HOOR-HIER!

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

Mei 1999: 20

 

Redaktrise: Susan Alexander

Telefoon tuis: 235757 in Windhoek
Faks: 212169 Windhoek
Posbus 9677 WINDHOEK
E-pos:  
susanalexander@mweb.com.na
Web-adres:
http://www.pro.co.za/hoorhier

 

 



DAGSÊ VRIENDE

Dit is 'n lieflike Mei-oggend. Ek sit voor 'n oop venster hier in Windhoek en kyk uit op die Eros-koppies agter ons huis. En ek weet weer waarom ek in hierdie lieflike, sonnige land met sy oop, blou hemel bly. En ek bid dat dit nooit vir my en my gesin nodig sal wees om weg te gaan nie.

Om aan te sluit by my bui van vanoggend, lees ek 'n briefie wat ek by die gasteboek van die Hoor-Hier op Internet gekry het. Ene Daan Strauss skryf: Afrikaans is dinamies, aanpasbaar, lewendig en lekker - en ons praat hom hier in NamibiŽ met 'n passie. Mens kry behoorlik die wilde piperelli-koors oor hierdie heeldag, aldag se werkery op Engels. Nie dat ek iets het teen Engels nie, maar dit is darem bitterlik lekker om te "Afrikaans". Nou die dag op die Namibiese Boerboel-dag was dit al te wonderlik om so in die openbaar op Afrikaans oor "Afrikaanse" honde te gesels. Ook interessant om te sien hoe al die ouens wat uit Suid-Afrika emigreer na New Zeeland, Kanada, AustraliŽ en Amerika verlang na Afrikaans. Aan hulle wil ek net sÍ dat NamibiŽ dalk 'n beter keuse sou gewees het vir emigrasie. Verskeidenheid ten spyt is ons besig om hier 'n lekker land te bou.
(Baie dankie vir die heerlik positiewe briefie Daan. Hoop ek hoor weer van jou! Red.)

RonŤlle van Rensburg het ook toevallig op die Hoor-Hier op Internet afgekom en sy skryf: Dis voorwaar lekker om te lees van al die Afrikaanssprekendes oral in die wÍreld. Ja toe ek hier in die sewentigs in die Kaap gewoon het, het ons Suidwesters daar 'n klub gestig en so elke maand of twee bymekaar gekom, vleis gebraai en lekker gekuier. Die Kapenaars was omtrent jaloers op ons groot familie. Groete aan jou en die hele groot "Afrikaner-familie". Susan, baie dankie vir wat jy doen vir ons taal. Laat weet waar ons jou kan ondersteun en die "familie" kan maar met my gesels op my e-pos. HOERA VIR AFRIKAANS!!
(Behou net die entoesiasme, RonŤlle! Dit is die grootste steun waarop ek kan hoop. Indien iemand met RonŤlle wil gesels, haar e-posadres is: rvanrensburg@oag.gov.na Red.)

Ek kry 'n heerlike geselsbrief van Felix Scholtz wat van Suid-Afrika na NamibiŽ immigreer het na sy vrou se afsterwe. Hy skryf: My kinders en kleinkinders woon hier in Windhoek en dis waarom ek hierheen gekom het, maar nogtans is daar die heimwee na die wÍreld waar ek soveel jare gewoon het. Naas die emosionele ondersteuning wat ek van my kinders, kleinkinders en kerk ontvang, is daar nog 'n ander baie belangrike faktor wat die aanpassing hier by julle makliker maak. Dit ten spyte van die groot geografiese en kultuurverskille... en dit is hoe ek die gebruik van Afrikaans op voetsoolvlak hier by julle aanvoel - by alle lae en groeperinge van die Namibiese samelewing. Ek verstout my om te sÍ dat my taal tans hier beter vaar as in my land van herkoms. Dit is die empiriese waarneming van 'n immigrant.
(Mnr Scholtz - baie dankie vir die warm en positiewe woorde oor Afrikaans. Dit is hierdie soort morele steun wat my sal laat voortgaan met die Afrikaanse gesprek in die Hoor-Hier! Red.)

KRIT

Krit is 'n literÍre gespreksgroep wat al die afgelope 20 jaar in Windhoek bymekaarkom om oor resente Afrikaanse tekste te gesels. Die volgende literÍre gesprek vind plaas op Dinsdag, 22 Junie om 19:00 by die kantore van Windhoek Consulting Engineers, Bismarckstraat 44. Duiwelskloof deur Andrť P. Brink word bespreek. Op die persverklaring staan dat hierdie teks Brink se grootste roman tot op hede is: In die ontoeganklike Duiwelskloof het 'n verdwaalde groep Voortrekkers onder leiding van die befoeterde patriarg Lukas Lermiet, die Siener, hulle gaan vestig. Vandag, 'n eeu en 'n half later, bring 'n knellende droogte die skrikwekkende gevolge van diť oer-Afrikaanse gemeenskappie se isolasie en inteelt tot uitbarsting.
Navrae oor Krit kan by Susan Alexander gedoen word.

WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT

Ek kry 'n heerlike geselsbriefie van my liewe tannie Jackie wat in die aftree-oord, Huis Vergenoeg, in Pretoria woon. Sy lees graag die Hoor-Hier! en stuur toe sommer 'n klomp tekste van ds. Jacques Botha, emiritus-predikant wat ook 'n inwoner by Huis Vergenoeg is. Ek plaas graag (met Moedersdag hierdie maand in gedagte!) van die inspirerende gedagtes van ds. Jac. J.S. Botha in hierdie uitgawe:

        Vrou en moeder

Salwer van wonde, waker by sponde;
soener van seertjies, sorger vir kleertjies -
vir hŠŠr is die lewe geen pret!
Vir derduisende vragies van nuuskierige agies
is daar net ťťn wat die antwoorde het!
Goedkoopste bediende, aspoester, alsiende
afknoop-aanwerker, uitgawe-beperker -
wiť sien kans en hou met hŠŠr tred?!

Lekkergoedhaler, roomysbetaler,
speelgoedopteller, storieverteller -
wie het meegevoel met haar lot?
Kookpot-oppasser en skottelgoedwasser -
daar is vele wat minag en baie wat spot:
kinderblompot en -blaker, -drupvanger en -baker*,
kinderwiegsanger, klere-ophanger -
dit kan slegs deur bystand van God!

*baker = droogmaker (van kinders)

(Baie dankie vir die klomp bydraes, ds. Botha. Ek sal graag van tyd tot tyd daarvan wil gebruik. Red.)

Die vlieŽnde Hollander       deur Anna-Marie Steenkamp

Rindert land diť soel someraand laat in Oktober met 'n Lufthansa-vlug op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako. Ons het hom ses jaar laas gesien en sien uit na die komende kuier van amper twee weke. Ons is ook 'n bietjie bang dat die kuier nie sal slaag nie, juis omdat ons hom so lank laas gesien het. Maar alles verloop van die begin af vlot. Toe hy in ons kar klim, is sy eerste woorde: "Het is hier zo rustig." Inderdaad ja.

Ons begin die kort rit huis toe aanpak. Hy sien die waarskuwings langs die pad teen koedoes. Riaan vertel vir hom dat ons ook las van vlakvarke langs die lughawepad het. "Vlakvarke?" herhaal hy onbegrypend. Ja, verduidelik ons, die wilde varkerige goed wat so verskriklik lelik is met lang tande en vergroeisels op hulle gevrete en daardie komieklike weghol met die antenna-stertjies bo die lang gras langs die pad. 'n Lig gaan vir Rindert op. "A, vrattezwijne!" "Ja," giggel ek, "vratvarke!"

Dis nie meer so vroeg toe ons by die huis kom nie en Rindert is moeg van die lang vlug van Nederland af. Hy moes voordag opstaan om betyds op Schiphol te wees. Ek gaan wys vir hom sy kamer en gaan slaap.

Die volgende oggend begin my pligte as gasvrou amptelik. Gelukkig is Rindert nie moeilik wat dit betref nie en hy eet lekker saam met ons aan ons gewone broodjie-ontbyt. Het hy goed geslaap? wil ons weet. Ja, beduie hy, "maar ik heb de matras op de grond gelegd". Sy rug hou daarvan so. Toe ek later by ons gastekamer verbyloop, sien ek dat die "bedspullen" in 'n warboel is. Die hťle vakansie maak hy nie sy bed op nie... ek laat dit so.

Ek verjaar in hierdie dae en na my partytjie vat ons hom see toe vir 'n paar dae - Hentiesbaai toe. Hy hou onmiddellik van die mooi, wit, uitgestrekte strand. En daar is so min mense! A, maar dis buite seisoen, lig ons hom in. Tydens die skoolvakansies lyk die vakansiewoonstelle en strand anders.

Rindert is 'n tipiese toeris en wil Šlles sien: die museums, die stad, CNA, die lekker koffiekroeg daar naby. En hy neem foto's van alles. Hy wil weet waar is restaurante waar 'n mens lekker kan eet. Hy trakteer ons soos ons onsself nie kan trakteer nie. "Het is erg goedkoop!" is sy uitspraak as ons elke keer bekommerd vra of ons nie kan help betaal nie.

Die kuier by ons staan gou einde se kant toe en dan breek die aand in November aan as ons weer die pad lughawe toe moet ry. Hy moet twee uur voor vertrektyd daar wees. Hy handel die paar administratiewe sake voor die vlug gou af en ons verskuif na die lughawerestaurant. As 'n laaste bederf koop hy vir almal koeldrank. Rindert stel voor dat ons maar gaan om darem nog op 'n respektabele tyd by die huis kom. Hy stap weer saam met ons tot by die kar en groet: "Bedankt voor de vakantie," en ek sÍ, "Goede reis, mijn vriend."

En ek en Riaan ry half afgetrokke en hartseer huis toe. Hoe lank gaan dit nou wees voor ons Rindert weer sien?

LAAT ONS VAN JOU HOOR!

Ek herinner die Hoor-Hier-lesers dat die formaat van die blaadjie vanaf September 1999 effens gaan verander. Ek sal dan 'n paar sente vir die Hoor-Hier! moet vra. Indien lesers vir hulself (of 'n vriend of vriendin) wil inteken, sal ek graag voor einde Augustus 1999 van julle wil hoor. Die onkoste sal N$5,00 per blaadjie beloop. Dit werk dan uit op N$60,00 vir 'n jaar se uitgawes. Groete en skryf asseblief vir my. Die Hoor-Hier! se voortbestaan is afhanklik van 'n TWEEgesprek in Afrikaans!

 


         
Vorige Uitgawe   Volgende Uitgawe
Tuisblad   Gasteboek

Internet-tuiste geborg deur  Die Knoop
 
Die Knoop: Honderde Afrikaanse Bestemmings!