HOOR-HIER!

Desember 2000: 39

Redaktrise: Susan Alexander

Telefoon tuis: (061) 235757

Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier/

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS


DAGSÊ VRIENDE

Skyt, skyt die bult yt

Na ‘n ruk in Lderitz, het Ma ook vriende gemaak met ‘n paar van oom Joe-hulle se vriende. Daar was oom Danie en tannie Issie le Grange. Oom Danie was die vuurtoringwagter op Diaspunt. Die twee pragtige mense was kinderloos en hulle het nou en dan vir my en Boetie saam met hulle geneem om by hulle te gaan kuier. Oom Danie het ons selfs in sy heiligdom, die vuurtoring geneem. Ek het oopmond, effe angstig, gestaar na die reuse-lampe wat snags die flikker-flikker, lang streep lig oor die kusdorpie uitgestraal het. Oom Danie het verduidelik van die unieke kode wat elke vuurtoring oor die hele wreld volg. Na ‘n rukkie het Boetie kriewelrig geraak en liewer wawiele buite op die sandduine gaan maak. Ek het met ontsag agter oom Danie aangestap tot hy uitstap en die deur van die toring versigtig sluit.

By die huis het tannie Issie lekker kossies vir ons by hulle pragtige eetkamertafel gegee. My mond wou-wou net oophang en ek moes myself keer om nie openlik te staar na al die pragtige ornamente en prente in die netjiese ou huis nie. Dit was lekker om by die Le Grange’s te gaan kuier, maar ons het altyd met ons hande agter ons re in hulle huis gestap.

Ander vriende van oom Joe-hulle was die Connery’s in Lderitz self. Eers het ons hulle net by oom Joe-hulle gesien, maar later het ons gereeld by hulle gaan kuier. Veral op Vrydagaande as die grootmense Canasta gespeel het.

Hulle huis was teen ‘n stywe bultjie uit. Teen ongeveer vyfuur het ons gewoonlik na hulle huis gestap. Stadig en rustig. Ma is ‘n asma-lyer en sy kon nooit inspannende oefening doen nie. Alles het goed gegaan totdat ons die bultjie moes pak; dan het Ma se bors begin gons. Sy moes gewoonlik eers haar asma-pompie gebruik voor ons kon verder. Later het ek en Boetie vir Ma van agter af gestoot. Ek weet nie of ons gehelp of gepla het nie, maar Ma het maar altyd net gelag en gemaan: Stadig! Stadig!

As ons byna bo was, het Ma dan gesug: Ja my kinders, so is ons lewe maar: skyt, skyt die bult yt!

Ek en Boetie het maar net gegiggel omdat ons sober ma ook ‘n kru woordjie kon gebruik.

Alhoewel ons die enigste kinders in die geselskap was, het ons dit altyd by tannie Meisie en oom Conny geniet. Die grootmense het altyd eers ‘n drankie en ons kinders ‘n koeldrankie gedrink en gekyk hoe die son oor die see ondergaan. Die sitkamervenster in die luukse huis het uitgekyk oor die hele Lderitz. Ons het soos konings gevoel.

As dit begin donker word, het die grootmense by die tafel gaan sit. ‘n Geruite kombers is oor die tafel gegooi en twee pakke kaarte is uitgehaal, geskommel en gedeel. Gemeensaam het die grootmense onder die groot kristalkandelare gesit en kaart speel. Ek en Boetie het deur tannie Meisie-hulle se koffietafelboeke geblaai - versigtig met natgelekte vingertjies omgeblaai en ons aan die pragtige foto’s en illustrasies verwonder. As dit laat en ons vaak geword het, het ons sommer op die mat omgekap. Dan het Ma ons wakker geskud en oom Conny het ons met sy motor huis toe geneem. In die motor het die gesnor van die enjin en die gerusstellende gesels van Ma en oom Conny ‘n lekker gevoel oor my laat kom.

Ja, die lewe is goed - al gaan dit soms skyt, skyt die bult yt.

HAIKOE-KOMPETISIE

In die vorige Hoor-Hier! was daar ‘n kompetisie aangekondig met as pryse: 5 Hoor-Hier Galore!-publikasies wat weggegee gaan word aan 5 gelukkige lesers wat hulle hand aan die pen wil slaan en ‘n haikoe wil instuur. Ongelukkig was daar geen dapper digter wat sy hand aan die pen wou slaan nie. Vriend Manus Hanekom het wel - vir die grap, s hy - ‘n klompie haikoes aanmekaar geflans. Ek deel dit graag met julle:

Die dag het gaan l
die son loer nog vir oulaas
mre verf dit goud
Doudruppelprels
vroeg more soos melkdoekies
hang aan elke bos
 
Die vleiloerie roep
renvol in die droogtetyd
wanneer kom die ren?
 
Witwater klater
uit elk stroompie ruis 'n lied
hoor ek vreugde lag
 
Branders witskuim klots
kerf harde rotswande weg
nes tyd die lewe.

Manus - as jy sulke verse vir die pret aanmekaarflans, wil ek regtig sien wat jy kan fabriseer as jy jou hart daarop sit! Baie dankie vir jou brawe pogings. Natuurlik kry jy ‘n prys!

Is daar regtig nie nog lesers wat wil probeer nie? Wie nie waag nie, kan nie wen nie. Kyk in die vorige uitgawe vir die rels van haikoe-skryf.

LESERSBRIEWE

Ook uit die pen van Manus Hanekom, die volgende herinneringe uit sy kindertyd:

Ai, darem maar lekker om kind te wees. Met min was jy tevrede en uit die kleine het jy plesier geskep. Kattekwaad en kinderplesier moet eintlik agtereenvolgend in die woordeboeke opgeneem word want die twee gaan heel dikwels hand aan hand. Nou moet ek darem s dat dinge wat kattekwaad en avontuur was in my kinderdae, deesdae vir ‘n kind selfs agter tralies kan laat beland. Ek dink aan die vrugteboorde en wingerde langs die Oranjerivier en die maanlignagte met ‘n kussingsloop - gelaai met lemoene of kwepers of dadels of heerlike soet sultanas oor die skouer - op pad terug na die koshuis.

Ek was op Kakamas Horskool, nou Martin Oosthuisen op skool en die dominee se lemoenboord en die oewerboere se wingerde was nogal heel dikwels die nagtelike besoekplekke van sommige van ons koshuiskinders en menige kere was daar noue ontkomings.

Ons het altyd toktokkie met ‘n le vuurhoutjiedosie en garing beoefen - die koshuismoeder by die meisiekoshuis was een van die slagoffers veral as sy die Saterdagaand weier om die seuns toe te laat om hul kyste te gaan besoek. Die le dosie en die een punt van die garing word met ‘n drukspyker in die deurkosyn gedruk en dan rol jy die garingtol af tot waar julle wegkruipplek is en hiervandaan stryk jy die styfgespanne garingdraad met n klam lappie of as jy gelukkig is ‘n stukkie harpuis en nie lank nie of iemand kom loer by die deur na wat die eienaardige hieeee-hoooo, hieeee-hoooo, zoem, zoem-geluid maak. Snaaks hoe jy as kind sulke tye nie jou lag kon bedwing nie en dikwels proestend die hasepad moes kies.!

(Dit klink heerlik, Manus. Geen wonder mense praat dikwels van die "goeie ou dae" nie! Red.)

EK EN MY PERD

Janeke Kirchner

Die gewig van die saal op my arm en die toom met die stang klingelend teen
my bene is al so bekend dat ek dit nie eens meer agterkom nie. Ek l die
kort entjie na sy stal vinnig af. Ek is altyd haastig.

Ek sit die bruin saal versigtig regop neer en hang die toom aan die blou
ysterpennetjie langs die staldeur op.
Ek stoot die deur oop. Hier staan hy: Ninety Nine Ghost Pop. My perd.
Hy kom vinnig nader, sy ore vorentoe.
"Hallo, Seun," groet ek met 'n vinnige vryf oor sy fluweelsagte neus. Ek kry die toom en begin opsaal. Feitlik outomaties. Toe ek die buikgord styf trek, gee Ghost 'n klein, gelate suggie. Ek glimlag en lei hom uit.

Sonder om na hom te kyk, weet ek presies wt hy wnneer gaan doen.
Eers loer hy na die hings wat ongeduldig in 'n houtkampie agter blok C
teen die reling rondloop. Ek weet regtig nie of Ghost dalk een van di se
bewonderaars is nie. Dan draai ons om en stap om die hoek na die saalkamer. Natuurlik eers verby die grasstal waar daar altyd 'n hoop voor die deur l waarvan my liewe ou perdjie 'n happie mt h.
Ek hak my arm deur die teuels en stap aan terwyl ek my hemp in my rybroek
insteek.

Ek trek hom teen die houtreling in, vat my teuels in een hand vas en steek
my voet in die linkerstiebeuel. Vir 'n oomblik huiwer ek, die senuwees soos
'n knop in my maag. Dan haal ek diep asem, wip drie sprongetjies en
lanseer myself mooi netjies in die saal.
En nou is dit net ek en hy.
Ons stap rustig af skoubaan toe. Leer tussen my vingers, yster onder my
voete.

Ek vat my teuels vas, plak my bobene teen die saal en trap my hakke af.
"Draf," beveel ek en maak my kloek-tonggeluidjies. Hy gehoorsaam en net soos elke keer voel ek soos 'n vrygelate duif. Die wind wat deur my hare kam, die uitbundige snorkie wat hy elke nou en dan gee, die wete dat hy regtig net sy heel beste vir my wil gee.

Saam is ons soos ‘n lading dinamiet wat ‘n plek soek om te ontplof. Ek en hy geniet dit albei en ek verlustig my aan die gedagte hoe die gesigte op die skou gaan lyk as ek en hy die baan binnekom.

"Whoa."
Ons stop. Ek gee hom 'n tevrede klappie teen die nek. Ons draai om en draf
weer.

Toe ek uiteindelik klaar is, slaan die salpeterkolle onder die saal uit. My
spook-perd is moeg, maar ek is hoogs tevrede.

Op 'n lekker lui stappie vat ons die pad terug saalkamer toe. Hy kan sy o
nie van die grasperk afhou nie en ek sit en skommel gerieflik op sy rug, my
o op sy nek en my hand teen sy blad.
Ek saal af, sit die halter aan en lei hom na die tuinslang waar hy teensinnig toelaat dat ek hom afspuit. Dan grawe ek twee dik wortels uit my sak en gee dit vir hom. Soos altyd glimlag ek as hy die wortels met klein, beskaafde happies opknabbel.

Dan vat ons die pad stalle toe, sy neus teen my skouer: Ek en my perd.

WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT

Een van ons getroue lesers stuur die volgende uittreksel wat sy uit ‘n tydskrif gehaal het. Dit is die laaste strofe van ‘n lied deur die Nederlandse sanger, Jules de Corte. Die lied is getitel: "Ik zou wel eens willen weten", (in 1948 geskryf maar steeds so waar):

Ik zou wel eens willen weten
Waarom zijn de mensen zo moe
Misschien door hun jacht en hun jagen
Of misschien door hun tienduizend vragen
En ze zijn al so lang onderweg
naar de vrede toe
Daarom zijn de mensen zo moe ...

KERSFEES

Reeds van vroegmre
is dit ‘n byenes gewerskaf -
Die beesmisvloer is nat besprinkel;
met ‘n biesiebesem netjies uitgevee.
Driebeenpotte, di is skoongeskraap
en blinkgevryf
Vanaand sal haaksel in eie vet daarin dryf,
die piekaniens smak-smak hul lippe afvee,
met die reuk van koljander en vinkel ...
di dat hul so byeneswerskaf -
so van douvoordagse mre.
Die trekklavier en kitaar
word ook uitgetoets -
nog voor die dag in die weste rooi,
moet die snare die liefdeslied uitpiekel.
Isabes, is in die voordansers, sing-sing.
O! die ou harte, die tamboer
en jong are die skif -
in gelid is die voete oor die
dansvloer geskuif.
Die staaltjies uit die verlede word besing
dat trane ongestoord
oor talle wange biggel.
Opeens as die jong meisies
hulle mollige lywe gooi
onthou elkeen uit die verlede iets soets.
Swetend glim ebbekleurmans kaalbolywe
in die gloed van rooi voornagvure.
Swewend in soete melodie
styg lieflike tone na bowe -
dit vervloei in die voue van die swoele nag.
Juis in hierdie stemmige nag
word die Heiland gebore.
Die Horhand had mos hoeka so belowe
dat dit sal wees in hierdie voornagure.
Sagter, al sagter sing hulle iets soets
tot die slaap hulle een vir een neergooi
en hulle in slaapkarosse knus toewikkel
en dat hulle nooit
die engelekoor kan hoor sing
wat vanuit ho sfeer oor
slapende menigte skuif.
Wee di wat nog daardie tyd fuif.
In lieflike tone, die engelekoor sing
om die maagd
alleen in barensnood gewikkel -
haar skraal wese word neergegooi
en tot die uiterste getoets!
In die goue mre -
almal is vies en bekaf;
met wasems van verslane mos,
koljander en vinkel
wat die oorskiet en vuil skottels afgee.
Die wreld gaan met hul
die bittere spot dryf.
Ja, protene en alkane kan goud aandryf
en baie water die pas aangee.
Nog steeds in robyn-perlemoer
is geskenke toegewikkel.
Hobloeddruk en stres maak die siel nerfaf
en dit in die flambojant-karmosyn mre?

Hans #Eichab

(Uit die Boendoes, 1982)

LAAT ONS VAN JOU HOOR!

Ek wil al ons Hoor-Hier!-lesers ‘n baie gelukkige Kerstyd toewens. Dit is ‘n tyd van rus en welbehae; ‘n tyd van luister en kuier met bekende ou vriende. Dit is ‘n tyd van batterye herlaai en moed opbou vir die nuwe jaar. Mag die Christuskind ook te vinde wees onder die gaste wat u hierdie tyd uitnooi na u huise toe.

Groete! Ons praat weer in 2001

 


         
Vorige Uitgawe   Volgende Uitgawe
Tuisblad   Gasteboek