|
||||
|
|
|
DAGSÊ VRIENDE Ek het onlangs 'n gesprek met 'n vriend wat my baie indringend uitvra oor die gebruik van outobiografiese materiaal in 'n storie. Hy vra toe: het 'n skrywer werklik die reg om dinge van 'n ander persoon te skryf op die gevaar af dat jy mense se gevoelens kan krenk? Dit het my toe nogal (weer!) laat nadink. Natuurlik sal sommige mense iets van hulself herken in die karakters wat ek teken. Ek moet egter sommer hier en nou bysê dat ek baie lieg. Aangesien lieg mos nie 'n mooi woord is nie, sal ek dit só stel: ek gaan kreatief met die werklikheid om ...
Ester met die warm hart en skurwe hande
Die waarde van vriende en vriendskap word op Lüderitz vir die eerste keer vir my 'n werklikheid. Ek het enkele baie goeie meisiesvriende en almal in die standerd vyf klas is maats met mekaar. Soms hou ons konsert in die klas as mnr. Pretorius in sy kantoor sit. Coenie is 'n plesier en 'n aanwins; hy eet 'n sakvol heerlikhede op 'n dag op - maar hy is ook nie skaam om dit te deel met ons nie. Hy kan ook grappe vertel. Vir die eerste keer in my lewe hoor ek 'n paar skurwe grappe. Ek verstaan nie altyd waaroor almal lag nie - maar ek sterf eerder as om te vra. Ek lag net gewoon saam. Soms lees ek van my gedigte voor. Ek probeer om my klasmaats die hoofkarakters in die gedigte te maak. Hierdie karakters doen onmoontlike dinge. Die gedigte is wel geen groot kunswerke nie, maar ek misbruik rymwoorde en skets situasies wat ons ure se genot verskaf. Pouse koek-koek ons meisies saam en giggel en vertel stories. Ester het besluit dat sy baie van my hou. Sy bring altyd fyngebak skool toe. Dié word met my gedeel. Ek kan nooit die heerlike Duitse bakkery-delikatesse bekostig nie, en ek wonder net soms hoe Ester dit kan koop. Want as ons arm is, is Ester waaragtig armer as ons. Ek vermoed dat sy nie 'n pa het nie. Daar word geskinder dat Ester se ma 'n minder eerbare werk het. Ek vra nie uit na hulle huislike omstandighede nie en Ester vertel nie uit haar eie nie. Ek weet net dat Ester nooit in die middag na skool en na studietyd kan kom speel nie. Sy mompel altyd iets van werk by haar huis en skottelgoed. Ek dink dat Ester seker baie hard moet werk by haar huis. Ek was ook elke dag vir my ma skottelgoed, maar my hande is nie so rooi en skurf soos Ester s'n nie. Ester is nie baie slim nie, maar ek kry 'n sagte plek vir haar in my hart. Ek verdedig haar ook vurig as iemand iets sê wat haar ongelukkig maak - want sy kan haarself nie verdedig nie. Sy begin net te stotter en dan begin sy geluidloos huil. Die trane stroom net oor haar wange. Ek en Ester bly vriende terwyl ons saam in die laerskool is. Na laerskool het ek Ester nooit weer gesien nie. LESERSBRIEWE Ek plaas graag 'n heerlike brief van Manus Hanekom: Dagsê Susan Ek het hierdie jaar stadig opgewarm nes jaar toet se Fordjies op n koue wintersoggend, maar liefs laat as nooit. Het jou Januarie-uitgawe van Hoor-Hier soos altyd geniet en mooi geluister na die klanke uit die verlede. Ek sit hier met twee van my "rympies" wat ek wik en weeg om aan jou te stuur. Siende dat jy, glo ek, ook 'n kampvuur-mens is, stuur ek een wat ek een aand uit my herinneringsveld van die Namib en Kaokoland gaan haal het. So jammer dat van die ou vriende wat dikwels saam met my om die kampvuur gesit het vandag nie meer by ons is nie. Dit kleur die vaal van die koue as nog meer grys en werp 'n sluier op die glans van die sterre.
Toe ek vandag so luister na geselsies, redenasies en wyshede oor die radio en weer maar hoor hoe word Engelse woorde in Afrikaans omvorm (of is dit misvorm?), het ek die volgende gedagtes kwytgeraak:
Fluit-fluit Nog 'n brief van 'n gereëlde leser en bydraer, tannie Mari D'Alton: Ek moes so tien, elf jaar gewees het toe my pa die pragtige, waterryke plaas, Schoonspruit, naby Machadodorp koop. Daar was 'n gerieflike huis op, maar geen aangelegde water nie, hoewel daar 'n sterk stroom helderwit vars water voor die agterdeur verbygestroom het tot by die kranse, waar dit by die waterval aangesluit het. Ek en my suster het elke liewe oggend afgehardloop na die spruit bokant die waterval om 'n stortbad te neem waar 'n systroompie 'n klein watervalletjie op sy eie gevorm het. Op winteroggende was die staande dele langs die valletjie hard verys, maar daaraan het ons ons nie gesteur nie. Waar het die lieflike strome water vandaan gekom? Bo, naby die westelike lyndraad het daar 'n soort papkuil gestaan. Groot rotse, met hul tone diep in die aarde geplant, het die water van 2 bronne daar vasgekeer. As ons wou swem en in die water baljaar, het ons ons swemgoeters oor die skouer gegooi en oor die bult geloop na my oom James Davies se plaas, en saam met sy kinders en soms van die ander bure s'n ook, baljaar tot ons gebibber het van die koue. Die water in daardie spruit was omtrent net so sterk as Schoonspruit s'n. In die swemgat was die water so sterk dat ons ons soms vir die pret laat wegspoel het tot waar dit breed en vlak geword het. Ons pa het op en af gestap om 'n plekkie te kry waar hy hawer vir die perde kon saai. Al wat Vader kon kry, was 'n pragtige stuk grond bo in die vlei, maar dan sal die rotse uitgeblaas moet word. Toe die seuns, met hulle geklimmery in die kranse, op 'n kis dinamiet afkom, gaan ons pa en rapporteer dit op Machadodorp by die magistraat. Die hooggeplaatste heer sit toe met die hande in die hare. Tot dusver het nog niemand gerapporteer van verlore plofstof nie. Die goed moes al jare daar gelê het. Die magistraat vra toe of Vader die goed kan gebruik. "Toevallig juis," is die antwoord, "maar hoewel ek al gesien het hoe daarmee gewerk word, het ek geen kwalifikasies in hierdie opsig nie." "Meneer, ons ken u as 'n verantwoordelike persoon. Gebruik die goed gerus, want hoe sal ek daarmee maak?" Die kas dinamiet word toe met die grootste versigtigheid uit die kranse afgedra en op die waenhuis se solder gebêre, die gevaarlike dele ver van mekaar. Nou, om die twee tienderjarige seuns wat nog in die huis was, te leer hoe om in die rots te boor, die lading deeglik en versigtig te laai en die lont lank genoeg te maak sodat, nadat dit aanbrand gesteek is, die aansteker ver genoeg is om nie opgeblaas te word nie, het baie tyd geneem. So nou en dan was daar twee tiener-plaasarbeiders wat moes bystaan, "alhoewel julle nooit sal gesê word om aan te steek nie, moet julle darem weet wat aangaan," het Vader gesê. Toe kom die harde werk. Sugvore moes gemaak word om die water af te lei. Die stukke rots wat so losgeskiet is en in die sugvore baland het moes uitgehaal word, saam met die modder. Die water sak dan in die vore weg en word in die spruit in gelei. Ons was nie bietjie trots nie op ons broers wat, soos die Hollanders, grond drooglê om lande te kan maak! Vakansies kon ons nie wag om by die huis te kom om die vordering van die drooglêery te monitor nie. Ek wens jy kon sien die amper manhoogte hawer wat op daardie land gestaan het. Een-een is ons uit die huis uit, en die plaas word verkoop. Sowat 'n jaar gelede vra ek iemand wat onlangs op Schoonspruit was, hoe dit daar is. Bestaan ons lekker ou swemgat nog ? Nee - niks, niks. Schoonspruit het nie 'n druppel water in nie en Davies se spruit, waar ons die water toegelaat het om ons stroomaf te dryf, bestaan nie meer nie. Uit skone onkunde het ons mense twee spruite se bron vermoor. LEKKERLEESLYS Graag wil ik de HOOR-HIER! lezers attenderen op een Afrikaans-Nederlands woordenboekje onder de titel: "Lekkerleeslys". Deze Lekkerleeslys is in 1990 samengesteld door Dhr. A. Nothnagel; destijds Zuid Afrikaans ambassadeur in Nederland. Dat boekje is hoofdzakelijk samengesteld voor Nederlands talige mensen die belangstelling hebben voor de Afrikaanse taal. In het woorwoord schrijft Dhr. Nothnagel: "Die doel van hierdie woordelys is om Nederlanders iets te vertel oor hulle Afrikaanse familielid aan die suidpunt van Afrika en om belangstelling vir die Afrikaanse taal by Nederlanders aan te wakker. Natuurlik is dit nie die eerste lys van sy soort nie en hopelik ook nie die laatste nie. Dit is egter nuut en sluit meer as 1950 woorde in wat hedendaags in die Afrikaanse taal gebruik word. Taal is soos die mens, lewend en veranderend, 'n proses van kom en gaan. So is dit ook met woorde, dit leef en verander in die volksmond. Hierdie woordelys gee nie voor om 'n wetenskaplike vaktaalwoordeboek te wees nie". Aldus dhr. Nothnagel. Door faillissement van de uitgever is de oorspronkelijke copyright vervallen; deze berust nu bij de huidige uitgever. Dit boekje zal nu onder dezelfde titel worden uitgegeven door: Johan Kolkman Biesterveld 48 7251 VT Vorden Nederland tel 0575 551955 E mail jenb.kolkman@hetnet.nlInformatie en eventuele bestellingen aan bovenstaand adres. Hieronder een kleine selectie uit de ruim 1950 woorden uit de Lekkerleeslys.
WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT Uit Hans du Plessis se bundel Innie skylte vannie Jirre; Griekwapsalms en ander gedigte, wat pas by Lapa-uitgewers in Pretoria verskyn het. Die Gebed van Jabes (1 Kronieke 4:10) Jirre, stier tog nou U se wolklikheit, en goi U se drippelse op onse koppe yt. Gjee onse weidingse meerderder gras en hou ons tog oener U se vlerkense vas. Keer die beerlou van onse lyfte af weg en draai tog net onse lewe wee bietjie reg: lattie hyl ons nie innie nagte so matlik slattie, ennie trane ons nie oppie mirrag skierlik vattie. EK GROET JULLE TOT 'N VOLGENDE KEER Met die koeligheid in die lug, die snoesige binnebly en sop en rooiwyn voor die kaggel ... laat die kreatiewe sappe vloei en stuur bydraes vir ons blaadjie!
|
|
|
|||||||||||||||