|
||||
|
|
|
DAGSÊ VRIENDE Skyt, skyt die bult yt Na ‘n ruk in Lüderitz, het Ma ook vriende gemaak met ‘n paar van oom Joe-hulle se vriende. Daar was oom Danie en tannie Issie le Grange. Oom Danie was die vuurtoringwagter op Diaspunt. Die twee pragtige mense was kinderloos en hulle het nou en dan vir my en Boetie saam met hulle geneem om by hulle te gaan kuier. Oom Danie het ons selfs in sy heiligdom, die vuurtoring geneem. Ek het oopmond, effe angstig, gestaar na die reuse-lampe wat snags die flikker-flikker, lang streep lig oor die kusdorpie uitgestraal het. Oom Danie het verduidelik van die unieke kode wat elke vuurtoring oor die hele wêreld volg. Na ‘n rukkie het Boetie kriewelrig geraak en liewer wawiele buite op die sandduine gaan maak. Ek het met ontsag agter oom Danie aangestap tot hy uitstap en die deur van die toring versigtig sluit. By die huis het tannie Issie lekker kossies vir ons by hulle pragtige eetkamertafel gegee. My mond wou-wou net oophang en ek moes myself keer om nie openlik te staar na al die pragtige ornamente en prente in die netjiese ou huis nie. Dit was lekker om by die Le Grange’s te gaan kuier, maar ons het altyd met ons hande agter ons rûe in hulle huis gestap. Ander vriende van oom Joe-hulle was die Connery’s in Lüderitz self. Eers het ons hulle net by oom Joe-hulle gesien, maar later het ons gereeld by hulle gaan kuier. Veral op Vrydagaande as die grootmense Canasta gespeel het. Hulle huis was teen ‘n stywe bultjie uit. Teen ongeveer vyfuur het ons gewoonlik na hulle huis gestap. Stadig en rustig. Ma is ‘n asma-lyer en sy kon nooit inspannende oefening doen nie. Alles het goed gegaan totdat ons die bultjie moes pak; dan het Ma se bors begin gons. Sy moes gewoonlik eers haar asma-pompie gebruik voor ons kon verder. Later het ek en Boetie vir Ma van agter af gestoot. Ek weet nie of ons gehelp of gepla het nie, maar Ma het maar altyd net gelag en gemaan: Stadig! Stadig! As ons byna bo was, het Ma dan gesug: Ja my kinders, so is ons lewe maar: skyt, skyt die bult yt! Ek en Boetie het maar net gegiggel omdat ons sober ma ook ‘n kru woordjie kon gebruik. Alhoewel ons die enigste kinders in die geselskap was, het ons dit altyd by tannie Meisie en oom Conny geniet. Die grootmense het altyd eers ‘n drankie en ons kinders ‘n koeldrankie gedrink en gekyk hoe die son oor die see ondergaan. Die sitkamervenster in die luukse huis het uitgekyk oor die hele Lüderitz. Ons het soos konings gevoel. As dit begin donker word, het die grootmense by die tafel gaan sit. ‘n Geruite kombers is oor die tafel gegooi en twee pakke kaarte is uitgehaal, geskommel en gedeel. Gemeensaam het die grootmense onder die groot kristalkandelare gesit en kaart speel. Ek en Boetie het deur tannie Meisie-hulle se koffietafelboeke geblaai - versigtig met natgelekte vingertjies omgeblaai en ons aan die pragtige foto’s en illustrasies verwonder. As dit laat en ons vaak geword het, het ons sommer op die mat omgekap. Dan het Ma ons wakker geskud en oom Conny het ons met sy motor huis toe geneem. In die motor het die gesnor van die enjin en die gerusstellende gesels van Ma en oom Conny ‘n lekker gevoel oor my laat kom. Ja, die lewe is goed - al gaan dit soms skyt, skyt die bult yt. HAIKOE-KOMPETISIE In die vorige Hoor-Hier! was daar ‘n kompetisie aangekondig met as pryse: 5 Hoor-Hier Galore!-publikasies wat weggegee gaan word aan 5 gelukkige lesers wat hulle hand aan die pen wil slaan en ‘n haikoe wil instuur. Ongelukkig was daar geen dapper digter wat sy hand aan die pen wou slaan nie. Vriend Manus Hanekom het wel - vir die grap, sê hy - ‘n klompie haikoes aanmekaar geflans. Ek deel dit graag met julle:Die dag het gaan lê
die son loer nog vir oulaas
môre verf dit goud
Doudruppelpêrels
vroeg more soos melkdoekies
hang aan elke bos
Die vleiloerie roep
reënvoël in die droogtetyd
wanneer kom die reën?
Witwater klater
uit elk stroompie ruis 'n lied
hoor ek vreugde lag
Branders witskuim klots
kerf harde rotswande weg
nes tyd die lewe.
Manus - as jy sulke verse vir die pret aanmekaarflans, wil ek regtig sien wat jy kan fabriseer as jy jou hart daarop sit! Baie dankie vir jou brawe pogings. Natuurlik kry jy ‘n prys! Is daar regtig nie nog lesers wat wil probeer nie? Wie nie waag nie, kan nie wen nie. Kyk in die vorige uitgawe vir die reëls van haikoe-skryf. LESERSBRIEWE Ook uit die pen van Manus Hanekom, die volgende herinneringe uit sy kindertyd: Ai, darem maar lekker om kind te wees. Met min was jy tevrede en uit die kleine het jy plesier geskep. Kattekwaad en kinderplesier moet eintlik agtereenvolgend in die woordeboeke opgeneem word want die twee gaan heel dikwels hand aan hand. Nou moet ek darem sê dat dinge wat kattekwaad en avontuur was in my kinderdae, deesdae vir ‘n kind selfs agter tralies kan laat beland. Ek dink aan die vrugteboorde en wingerde langs die Oranjerivier en die maanlignagte met ‘n kussingsloop - gelaai met lemoene of kwepers of dadels of heerlike soet sultanas oor die skouer - op pad terug na die koshuis.Ek was op Kakamas Hoërskool, nou Martin Oosthuisen op skool en die dominee se lemoenboord en die oewerboere se wingerde was nogal heel dikwels die nagtelike besoekplekke van sommige van ons koshuiskinders en menige kere was daar noue ontkomings. Ons het altyd toktokkie met ‘n leë vuurhoutjiedosie en garing beoefen - die koshuismoeder by die meisiekoshuis was een van die slagoffers veral as sy die Saterdagaand weier om die seuns toe te laat om hul kyste te gaan besoek. Die leë dosie en die een punt van die garing word met ‘n drukspyker in die deurkosyn gedruk en dan rol jy die garingtol af tot waar julle wegkruipplek is en hiervandaan stryk jy die styfgespanne garingdraad met n klam lappie of as jy gelukkig is ‘n stukkie harpuis en nie lank nie of iemand kom loer by die deur na wat die eienaardige hieeee-hoooo, hieeee-hoooo, zoem, zoem-geluid maak. Snaaks hoe jy as kind sulke tye nie jou lag kon bedwing nie en dikwels proestend die hasepad moes kies. !(Dit klink heerlik, Manus. Geen wonder mense praat dikwels van die "goeie ou dae" nie! Red.) EK EN MY PERD Janeke Kirchner Die gewig van die saal op my arm en die toom met die stang
klingelend teen Ek sit die bruin saal versigtig regop neer en hang die toom aan
die blou Sonder om na hom te kyk, weet ek presies wát hy wánneer gaan
doen. Ek trek hom teen die houtreling in, vat my teuels in een hand vas
en steek Ek vat my teuels vas, plak my bobene teen die saal en trap my
hakke af. Saam is ons soos ‘n lading dinamiet wat ‘n plek soek om te ontplof. Ek en hy geniet dit albei en ek verlustig my aan die gedagte hoe die gesigte op die skou gaan lyk as ek en hy die baan binnekom. "Whoa." Toe ek uiteindelik klaar is, slaan die salpeterkolle onder die
saal uit. My Op 'n lekker lui stappie vat ons die pad terug saalkamer toe. Hy
kan sy oë Dan vat ons die pad stalle toe, sy neus teen my skouer: Ek en my perd. WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT Een van ons getroue lesers stuur die volgende uittreksel wat sy uit ‘n tydskrif gehaal het. Dit is die laaste strofe van ‘n lied deur die Nederlandse sanger, Jules de Corte. Die lied is getitel: "Ik zou wel eens willen weten", (in 1948 geskryf maar steeds so waar): Ik zou wel eens willen weten
Waarom zijn de mensen zo moe
Misschien door hun jacht en hun
jagen
Of misschien door hun tienduizend
vragen
En ze zijn al so lang
onderweg
naar de vrede toe
Daarom zijn de mensen zo moe
...
KERSFEES Reeds van vroegmôre
is dit ‘n byenes gewerskaf -
Die beesmisvloer is nat
besprinkel;
met ‘n biesiebesem netjies
uitgevee.
Driebeenpotte, dié is skoongeskraap
en blinkgevryf
Vanaand sal haaksel in eie vet daarin
dryf,
die piekaniens smak-smak hul lippe
afvee,
met die reuk van koljander en vinkel
...
dié dat hul so byeneswerskaf
-
so van douvoordagse môre.
Die trekklavier en kitaar
word ook uitgetoets -
nog voor die dag in die weste
rooi,
moet die snare die liefdeslied
uitpiekel.
Isabes, is in die voordansers,
sing-sing.
O! die ou harte, die tamboer
en jong are die skif -
in gelid is die voete oor die
dansvloer geskuif.
Die staaltjies uit die verlede word
besing
dat trane ongestoord
oor talle wange biggel.
Opeens as die jong meisies
hulle mollige lywe gooi
onthou elkeen uit die verlede iets
soets.
Swetend glim ebbekleurmans
kaalbolywe
in die gloed van rooi
voornagvure.
Swewend in soete melodieë
styg lieflike tone na bowe -
dit vervloei in die voue van die swoele
nag.
Juis in hierdie stemmige nag
word die Heiland gebore.
Die Hoërhand had mos hoeka so
belowe
dat dit sal wees in hierdie
voornagure.
Sagter, al sagter sing hulle iets
soets
tot die slaap hulle een vir een
neergooi
en hulle in slaapkarosse knus toewikkel
en dat hulle nooit
die engelekoor kan hoor sing
wat vanuit hoë sfeer oor
slapende menigte skuif.
Wee dié wat nog daardie tyd
fuif.
In lieflike tone, die engelekoor
sing
om die maagd
alleen in barensnood gewikkel
-
haar skraal wese word
neergegooi
en tot die uiterste getoets!
In die goue môre -
almal is vies en bekaf;
met wasems van verslane mos,
koljander en vinkel
wat die oorskiet en vuil skottels
afgee.
Die wêreld gaan met hul
die bittere spot dryf.
Ja, proteïne en alkane kan goud
aandryf
en baie water die pas aangee.
Nog steeds in robyn-perlemoer
is geskenke toegewikkel.
Hoëbloeddruk en stres maak die siel
nerfaf
en dit in die flambojant-karmosyn
môre?
Hans #Eichab (Uit die Boendoes, 1982)LAAT ONS VAN JOU HOOR! Ek wil al ons Hoor-Hier!-lesers ‘n baie gelukkige Kerstyd toewens. Dit is ‘n tyd van rus en welbehae; ‘n tyd van luister en kuier met bekende ou vriende. Dit is ‘n tyd van batterye herlaai en moed opbou vir die nuwe jaar. Mag die Christuskind ook te vinde wees onder die gaste wat u hierdie tyd uitnooi na u huise toe. Groete! Ons praat weer in 2001
|
|
Vorige Uitgawe |
|
Volgende Uitgawe | |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |