HOOR-HIER!

Desember 1999: 27

Redaktrise: Susan Alexander

Telefoon tuis: (061) 235757

Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier/

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS


DAGSÊ VRIENDE

Aan die einde van hierdie besondere jaar - voordat J2K my outydse rekenaar se kuikengeheue uit rat uit ruk - tik ek vir oulaas 'n Hoor-Hier! wat 'n 19... jaartal lees.

My ma vertel my van 'n geveg wat 'n klompie beskonke bouers jare gelede in ons huis in Sunnyside, Germiston, gehad het. Ek was agtien maande oud en het rustig in my kamer gelÍ en slaap. Skielik het 'n swartman vervaard by die agterdeur van ons huis ingestorm met 'n klomp bouers van die huis langsaan agterna. Nie een van hulle was nugter nie en hulle het my ma - op daardie stadium ses maande swanger - sommer net uit by die agterdeur uitgestoot en die teiken van hulle aggressie in die gang vasgekeer. Daar is gestoei en met kapmesse aangeval. Arme Ma het naelkouend buite gestaan. Al waaraan sy gedink het, was haar babadogter wat in die kamer lÍ en slaap. Sy kon op geen manier by my uitkom verby die vegtende skare in die gang nie. My pa het intussen by die huis opgedaag - maar gou besef dat hy nie man-alleen iets kan doen nie. Hy het toe oor die heining gespring en van die bure af die polisie gebel. Teen die tyd dat die polisie opgedaag het, was die vegters se fut uit en hulle het hulself gewoon uit die voete gemaak. Die enigste kalant wat die polisie gevange kon neem, was die einste een wat eerste by die agterdeur ingestorm het. Hy was te beskonke om weg te kom.

Dit het vir Ma en huishulp harde werk geverg om die skade in die gang te herstel. Al die moeite kon egter nie opweeg teen die dankbaarheid van my ouers dat nie hulle of ek iets oorgekom het nie.

'n Paar weke na die episode is daar 'n beskeie kloppie aan die agterdeur. Iets in die swartman se gesig wil-wil toe bekend lyk; maar dis eers toe hy hom identifiseer as een van die bakleiers van weke gelede dat hy regtig geŽien word.

Hy is dan nou so jammer oor die skade en moeite wat hy gehelp aandoen het; is daar nie iets wat hy kan doen om te probeer vergoed nie?

Pa het 'n rukkie ingedagte gestaan. "Jy is mos 'n bouer, nie waar nie?" "Ja Baas - nes jy daar sÍ."

"Nou ja - bou vir my 'n paadjie van die voordeur af tot by die hekkie - dit sal my hart bly maak en jou gewete sus!"

LESERSBRIEWE

Tannie Marie Dalton is 'n getroue leser ťn verskaffer van bydraes tot die Hoor-Hier! Ek het 'n pragtige brief van haar ontvang:

Liewe Susan, Op die familiefront gaan dit heel goed. Eergister berig ontvang oor die geboorte van my 32ste agterkleinkind. Die familie brei so uit dat ek deesdae agter raak met my korrespondensie, met die gevolg dat ek so elke tien dae 'n E-pos omsendbrief uitstuur en dan tog al te lekker lees aan terugvoerings van oor die hele spektrum adresse, wat wissel van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, AustraliŽ, behalwe nog my slakkepos vanaf Oostenryk, Engeland en Pretoria.

Op die tuisfront gaan dit heel goed. Die paar goeie reŽnbuie wat ons gehad het, maak dat almal ingespring het om die tuin op te knap. Ons eet al vanaf September aan ons eie groente. Ons mangoboom dra heel goed, behalwe aan die suidekant, wat die ene blare is. Nou moet ek jou iets wonderliks van diť boom vertel: Met die wisseling van seisoen is ons boom blykbaar 'n rendevous vir terugkerende trekvoŽls. Dan kom hulle in swerms van, na skatting, om en by duisend en verdwyn tussen die blare. Teen ons een aand tot agt swerms getel het, was dit al te donker om te sien. Die volgende aand was daar weer 'n aantal swerms. Of dit die agterorde was, of die vorige dag s'n wat kom kyk het of daar nůg aangeland het, is maar 'n raaiskoot. Wanneer dit weer trektyd is, wil ons kyk of die voŽls vir die weggaan ook hier gaan kongregeer. (Is dit nou ooit 'n Afrikaanse woord?)

John en Martie was verlede week 'n paar dae Windhoek toe om Kleinjohn se sake vir volgende jaar in orde te kry. Hy moet allerhande waarborge hÍ waar hy vir drie jaar gaan werk, en Pa moes daarmee help. Terwyl hulle in Windhoek was, moes ek, soos gewoonlik in dergelike gevalle, vir die twee studente, wat hier inwoon, plus die huishulp, kook. By 'n sekere maaltyd, ten einde raad aangaande in vleisdis, vat ek toe koue, gaar wors en maak oumeid onder die kombers, maar noem dit toe darem "ouvrou onder die kombers." Toe John en Martie tuiskom, kon die seuns nie uitgepraat kom oor diť lekker dis nie. John egter, nie links nie, herstel die naam tot sy oorspronklike. Een seun, 'n kleurling, ook nie links nie, sÍ laggend "Al wat ek weet, dis die lekkerste oumeid wat ek nog ooit onder die kombers gehad het!"

Die staaltjie wat ek eintlik wou vertel het, is oor wat met John en Martie jare gelede gebeur het, en wel in die tyd toe pynappelbier die inding was in RSA. Martie het 'n paar van die vrugte gekoop om in slaai te gebruik, en die skille gehou om bier van te maak. John gaan leen toe 'n groot, sterk bottel, tweemaal die grootte van 'n gewone, en verseŽl die konkoksie, wat reeds begin gis het, en die twee ry om my by Jan Smuts lughawe te gaan haal. Terug van die lughawe af, gaan laai hulle my eers by my plek af en ry met groot verwagting woonstel toe. Van ver af kry hulle toe 'n eienaardige reuk wat hulle so onder mekaar laat wonder wat in die omgewing voorgeval het sedert hulle daar weg is. Uiteindelik tref die wete hulle dat die slegte reuk uit hulle eie woonstel kom. Toe sluit John die deur oop. Die toneel van verwoesting, plus 'n skoot pynappelgas slaan amper hulle asems weg. Net waar jy kyk, lÍ bottelskerwe en nat bierkolle oor die meubels, teen die mure,tot teen die plafon. Les: Pasop vir pynappelbier. Met so 'n skop kan jy nooit weet wat dit met jou ingewande kan doen nie.

Nouja, Susan - dan sÍ ek totsiens en mooiloop in die so gevreesde millennium. Hoekom tog? 'n Dag is 'n dag, of dit in die jaar nul of die jaar 2000 is. Dit lÍ nog maar in die holte van die Here se regterhand. Met liefdegroete van Tannie Marie.

(Baie dankie vir die brief en die pragtige staaltjies, tannie Marie. Red.)

Ek het in Junie 'n skryfskool naby Stampriet bygewoon. 'n Hele klompie mense het die omgewing en die skryfsessies saam met Hans du Plessis geniet. Vir my nuutgevonde "skrywers"-vriende stuur ek toe Hoor-Hier's - en kry die volgende briefie van Hetty Rose-Junius:

Ek wil jou gelukwens met Hoor-Hier. Dis nou 'n puik poging vir Afrikaans en verdien om ondersteun te word deur almal wat ons taal lief het en wil sien dat dit, soos mnr. Polla Steyn sÍ, "geleef" en "gepraat" word. Ek wil ook so 'n paar woorde skryf en hoop jy kan dit gebruik.

Dis mos nou weer eksamentyd en eksamenflaters bly nie agter nie. 'n Onnie vertel my verlede week hoe die term aborsie nuwe dimensies in die eksamen bygekry het. Leerlinge moes sinne maak om die term te verduidelik. Hulle skryf toe: "Ek koop a borsie tjips by die winkel" en "Aborsie is die boonste gedeelte van 'n vrou se lyf" (Klink toe seker vir die mannetjie al te veel na 'n borsie). Toe is dit tyd vir die voltooiing van idiome: "Die mens wik, - maar die slang pik", en "Buig die boompie - oor die stroompie".

Ek lees in Hoor-Hier van die Arikaans in Kanada. Ek was op besoek aan Kitchener, 'n stad naby Toronto. Toe ons as besoekers uit NamibiŽ voorgestel word, kom dit kordaat van 'n jongman: "Ek spreek ook Hollands. Kan ons Afrikaans praat?" Ons twee het al selfs in Afikaans aan mekaar geskryf en ek het by Jean Lombard 'n boek gekry om aan hom te stuur, aangesien hy sy Afrikaans wou opknap.

In London voer ek duiwe op Trafalgar vierkant en ek spreek hulle sommer in Afrikaans aan oor hul gulsigheid. 'n Egpaar wat verby drentel, storm op my af en duik my amper van my voetjies af terwyl albei gil: "Jy praat dan Afrikaans!" Toe kuier ons sommer 'n hond uit 'n bos. Laat iemand my nou net weer vertel dat die taal nie internasionaal gepraat word nie!

Ek waardeer toe so vir Manus Hanekom in die vorige Hoor-Hier, wat ons mooi en geliefde land kom besoek het. Manus, volgende keer moet jy kom wanneer die leliepan naby Sossusvlei in blom is. Ja, ek ken die byvoeglike naamwoord "kou", sonder die e op die end. Wanneer ek as maatskaplike werker gesinsomstandighede ondersoek, en daar word oor drank-gewoontes gepraat, dan kom die antwoord dikwels: "Nee, ek drink nie, net kou bier so af en toe." So het die ouer garde in die Rehoboth Gebiet mos ook hul eie manier van 'n saak stel. Vra jy uit oor 'n sekere gebeurtenis, dan kom dit: "Hor het ek gehor, maar tjen, tjen ek nie." (Hoor het ek gehoor, maar ken, ken ek nie) Die naaste wat dit met 'n bekende uitdrukking ge-ewenaar kan word, is dalk "Ek het die klok hoor lui, maar weet nie waar die klepel hang nie."

Hoor-Hier groete tot volgende keer.

(Baie dankie vir die sappige Afrikaanse staaltjies, Hetty. Red.)


DIE WATER WAT VERBY IS
Gerrit Komrij

Met die water wat verby is
Sal jou meule nooit meer maal
Uit die assies op jou vuurert
Sal jy nooit geen gloed weer haal.

Uit die tak die jy gekap het
Groei nooit weer een groene blaar
Gaste, gister op jou feesmaal
Bring jy nooit weer bijmekaar.

Van jou jare wat verstryk is
Sal jy nooit een uur meer kry
Van jou afgelegde togte
Nooit een enk'le skof weer ry.

Die wat eenmaal van jou weg is
Vyand of beminde vrind
Sal jy met jou haat of liefde
Nimmermeer op aarde vind.

Vul sy graf met modderkluite
Laat hom aan die wurms oor
Nooit sal hy jou smaad weer voel nie
Nooit sal hy jou hoon weer hoor.

Dek sy graf met hulde-blomme
Plant 'n steen vir nooit-vergeet
Van jou steen- en blomme-hulde
Sal hy nooit nie, nooit nie weet.

Die wat eenmaal jou vooruit is,
Sal jy hier nooit agterhaal;
Met die water wat verby is
Sal jou meule nooit meer maal.

(Hierdie gedig stuur Hans Burger uit Nederland vir my... wonder wat sou Langenhoven gesÍ het!)

'N AFRIKAANSE BOEK VIR DIE VAKANSIE

Sommige mense gaar boeke deur die jaar op met die spesifieke doel om dit oor die Kersvakansie te lees. Hier is 'n paar titels wat ek meen die moeite werd is vir luilekkerlees. Daarmee wil ek nie suggereer dat almal ontspanningsleesstof is nie; allermins:

Die trousseaukis en ander stories deur Annelie Botes is 'n heerlik menslike bundel kortverhale. Nog 'n bundel kortverhale is Riana Scheepers se Feeks. Vir lesers wat graag gedigte lees, is Lina Spies se versamelbundel, Ek sien webbe roer 'n moontlikheid.

Van die romans wat die afgelope jaar of wat verskyn het, is:
Boendoe deur Chris Barnard;
Vos deur Anna M. Louw;
Draaijakkals deur George Weideman;
Wegkomkans deur Marita van der Vyver;
Anderkant die Longdrop deur Anoeschka von Meck;
Ek, Joseph Daniel Marble deur Joseph Marble;
Rugdraai en stilbly deur E.K.M. Dido;

Lekker lees!

VŠn die titels hier genoem sal in die jaar 2000 ook deur die LiterÍre gespreksgroep, Krit, in Windhoek bespreek word. By die eerste geleentheid in Februarie, sal Boendoe deur Chris Barnard aan die beurt kom. Indien enige belangstellende meer wil uitvind oor hierdie gespreksgroep, kan u skakel met Susan Alexander. (Al die kontakadresse is op die voorblad.)

HOOR-HIER! GALORE

Liewe lesersvriende - ek beplan steeds om 'n boekie met eg-Namibiese tekste vroeg in 2000 die lig te laat sien... as ek natuurlik genoeg geskikte bydraes kry. Stuur sketse, gediggies, rympies, kinderverhale, ware vertellings, stukkies geskiedenis, fabels, resepte, selfs pen- of potloodsketse na die Hoor-Hier-adres. Die enigste voorwaarde is dat die bydraes eg-Namibies moet wees. Ek sal die versorging, tikwerk, redigering en drukwerk hanteer.

Ek doen 'n beroep op alle aspirant ťn gesoute skrywers en kunstenaars. Laat ons kragte en talente saamsnoer en 'n mooi produk saamstel.

Maak seker dat u kopieŽ hou van elke item wat u vir my stuur. Ek kan ongelukkig nie onderneem om die bydraes terug te stuur nie. Ek sal 'n lys maak van alle bydraers en u laat weet wanneer die boekie gereed is sodat u daarvan kan bestel. Ek kan ongelukkig nie 'n kwotasie kry van die onkoste voordat ek nie genoeg bydraes ontvang het nie. Ek sal graag alle bydraes voor middel Februarie 2000 wil ontvang.

Baie dankie by voorbaat!

WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT

Die bekendheid van die kersverhaal laat mens dikwels minder aandagtig luister as dit voorgelees word. Het ons lesers al gehoor hoe klink dit in Die Boodskap: Die nuwe testament in hedendaagse Afrikaans? Jan van der Watt en Stephan Joubert het die teks nuut uit Grieks vertaal en daarna het T.T. Cloete dit verwerk.

Daar was 'n vrou met die naam Maria. Sy was verloof aan 'n man met die naam Josef. Op 'n dag het hy baie slegte nuus gekry: hy het uitgevind Maria verwag 'n kind. Josef was baie omgekrap daaroor, want hy het geweet dat dit nie sy kind kon wees nie...

Terwyl Josef nog besig was om planne te beraam hoe om uit sy verknorsing te kom, het hy een nag 'n droom gehad. 'n Engel van die Here het vir hom kom sÍ: "Trou met Maria. En moenie jou bekommer nie...

(Uittreksel uit Matteus 1 in Die Boodskap)

LAAT ONS VAN JOU HOOR!

Ek ken persoonlik 'n ou tannie wat hierdie jaar 102 jaar oud word - sy het dus die vorige eeu in haar kinderjare belewe. Maar hierdie mense is maar min. Vir almal wat saam met my 'n nuwe eeu ingaan: 'n baie vreedsame jaar 2000. Dit is myns insiens die beste nuwejaarswens wat mens iemand kan toewens.

En Kersfees - mag die Kindjie in die krip die hoofgas by die feesvieringe wees!


         
Vorige Uitgawe   Volgende Uitgawe
Tuisblad   Gasteboek

Die Knoop: Duisende Afrikaanse Bestemmings!      Internet-tuiste geborg deur  Die Knoop