|
||||
|
|
|
DAGSÊ VRIENDE Pa sou sommige volmaansomernagte - wanneer ons eintlik al in die bed moes gewees het - gesê het: "Ag nee - dis te mooi buite om nou al te slaap." Dan moes ons almal help om die dubbelbedmatras met lakens, kussings, komberse en al uit te dra op die reuse-balkon van die huis wat ons met die bejaarde eienares wat onder gebly het, gedeel het. Dit het 'n gestamp en gespartel afgegee - maar dit was deel van die pret. Met 'n ligweg-protesterende Ma in die agtergrond. Later sou sy by ons aansluit. Ons het onder die sterrehemel en jolige maan net bietjie nader aan mekaar geskuiwe sodat ons almal op die matras kon inpas - dis nou ek en Boetie, Pa en Ma. Ek en Boetie het weerskante van Pa in sy arms genestel - roerloos en spraakloos - bang dat die oomblik sal verbygaan. Pa het met sy tenoorstem verduidelik waar al die bekende sterreliggame was - nou en dan sy regterarm uitgewoel om 'n wentelende spoetniek vir ons ongeoefende ogies te wys. "Daar ... daar! daar! sien julle?" Pa se praat het later al minder en minder geword. Soms net 'n woordjie na 'n lang stilte. Tot hy sy bekende snorkie gegee het. Toe het Ma versigtig opgestaan en ons slaapdronk lyfies kamer toe gelei. Vir Pa het sy met 'n ligte kombers toegegooi en dan sommer in die gastekamer gaan slaap. LESERSBRIEWE Ek kry einde verlede jaar 'n pragtige briefie van tannie Rita McDonald. Sy skryf: Ek wil vandag vir jou vertel van hoe dit was toe ek 'n kind was: Ons het op 'n klein dorpie van die Kakamasnedersetting gewoon. ALMAL WAS ARM! Die enigste mense wat geld gehad het (soos ons gedink het) was die dokter, landdros, predikant, die onderwysers en amptenary. Maar ons het 'n lewendige kultuurlewe gehad. Daar was darem al 'n telefoon in die poskantoor, maar televisie was nog nie eers 'n droom nie. Van die ouers wat meer ambisieus was, het hulle kinders laat leer tot matriek en as hulle iewers geld kon bekom, selfs verder. So het Kakamas darem 'n paar predikante en dokters en heelwat onderwysers opgelewer. Baie van ons het in-diens-opleiding gedoen in die poskantoor, landdroskantoor, Polisie en, natuurlik, die Spoorweë. In standerds vyf en ses was die skoolhoof ons klasonderwyser en het ons elke Vrydag oor een of ander onderwerp debat gehou waaraan almal moes deelneem. Een so 'n onderwerp, wat ek besonder goed onthou, was: "Wat is beter, geld of geleerdheid?" Die onderwysers het in daardie tyd baie druk op ons probeer uitoefen om te leer - soveel en sover as ons kon - sodat ons nie uiteindelik sou agterbly teenoor ander bevolkingsgroepe nie! In elk geval, dié dag het ons almal fluks deelgeneem aan die debat behalwe Fanie - hy het doodstil gesit tot Meneer op sy nommer gedruk het met: "En toe Fanie, wat sê jy?" Met 'n vaart het Fanie opgespring en gebulder: "Geltaa, Meneer, wantaa gelt maak geleerdheid!" en kaplaks het hy weer gaan sit. Soos een man het die klas uitgebars van die lag en dit was die einde van dié dag se debat. Arme Fanie - ek weet gladnie wat van hom geword het nie. Ek was die enigste een van daardie klas wat tot Matriek en verder gegaan het. Baie van my klasmaats is reeds oorlede. (Dankie vir die mooi staaltjie, tannie Rita! Ja - ongelukkig is daardie "geltaa" maar 'n belangrike element in hierdie ou lewe! Red.) KRIT Die datums vir die res van die jaar se gesprekke is: 8 Augustus 26 September en 31 Oktober.Enige belangstellende kan skakel met Susan Alexander, telefoon 235757.
TAALKUNDIGES LEER VAN VOËLS SOOS MOZART EN BEETHOVEN GEDOEN HET
'n Rede vir Beethoven, Mozart en kie se sukses is dat hul die verband tussen sekere voëlgeluide en die Westerse agtnoottoonleer gesnap het, glo navorsers. New Age-erig klink dit, maar dit sluit nou aan by een van die drie oer-teorieë omtrent die ontstaan van musiek. Vico het beweer dat die mens musiek maak omdat ons "poetic beings" is wat van nature simbole en metafore vorm. Dit is in ons gene. Ander teorieë is dat die mens getref is deur 'n lucidum intervallum (helder oomblik soos 'n weerligstraal) of dat musiek voorvloei uit "impassioned speech". Landdiere (ook die mens) se longe is gevul met lug wat die draer is van geluide. Dolfyne en walvisse gebruik blaasgatkleppe vir kommunikasie. Krieke span hul agterbene in en paddas blaassakke. Die kern is stemkommunikasie. Ornitoloë span hierdie ander velde in by navorsing. Sommige taalkundiges meen voëlgeluide kan nie as taal geklassifiseer word nie. Dr. Luis Baptista van die Departement Ornitologie en Dierkunde aan die Kaliforniese Akademie vir Wetenskap in San Francisco, sê in sy veld word voëlgeluide wel as taal beskryf omdat voëlklanke boodskappe kommunikeer. As 'n muishond gewaar word, kekkel 'n hoender "baak-buk-buk-buk ." As die gevaar uit die lug kom, sal daar "baaaawk" gekraai word. Speel die "buk-buk" voor en hoenders sal van links en regs na 'n grondpredator soek. "Baaaawk" sal hul opwaarts laat kyk en boswaarts laat vlug. Hoenders kommunikeer met 24 klanke. Baptista bestudeer die klankvorming en -funksie van die Noord-Amerikaanse witkuifkopmossie (Zonotrichia leucophrys) se geluide sedert die 1960's. Hul "praat" met minstens tien klanke. Wyfies raak uitlokkende klanke kwyt in paartyd. Deur 'n gekwetter bly groepe in kontak. Die wyfie maak 'n "seeep"-geluid as sy die nes verlaat. Die mannetjie volg dit op deur opgewonde "chip"-klanke. Hy sal 'n meter of wat agter haar vlieg of op 'n wagpos gaan sit. Klaar gevreet sal sy weer "seeep"-roep - 'n teken dat die mannetjie van sy waghoupligte onthef is. Uit verskillende klanke kan gedrag dus akkuraat voorspel word. Voëlgeluide kan tot grafiekvorm omgesit word deur 'n spektograaf. So kan die toonhoogte, lengte, ritme en geraasvlak objektief bestudeer word deurdat individue, spesies en groepe vergelyk word. Ornitoloë groepeer die klanke van voëls in twee groepe: sang en roep. Uitroepe is kort en dui op kontak of gevaar. Sang is langer, meer kompleks en word in 'n gebieds- of seksuele konteks gebruik. Sommige voëls uiter verskillende klanke teenoor die teenoorgestelde geslag. So sal 'n mannetjie wat by 'n mannetjie in 'n kou geplaas word skel geluide maak, maar teenoor 'n wyfie fluitagtige tone. Aggressiewe klank is meestal skel, terwyl vriendskaplike geluide soeter en suiwerder is. Meer en jonger wyfies word gelok deur mannetjies wat ingewikkelde wysies komponeer as die minder vokaal-begaafdes. As 'n mannetjie se wyfie tydelik weggeneem word, sal die graswewenaar soms binne 'n dag reeds meer sing. Die testes en ovaria van voëls word groter in die broeiseisoen. Sou "broeigeluide" buite-seisoen voorgespeel word, sal dit ook vergroot. "Aangesien dit slegs 'n opname van 'n voël was, dien klanke dus as seksuele stimulasie," sê Baptista. Voëlgeluide verskil van streek tot streek net soos Gautengers se aksent verskil van Wes-Kapenaars s'n. By voëls wat nie migreer nie, kan daar dialekte wees vanaf 'n radius van 2 km. Baptista sê dat dit vir hom moontlik is om te onderskei tussen die witkuifkopmossie van Alaska, Washington en Oregon. "Sommige van die voëls is "tweetalig" deurdat hul in beide dialekte kan sing," sê Baptista. "Ander sing 'hibriede' liedere deur kenmerke van beide dialekte te vermeng." Hierdie dialekte verander mettertyd weens kulturele veranderings in uitspraak van sillabes weens die invloed van immigrant-voëls. Kleintjies wat in klankdigte kamers grootgemaak word, herken die geluide van hul eie spesie en leer dit baie goed aan. Swak weergawes word aangeleer as net opnames van ander spesies gespeel word. Deur sosiale interaksie met 'n lewende leermeester was die aanleer van die klanke egter die perfekste. Voëls leer klanke die vinnigste aan binne hul eerste 50 lewensdae. "Daar is dus verstommende ooreenkomste tussen menslike taal en die aanleer, struktuur en betekenis van voëlgeluide," sê Baptista. "Dit is vrugbare grond vir taalkundiges waaruit veel geleer kan word soos komponiste reeds lankal doen." Musiek is ouer as taal of kuns, skryf Hehudi Menuhin en Curtis Davis in "The Music of Man". "Dit gaan oor ons oorweldigende behoefte om uit te reik na mekaar. Musiek is baie meer deel van die mens as woorde, want woorde is abstrakte simbole wat feitelike betekenis oordra." Moet dus nie die bewering, dat komponiste soos Beethoven en Mozart en inheemse groepe van Alaska tot Costa Rica veel by die voël geleer het, onderskat nie. Sommige voëls gebruik agtnoot-toonlere soos in Westerse musiek, terwyl sommige vyf note gebruik soos in die Chinese musiek. "Net soos komponiste gebruik voëls dikwels dieselfde ritmiese variasies, toonhoogte-verhoudings, permutasies en kombinasies van note. Hul varieer temas op baie dieselfde wyse as die mens," sê Baptista en Robin Keister van die Universiteit van Kalifornië by 'n onlangse byeenkoms van die Amerikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap. Fragmente van die koekoek is duidelik herkenbaar in Beethoven se Pastoraal en Respighi se Die Voëls. Olivier Messiaen en George Crub se musiektaal is duidelik en opsetlik gegrond op die toonlere en ritmes van voëlsang. So ook Vivaldi se "Il Gardellino". Navorsers is oortuig dat Beethoven die openingsfrases van sy rondo in sy viool-konsert by die Europese Swartvoël geleen het. Mozart het in 1784 'n spreeu gekoop. Dié voëls boots klanke briljant na. Mozart het na die voël se dood "A Musical Joke" (K. 522) gekomponeer wat baie herinner aan die klanke van sy troeteldier. Sommige glo dat dit bloot 'n karikatuur van populêre musiek in die 18de eeu was, maar ander is vas oortuig dat die "Wunderkind" dit opgetel het by dié voëltjie. WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT Jy kan nie voorkom dat die voëls van droefheid oor jou kop vlieg nie, maar jy kan seker maak dat hulle nie in jou hare nesmaak nie. Chinese Spreuk
DIE KNOOP EN DIE HOOR-HIER!
Die Knoop is die webwerf waar Afrikaanse Internet-toutjies saamgeknoop word.
Dit is ook waar die Hoor-Hier! te siene is.
Daar is letterlik honderde Afrikaanse bestemmings wat besoek kan word.
Om dit nog makliker te maak vir oningewyde Internet-snuffelaars,
is daar nou 'n soekfasiliteit opgesit om dit makliker te maak
om óf Afrikaanse onderwerpe in Suid-Afrika óf onderwerpe in enige taal, wêreldwyd te kry deur net jou onderwerp in 'n soekhokkie in te tik.
LAAT ONS VAN JOU HOOR! Dit is Junie; dit is koud. Dit is tyd vir rooiwyn (of rooi wyn soos my taalvriendin, Anna-Marie Steenkamp my op gewys het!), lekker sop en kaggelvure. Ek hoop die lesers sal energie en tyd kry om sappige stories vir ons blaadjie te stuur. Groetnis!
|
|
Vorige Uitgawe |
|
Volgende Uitgawe | |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |