haar lewe. Maar nou is sy gereed om te sterf: Ek wou nog opstaan om deur die slapende huis te beweeg, ek wou uitgaan om iets te soek, maar ook daardie verlange het oorgegaan, saam met die angs, saam met die herinnering, en alles het in die groot donker weggeval en is agtergelaat. Wat is daar waarna ek nog sou soek? Laat ander maar kom, ander mense eendag lank ná ons. Tussen die woekerende bossies waar die ystervarke hul gate gegrou het, sal hulle dalk stene vind waarvoor daar geen klaarblyklike verklaring is nie en die verweerde oorblyfsels van inskripsies wat nie meer verstaan of ontsyfer kan word nie: 'n enkele naam sal hulle miskien nog kan uitmaak of 'n jaartal, maar wie sal oor die betroubaarheid daarvan kan oordeel of kan sê waarop dit eens gedui het? Waar die opgestapelde stene van 'n ou muur uitmekaar geval het, tussen die struike en klippe en gras, sal geen mens ooit soek na die reste van hout en metaal wat eens daar verberg is nie, en selfs al sou iemand op splinters of skerwe afkom, wie sou dit nog kan uitken vir wat dit was, 'n kruis of 'n ring? die klippe wat hier opgepak was, breek weg en val uitmekaar, nie meer uitkenbaar nie tussen die klipplate, -banke en -rante in die vaal, lae landskap van steen. Is dit nie wonderlik dat mense met woorde tog kan regkry om getroos te word en te vertroos nie? Toe my vriendin onlangs 'n baie dierbare, jarelange vriendin van haar aan die dood moes afstaan, het onder meer die volgende gedig uit die Afskeidsiklus in die bundel Die donker is nooit leeg nie deur Heilna du Plooy soveel vir haar beteken:
|
|
|
LAAT ONS VAN JOU HOOR! |
|
|
Ek herinner ons lesers aan die inskrywingsvormpie wat saam met die vorige Hoor-Hier! uitgegaan het. Ek sal graag wil weet of u steeds na Augustus 1999 die Hoor-Hier! wil ontvang teen die skrale bedraggie van N$5,00 per uitgawe (of N$60,00 vir 'n jaar). Ek wil natuurlik baie graag steeds bydraes vir ons blaadjie van die lesers ontvang. Geniet die Herfs in ons land. Dit is die tyd vir afskakel van die gejaag en sien dat selfs in die natuur die rus nodig is om groei in die volgende seisoen te verseker. Groete tot 'n volgende keer!
|
|
Vorige Uitgawe |
|
Volgende Uitgawe | |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
|
|