|
||||
|
|
|
DAGSÊ VRIENDE Ek het die afgelope paar jaar baie bewus geraak van mense wat 'n behoefte het om te skryf: sommiges wil net nie hê hulle stories moet verlore raak nie; ander het besondere ervaringe gehad wat hulle wil opteken. 'n Paar weke gelede bel 'n vrou my van die kus af en sê sy stuur vir my 'n klompie gedigte - ek moet tog kyk na hulle. Na 'n bietjie gesels, kom ek agter haar kinders wil graag die gedigte in 'n meer permanente vorm as 'n herinnering behou. Ek self het 'n behoefte om te skryf - maar hoe kom 'n mens van 'n behoefte tot die konkrete geskrif? Want - soos baie van my ewe hartstogtelike skryfgenote weet - dit is makliker gesê as gedaan! Mens kry dit dalk reg om een of twee geskriffies daar te kry, en dan is die inspirasie saam met die geskriffies in die lessenaarlaai gebêre tot 'n volgende keer ... wie weet wanneer! Ek lees op die oomblik 'n boek oor skryfwerk wat 'n goeie vriendin vir my geleen het. Die titel: Bird by bird, Some Instructions on Writing and Life deur Anne Lamott. Haar raad aan voornemende skrywers en skryfsters is: skryf, skryf, skryf. Skryf elke dag op 'n spesifieke tyd. Skryf om te herskryf. Moenie skryf met die voorneme om onmiddellik te publiseer nie. Dit sal - dalk - later kom. Skryf ten spyte van die wete dat jy dalk besig is om swak te skryf. In die proses kom daar diamante te midde van die steenkool na vore. Skryf is harde werk. Wees bereid om hard te werk. Moenie uitstel as jy 'n goeie gedagte vir 'n storie of skets of selfs dagboekinskrywing kry nie; gaan skryf dit neer. Interessant genoeg, kry ek in dieselfde tyd dat ek die boek lees 'n gediggie deur tannie Marie D'Alton van Tsumeb:
Aan my medeworstelaars met die woord - laat ons mekaar ondersteun. Kom, laat ons skryf! LESERSBRIEWE
Ek wou al eerder in die nuwe eeu skryf - maar doen toe eers "millennium cleaning" soos in "Spring cleaning". Dis nou baie erg, hoor! Wat bewaar ons vir die 21ste eeu en wat gooi ons vir ewig weg? Ek staan verwonderd oor ek dit gemaak het oor die draai van 'n eeu heen; nie omdat ek so oud is nie, maar omdat dit so 'n voorreg is. Verbeel ek my, of skryf dit so lekker - die nulle wat so uit my pen rol! Ek verwonder my oor die nuwe betekenis wat die voorvoegsel - milli - skielik gekry het: milligram, millimeter, milliwatt. Dis asof ek vir die eerste keer regtig registreer dat hierdie milli- 'n duisend beteken. Wil jy nie vir "ou" mense (soos ek) wat nie meer elke dag in omgang is nie, so 'n paar van die nuwe Afrikaanse woorde deurgee nie? As ek dink hoe ons (van ongeveer 1900 tot 1940's) gemartel is oor anglisismes, ons moes gladnie eens daaraan dink om te probeer oulik wees met 'n Engelse woord nie!
(Ralda - spesiaal vir jou plaas ek na die lesersbriewe 'n artikel wat in die Beeld verskyn het oor Engelse woorde wat nou erken word in Afrikaans!
Hahaha! lachen man dat taaltje van jullie - het lijkt heel veel op een dialect hier bij ons in Nederland. Ik denk dat wanneer ik naar suidafrika ga ik jullie wel kan verstaan. Heel veel respect en groeten uit het verweggelegen Breda, Noord-Brabant. (Jy kan gerus maar lag Meneer Hormat - ons verstaan mekaar inderdaad, beter as wat jy dink! Red.) TAALKOMMISSIE SÊ BLERRIE IS NOU OOK OUKEI Uit die Beeld van 16 Maart 2000 kry ons die volgende nuusbrokkie: 'n Verrassing wag op kampvegters vir taalsuiwerheid in die jongste Afrikaanse woordelys en spelreëls, waarvan die negende uitgawe nou deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns saamgestel word. Dié gesaghebbende taalbybel, wat reeds dekades lank gebruik word om die finale oordeel te vel wanneer Afrikaansgebruikers oor 'n korrekte spelling of skryfwyse kibbel, gaan in sy nuwe uitgawe tussen vierhonderd en vyfhonderd woorde bevat wat dikwels in behoudende kringe afgemaak word as "nie suiwer Afrikaans nie". Volgens dr. Anton Prinsloo, voorsitter van die Taalkommissie, gaan 'n afsonderlike afdeling van sogenaamde omgangstaalwoorde ingesluit word by die nuwe uitgawe van die boek. Vyftien van die sewentien hoofstukke is reeds voltooi deur die kommissie van agt taalakademici wat tans by die UPE vergader. Prinsloo het gister gesê die nuwe afdeling vir omgangstaal behels woorde wat uit Engels geneem is, soos "oukei" en "blerrie" - volgens hom die gemoedelike taal wat gebruik word om die braaivleisvuur of wanneer mense rugby kyk. "Ons almal weet dat Engelse woorde gebruik word. Jy kry dit in ons letterkunde, waar dit in die monde van karakters geplaas word en dit heeltemal geloofwaardig klink. Mense wat hul oë vir die gebruik van sulke woorde wil sluit, weet nie wat in Afrikaans aan die gang is nie," het Prinsloo gesê. Volgens hom weet die kommissie die nuwe afdeling gaan kritiek ontlok. Hy glo egter daar sal genoeg redelike mense wees wat woorde sal sien wat hulle al jare lank gebruik, maar nooit geweet het hoe om korrek in Afrikaans te spel nie. Die omgangstaallys bevat egter nie Engelse woorde waarvan die oorspronklike spelling behou word nie - slegs dié wat deur herhaalde gebruik so deel van Afrikaanssprekendes se woordeskat geword het dat mense met Afrikaanse spellings vorendag begin kom het. Benewens dié nuwe verwikkeling - wat slegs 'n paar bladsye sal beslaan - gaan die boek steeds 'n afdeling tradisionele spelreëls en 'n formele lys "standaardwoorde" bevat, asook nuwe afkortings, waaronder verskeie nuwe lettername. KRIT: AFRIKAANSE BOEKE ONDER DIE LOEP Die Literêre gespreksgroep, Krit, kom op 20 Junie bymekaar om Anna M. Louw se roman Vos te bespreek. Ons plaas in die Mei-Hoor-Hier! 'n kort bespreking van die teks. Die datums vir die res van die jaar se gesprekke is: 8 Augustus 26 September en 31 Oktober.Enige belangstellende kan skakel met Susan Alexander, telefoon 235757.
ONTMOET WINDOWS 98... Afrikaanse Programme-inligting Die volgende Afrikaanse opvoedkundige programme, op CD's, is geskryf en ontwikkel deur Virtus Programme, Bloemfontein en is daar gestel vir alle rekenaarbeginners wat hierdie taalmedium vir opleidingsdoeleindes verkies. Dit is ontwikkel vanweë 'n behoefte aan opvoedkundige programme in Afrikaans Dié is skaars en dikwels peperduur. Hierdie CD's is geskik vir rekenaars met Windows95/98 en is getoets op Pentium en Pentium2 rekenaars. Dit is interaktiewe, multi-media programme. Dit is ook geskik vir netwerkbenutting.
1. KLEUTERPRET EEN: Vir voorskoolse kleuters. Deur middel van prettige speletjies leer hulle oor die alfabet en vormherkenning met legkaarte, inkleurprentjies, diere en 'n krabbelblad om mee te teken. Die programme waaruit Kleuterpret opgebou is, is Pret met die Alfabet ... 3 skerms met animasie en rympies wat help met die aanleer van die alfabet. Inkleurkeur ... 'n inkleurprogram met 10 prentjies wat die kleuter weer en weer kan inkleur. Lekker Legkaarte ...'n program met meer as vyftig klein legkaarte wat bestaan uit nege stukkies elk en die kleuter help met vormherkenning. Die letters van die alfabet kom ook hierin voor. Prentjies wat tel ... help die kleuter wanneer hy/sy leer om te tel. Krabbelblad ... gee 'n kleuter 'n potlood en hy krap op alles wat voorkom. Hier is sy/haar kans om hul teken te kan teken en daardeur vaardigheid met die rekenaar aan te leer. Watter dier is hierdie ...'n skerm met mak diere en 'n skerm met wilde diere wat die kleuter moet uitken. 2. KLEUTERPRET TWEE: Bedoel vir kleuters in hul eerste of tweede skooljaar. Baie op die patroon van Kleuterpret Een maar die programme word 'n bietjie moeiliker. Hierdie program begin ook raak aan Wiskunde en Lees. 3. SOMOMTALIE gedeelte: Steeds baie prettig, maar 'n volbloed wiskundeprogram wat gebruik kan word deur kleuters van voorskool tot Graad 3. Dit sluit ook Woordsin, 'n sinsbou en spelprogram in. Die aankoopprys van hierdie omvattende CD beloop slegs R250,00 en sluit posgeld in.
Met hierdie multi-media, inter-aktiewe opleidingsprogram op CD, in AFRIKAANS, word die rekenaarbeginner deurgaans gelei deur 'n instrukteur wie dan ook die nodige opdragte gee wat deur die beginner uitgevoer moet word soos wat hy/sy vorder. Die beginner word deeglik vertroud gemaak met al die kernfasette van Windows 95 en 98.Hierdie program word dan ook afgesluit met 'n basiese inleiding tot Internet en e-pos benutting. Hierdie opleidingsprogram, 'n moet vir alle Afrikaanssprekende begin-ners, en ook die vir wie Engelse terminologie nie altyd lekker verstaanbaar is nie, word op 'n baie interessante wyse met prettige animasie aangebied. Nou kan jy opleiding ontvang en geniet in die gerief en gemak van jou eie woning, selfs op kantoor. Geen gejaag na rekenaarskole nie. Die hele gesin kan die program benut. Bespaar dus op tyd en geld. DIT MAAK SIN!! Die aankoopprys van hierdie CD beloop R350,00. Afslag word gegee op bestellings van meer as 5 eenhede met 'n afwaartse glyskaal. Indien u belangstel, kan u skakel met Susan Alexander (al die kontakadresse is op die voorblad van hierdie blaadjie). WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT Ek deel graag met u die April-gebed in Solly Ozrovech se boek: Van dag tot dag deur God gedra:
Opgestane en triomferende Heiland, lei my opnuut in hierdie maand na die leë graf, na die tuin van die opstanding sodat ek my opgestane en lewende Heiland kan ontmoet. LAAT ONS VAN JOU HOOR! My liewe Hoor-Hier-lesers, dit het maar dol gegaan in die Alexander-huishouding die afgelope maande. Nou het ons bietjie vakansie en sal ek hopelik 'n paar dingetjies gedoen kry. Vergewe maar vir my as die ou geselsblaadjie effe laat daar aankom. Ek wil nie probeer belowe dit sal nooit weer gebeur nie! Die lewe laat hom nie voorskryf nie. Stuur gerus u bydraes. Ek plaas dalk nie alle bydraes nie - of ek neem 'n rukkie voor ek dit plaas - maar ek lees en waardeer die lesers wat van hulle laat hoor - per E-pos óf gewone pos. Hartlike groete hier uit Windhoek.
|
|
Vorige Uitgawe |
|
Volgende Uitgawe | |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
Internet-tuiste geborg deur Die Knoop