HOOR-HIER!

Oktober 1999: 25

Redaktrise: Susan Alexander

Telefoon tuis: (061) 235757

Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS


DAGSÊ VRIENDE

My ma vertel my dat sy blykbaar 48 uur in kraam was voordat ek kans gesien het om die wÍreld in die oŽ te kyk. Sy was natuurlik gedaan - maar nie min trots op die piepklein mensie wat rooi en verrimpeld in 'n hospitaalkombersie in die bababedjie gelÍ het nie.

Pa Hannes was oorstelp met die geboorte van sy eersteling. Na die gewone besoektyd, het hy huis toe gegaan. Maar hy kon nie rus vir sy siel kry nie. Nadat hy vir ure in die stil huis rondgeloop het, het hy kombuis toe gegaan. Uit die yskas het hy in sappige hoender gehaal. Met sy bedrewenheid as kok en fynproewer, het hy die hoender voorberei - die klein kliertjie by die stertjie uitgesny; sout en peper en gemmer in die vel ingevryf en die hoender gebak tot hy sag en sappig en goudbruin gegloei het.

Hoender in foelie toegedraai het Pa weer in sy kar gespring en teruggery na die kraaminrigting. Die protes van die nagpersoneel het hy met sy gewone sjarme weggelag: "Kyk net wat het ek vir julle gebring!" Die jong verpleegstertjies, half onseker maar tog opgewonde oor die opwindende afwisseling in die andersins vervelige nagdiens, het agter Pa na Ma se kamer toe gestroom.

Op die nag van 30 Maart 1953, was daar 'n fees in die kraaminrigting van Brakpan. Die gemeste hoendertjie is met hande en tande en met 'n gesmak van lippe verorber. Ma het salig tevrede met 'n klein glimlaggie in die bed gelÍ en toekyk. Eenkant - totaal onbewus van die oproer wat sy veroorsaak het - het 'n swartkop-babadogtertjie ongestoord geslaap.

LESERSBRIEWE

Ouma Elsie skryf weer 'n - letterlik - sappige storie uit haar kinderjare:

As skooldogter op Hopetown HoŽrskool kon ons maar soms onhebbelik wees. Die bankbestuurder se tuin was net oorkant ons eie huis - met 'n hoŽ muur agter... seker om die tuin te beskerm. Ongelukkig (vir die bankbestuurder) was daar 'n hekkie wat nooit gesluit was nie. Ek en 'n paar skoolmaats besluit toe een aand dat ons wil gaan druiwe steel (en dit terwyl ons self 'n prieel gehad het met die lekkerste druiwe!)

In daardie jare was ons skooldrag nog die ou donkerblou serge-rokke met die plooie en 'n gordel. Nog met ons skooldrag aan, sluip ons toe deur die hek en begin die druiwe te pluk en voor by die skoolrokke in te gooi.

Wat ons nie geweet het nie, was dat daar aan die onderpunt van die prieel 'n elektriese lig was wat by die huis aangeskakel kon word. Ek het net mooi 'n paar groot trosse druiwe bo by my rok ingeprop en die gordel lekker styf om my middel getrek toe die lig skielik aangaan. Ons het laat spaander vir die hek - maar O wee! By die hek haak my voet vas aan 'n plank en ek slaan soos 'n os neer - op my maag en op die sappige druiwetrosse.

Ons het gelukkig almal ontsnap... maar ek was met taai druiwesop besmeer tot in my skoene. My maats het natuurlik geskreeu soos hulle lag; maar ek het nou nie eintlik gedink dit is snaaks nie.

(Ek glo jou goed ouma Elsie! Red.)

Ek kry 'n briefie van 'n jong vriendinnetjie van my, Janeke Kirchner. Sy skryf:

Ek en my ouers het die afgelope vakansie 'n wonderlike rit met ons 4X4 langs die Kunene gehad. Ek was verwonderd oor die wonderskone natuur - maar wat my die meeste beÔndruk het, was die rivier. Hierdie veelsydige rivier het my geÔnspireer om die volgende gedig te skryf:

                 'n Afskeidsgedig aan die magtige Kunene
         Totsiens, rivier!
Jy wat met jou groot lyf dreunend oor watervalle stort
oor klippe kabbel
en dan
stil en feitlik roerloos tussen die rietpoele gaan lÍ.

         Ave, Groot Moeder!
Uit jou spruit daar lewe.
Jy onderhou alles wat na jou toe kom:
van die klein watermuggies tot die groot Makalanipalms
Jy voed hulle met jou lewende hande.

         Bayete, Kunene!
Jy het my hart met jou groen watervingers vasgevang.
'n Stuk van my het jy gevat en diep, baie diep onder in jou sandbank gebÍre.
In my ore sal die gedruis van jou water altyd klink.
In my geheue sal jou groen paradys altyd gebÍre wees.
Op my lippe sal jou naam altyd wees.
         Ek groet jou!

('n Pragtige gedig, Janeke - en 'n besondere huldeblyk. Baie dankie. Red.)

Na vyftig jaar se geveg en stryd teen die Boer, sal daar geen Boer meer in Suid-Afrika wees wat Afrikaans (the Taal), behalwe as 'n kuriositeit, praat nie; net die groot Engelssprekende Suid-Afrikaner sal oorbly.
Olive Schreiner, 1896
(Uit: Die Groot Aanhalingsboek, saamgestel deur George Claassen e.a.)

KRIT

Die laaste Krit van 1999 vind plaas op Dinsdag, 26 Oktober om 19:30 by die kantore van Windhoek Consulting Engineers in Bismarckstraat. Ek stamel, ek sterwe van Eben Venter word bespreek. Venter palm die W.A. Hofmeyr-prys in met hierdie roerende boek. Die roman verhaal die wel en wee van Konstant Wasserman wat sy ouerhuis en uiteindelik sy vaderland verlaat om in AustraliŽ 'n nuwe begin te maak. In Sydney leer hy kook in 'n restaurant en vind hy vrye geeste wat hom verstaan. Sy nuutgevonde gevoel van vryheid is egter van korte duur. Hy kry vreemde blou merke op sy bene; hy word siek. Die toetse is positief, en hy moet klaarmaak, vrede maak. Sy wÍreld wat so oop en ruim geword het, word kleiner en kleiner tot dit bestaan uit sy daaglikse roetine van meditasie, gesond eet, positief dink. Hy moet stukkie vir stukkie alles wat belangrik is aflÍ: elke vriendskap en verwantskap, sy sinnelike liefde vir die lewe, en, uiteindelik die lewe self.

Enige belangstellende kan skakel met Susan Alexander indien u meer inligting oor hierdie literÍre gesprek verlang.

AFRIKAANS IN KANADA

Ek skryf vir 'n vriendin van my wat al ongeveer twee en 'n half jaar met haar gesin in Kanada bly. Hoe hou julle die Afrikaans aan die gang? vra ek toe. Ek deel graag 'n paar van haar gedagtes met ons lesers:

Wat ons kerkinskakeling betref: Ons skakel sedert ons hier aangekom het in by 'n Presbeteriaanse gemeente. Ons voel baie tuis. Daar is heelwat ander Suid-Afrikaners wat hierdie gemeentes ondersteun. Selfs sommige dominees uit Suid-Afrika het by Presbeteriaanse kerke ingeskakel en preek selfs in die gemeentes. Hierdie dienste is natuurlik in Engels!

So twee jaar gelede het 'n groep Afrikaanssprekendes 'n Afrikaanse dominee (vroeŽr van Vryheid in Natal, en nou in die Presbeteriaanse kerk) opgekommandeer tydens die Kerstyd en toe 'n Kersfees-kerkdiens in die ware Afrikaanse tradisie en in Afrikaans gehou. Mense het van heinde en ver gekom om die diens by te woon Ö dit was soos Nagmaal in die ou dae op die platteland.

Wat ons sosiale omgang betref: 'n Groot groep ex-Suid-Afrikaners hier in Ontario (maar ek glo dis in die ander provinsie van Kananda ook so) reŽl elke somer (so in Julie of Augustus) 'n bymekaarkom-geleentheid vir 'n feestelike boere-piekniek. Dan kuier almal heerlik en ontmoet diegene wat pas hier aangeland het en steek kers op by diegene wat al die spreekwoordelike tien jaar hier woon (laasgenoemde se kinders het al heeltemal ver-Kanadees). Wat kan mens doen om te verhoed dat die jonger geslag hulle vaderland en moedertaal vergeet!

Afrikaans as kommunikasiemiddel: Ons praat by ons huis net Afrikaans, behalwe wanneer hier mense kuier wat nie Afrikaans verstaan nie. Maar ek voel dis goed, veral vir die jonger geslag om maar selfs kerk toe te gaan in Engels, want dit is die taal waarin hulle daagliks hoofsaaklik omgaan - want ons het mos nou eenmaal 'n keuse gemaak om ons en ons kinders aan die "die vreemde" bloot te stel en uit te lewer. Volgens my waarneming, praat die meeste Afrikaners wat Kanada toe verhuis het, nog in hul huise Afrikaans. Daar is wel diegene wie se kinders, veral as hulle baie klein was toe hulle in Kanada gearriveer het, met die ouers Engels praat - al word hulle deur die ouers in Afrikaans aangespreek. (Hulle verstaan dus, maar sukkel om dit self te praat.) Ander glo weer dat hulle met die kinders net Engels moet praat, anders gaan dit die kinders in hul taalverwerwing verwar. Ek verskil hiervan, want ek self het die teendeel ervaar, waar die kinders terselfdertyd Afrikaans en Engels leer praat, en tog nie die tale deurmekaar maak nie.

My jongste was ses jaar toe ons in Kanada aangekom het, en sy het dus haar formele skoolloopbaan in Engels begin. Sy het dus in Engels, waarvan die klanke anders as in Afrikaans is, leer lees en skryf. Ek het egter tot my groot blydskap waargeneem dat, hoe beter sy die Engels begin lees het, hoe makliker het dit vir haar geword om Afrikaans ook te lees, omdat sy dit gereeld praat en weet hoe die taal klink! Die skryf en spel van Afrikaans is egter nie so eenvoudig nie.

HOOR-HIER! GALORE

Liewe lesersvriende - ek beplan om 'n boekie met eg-Namibiese tekste voor Kersfees die lig te laat sien Ö as ek natuurlik genoeg geskikte bydraes kry. Stuur sketse, gediggies, rympies, kinderverhale, ware vertellings, stukkies geskiedenis, fabels, resepte, selfs pen- of potloodsketse na die Hoor-Hier-adres. Die enigste voorwaarde is dat die bydraes eg-Namibies moes wees. Ek sal die versorging, tikwerk, redigering en drukwerk hanteer.

Dink net watter gawe Kersgeskenkie sal so 'n unieke bundeltjie uitmaak! Ek doen 'n beroep op alle aspirant en gesoute skrywers en kunstenaars. Laat ons kragte en talente saamsnoer en 'n mooi produk saamstel.

Maak seker dat u kopieŽ hou van elke item wat u vir my stuur. Ek kan ongelukkig nie onderneem om die bydraes terug te stuur nie. Ek sal 'n lys maak van alle bydraers en u laat weet wanneer die boekie gereed is sodat u daarvan kan bestel. Ek kan ongelukkig nie 'n kwotasie kry van die onkoste voordat ek nie genoeg bydraes ontvang het nie. Ek sal graag alle bydraes voor middel November wil ontvang sodat ek nog tyd het om dit te verwerk. Ek wag in spanning!

WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT

Voorwaar, Ek sÍ vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Matt.25:40.

Godsdiens is dankbaarheid in aksie - dit is 'n evangeliese danklied getoonset in daaglikse dade!

(Uittreksel uit Daaglikse Brood deur Jac.J.S. Botha)

PRETTIGE VERSE OOR AFRIKAANS

Polla Steyn wat 'n gereelde Hoor-Hier! leser is, skryf: Hier is twee taal limeriekies - of is dit nou limerympies? - vir jou en jou lesers:

Die voortbestaan van ons geliefde Afrikaans
Veel kleiner in omvang as Engels of Frans
Word nie beperk of bepaal
deur 'n amptelike taal...
Ons lťťf hom en prŠŠt hom vir ewig verskans!

Hy's taai en gehard soos die besembos vaal
maar buigsaam en slap soos die wilgerlat kaal
Ons brei hom en looi hom
Ons plet hom en plooi hom
 En maak hom ons almal se Afrika-taal!

(Baie dankie mnr. Steyn! Maak gerus weer so. 'n Sappige limeriek is vingerlek-lekker op die oor! Red.)

LAAT ONS VAN JOU HOOR!

Baie dankie vir al die waardevolle raad en positiewe gedagtes wat ek uit alle oorde ontvang oor die nuwe Hoor-Hier! Ek sal dit baie waardeer as ons lesers hulle vriende en familie sal bewus maak van ons blaadjie.

Groete tot 'n volgende keer!


         
Vorige Uitgawe   Volgende Uitgawe
Tuisblad   Gasteboek

Internet-tuiste geborg deur  Die Knoop
 
Die Knoop: Duisende Afrikaanse Bestemmings!