HOOR-HIER!

Junie 2001: 45

Redaktrise: Susan Alexander
Telefoon tuis: (061) 235757
Vanaf SA: (0926461) 235757
Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na

Hoor-Hier!


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

DAGSÊ VRIENDE

Koshuislewe

Ma spring rond om alles te reël vir die hoërskool. Sy laat tot twee nuwe rokke vir my maak - 'n pienke met 'n lang lyfie en 'n pragtige blommetjiesgeel rok. My tas word weke voor die tyd gepak en uitgepak en weer ingepak. Ma reël dat Boetie 'n paar dae by tannie Joekie-hulle sal bly sodat sy my self koshuis toe kan neem en inskryf by die skool.

Ons waai vir oom Joe-hulle op die platform as die trein stadig uittrek. Ek staar by die treinvenster uit terwyl die bekende landskap verby beweeg: die hawe en vissersbote, die pragtige Duitse geboue, die ou boerekamp. My hart kom sit in my keel. Selfs Ma lyk maar vir my effens benoud. Ons praat nie veel nie. Ma bestel net later tee en ons eet maar 'n paar toebroodjies. Lüderitz en Keetmanshoop is gelukkig net 'n paar uur uit mekaar uit. Voor donker is ons op Keetmanshoop.

Ou vriende van Ma kom haal ons op die stasie. Ons gaan eers die aand by hulle slaap. Ek kan nie in die vreemde bed aan die slaap raak nie. Dit voel asof ek nie asem kan kry nie.

Dit is nog donker, dan staan ek reeds op en trek aan. Ek gaan borsel my tande in die klein badkamertjie aangrensend aan die kamer. Ma word wakker en sê ek moet by haar op die bed kom sit. Sy hou my hand vas, half onbeholpe. Ons praat nie. Ma staan ook maar op en trek aan.

Na ontbyt neem Ma se vriende ons na die skoolgebou toe. Daar is baie ander mense en kinders. Mens kan sommer sien wie is die nuwe kinders. Hulle lyk almal soos springhase wat 'n jaglamp gewaar het.

By die skool vul Ma 'n vorm in sodat ek my skoolhandboeke gratis kan kry. Die skoolhoof is vriendelik. Hy skud Ma se hand en sê dat sy nie bekommerd hoef te wees oor haar dogter nie.

Van die skool af stap ons na die koshuis wat net oorkant die straat is. Ons ontmoet die koshuisvader, mnr. Pretorius. Hy gee vir my 'n lys met die koshuisreëls. Ma vul ook hier 'n vorm in omdat ek teen 'n spesiale tarief in die koshuis gaan bly. Ek voel dat my wange bietjie rooi raak as mnr. Pretorius die vorm saam met Ma deurgaan.

Een van die groter kinders gaan wys vir Ma en vir my waar my kamer is. Daar is 'n lang slaapsaal met veertien opgemaakte beddens - sewe beddens weerskante van die saal. In die vertrek langsaan is daar sluitkaste waar ek my klere kan inpak. Ma help my om my paar besittings in die kas te pak. Daar is ook 'n paar ander kinders wat hulle klere uitpak. Ek praat nie met hulle nie. Ek ken hulle nie. Ek wens darem dat daar 'n ander Lüderitzkind wil opdaag.

As al my goedjies uitgepak is, gaan pak ek my Bybel en 'n boksie met tissues in die klein laaikassie voor die bed wat in een van die hoeke geskuif is. Die ander kinders het reeds vir hulle ook beddens uitgekies. Ek is bly dat ek 'n bed in die hoek gekry het.

Ma sê dat sy moet gaan, haar vriende sal haar kom oplaai. Sy gaan die volgende oggend weer terug met die trein, maar sy sal my eers kom groet. Dit is Vrydag, dus sal daar die volgende dag nog nie skool wees nie. Ek stap saam met Ma tot by die koshuis se voordeur. Sy hou my vas en sê ek is nou 'n groot dogter en sy is trots op my.

Ek stap stadig terug na die die koshuiskamer. Feitlik al die kinders wat in die kamer moet bly, is reeds daar. Die een dogter is baie vrolik en lyk in haar skik met die kamer en die koshuislewe. Sy spring op die bed en bulder: Hou julle klomp standerd sessies nou op om so verskrik te lyk. Ons gaan ons lewe geniet! My naam is Sophia - en wat is joune? Sy gaan op die ry af en vra almal se name. Die ander kinders antwoord heel bedees, maar die geselsery verlig darem die spanning. My hart spring byna by my keel uit toe Ronel by die kamer instap. Ek omhels haar en lei haar na die bed langs myne wat nog oop is. Ons gesels en ek help haar om uit te pak. Haar ouers het nie saamgekom nie. Vriende van hulle het haar net by die koshuis kom aflaai. Ek voel sommer stukke beter. Ek en Ronel is bymekaar en dit is al wat saak maak.

As die klok lui, stroom die standerdseskinders maar agter die ander kinders aan eetsaal toe. Daar is lang tafels met wit tafeldoeke gedek, borde en messegoed, water in groot flesse, glase, gesnyde brood, gerasperde kaas en konfyt.

Mnr Pretorius kom by die deur ingestap en die stemme word stil. Hy en sy vrou gaan staan by 'n kleinerige tafel. Kom ons vra die seën, kondig hy stil aan. Na 'n kort gebed, word die stoele knarsend uitgetrek en almal gaan sit. Die dogters gesels fluisterend. Daar word duidelik nie toegelaat dat kinders hard praat nie. Ek voel hoe die verlatenheid weer oor my wil-wil toesak. Dan sien ek dat Ronel se gesig oorkant my ook maar wit is. Ek knipoog vir haar en ons steek saam ons hande uit om elk 'n sny brood te neem. Brood, botter, konfyt en gerasperde kaas. Lekker! My eerste ete by die koshuis.

Na ete staan mnr. Pretorius op en heet al die nuwe kinders welkom. Hy verduidelik die koshuisreëls kortliks, die betekenis van die klokke, die rol van die koshuisprefekte. Ek luister baie aandagtig. Ek wil tog nie in die moeilikheid beland nie.

Na aandete stap die kinders in die skemer buite rond. Ek en Ronel stap ook maar en verken die koshuisgronde. Ons hou hande vas. Na 'n halfuur gaan ons eerder terug na ons kamer. Ons sit op die bed en gesels nog. Later gaan bad ons en trek slaapklere aan. Dit is nog effens vroeg, maar ons is bang dat ons nie klaar sal wees voor die klok lui nie.

Die ander kinders streep ook terug, was en sit of lê op hulle beddens. Almal gesels gedemp, nou duidelik meer op hulle gemak met mekaar. Die meeste kinders se ouers is Suide-boere en hulle ken die koshuislewe. As die eerste klok lui, haal die ander kinders hulle Bybels uit en begin lees. Ek doen maar dieselfde alhoewel ek nie gewoond is daaraan om saam met ander mense stiltetyd te hou nie. As ek bid, is daar net een sin wat deur my gedagtes maal: Asseblief liewe Here, laat my net die eerste paar dae oorleef!

LESERSBRIEWE

Ek ontvang 'n pragtige storie in digvorm van tannie Mari D'Alton van Tsumeb. Ek deel dit graag met ons lesers:
  TAALSTRYD IN 1922

Ek was maar in standerd ag,
die mooie Pool in Matriek,
toe ek sommer op 'n dag
uitvind dat ek bly én siek
voel sodra ek hom sien.

Hy leen my boeke om te lees;
ons skryf briefies aan mekaar
wat ons in die boeke pos.
Ek leef, en beef in grootste vrees
dat iemand ons geheim -
so goed bewaar -
sou oopvlek tot die skool
se grootste pret.

Toe word ek vir ete uitgenooi
deur sy ma, 'n hooggetoë Skot.
Die tafel, feestelik opgetooi,
kreun onder kos en gebak vir 'n fees.
Ek probeer om gesellig te wees,
maar die rooi taal bly my tong
aanmekaar in knope draai.

Ek voel verplig om keer op keer
my toevlug te neem na my moedertaal,
die lingua franca van ons dorp
wat iedereen op skool moes leer
om op die dorp te funksioneer.
So halfpad deur die lekker maal,
kon vader Pool dit nie meer hou
om my kombuistaal aan te hoor.
Hy vertel my kort en kaal
dat hy aan sy tafel nooit nie
'n gesprek in daardie taal wil hoor.
Die lekker kos
word soos skaafsels in my mond.

Mamma en haar kroos van ses
ys amper voelbaar en hou op met eet.
Ek plaas vurk en mes
stilletjies op my bord terug.
Mamma glim so ongestoord en sê,
ons moenie nou al stop nie:
daar kom nog nagereg.

Die dag daarop gee ek sy boek terug
met 'n briefie ingesluit:
As my taal nie goed genoeg is nie,
dan moet ek, tot my spyt,
my uit ons kys onttrek.

Ouma Gedoriewaar 8 Februarie 2001
 

(Ouma Gedoriewaar - wat sal ons sê van al hierdie dinge? Baie dankie vir die storie! Red.)

KRIT

Op Dinsdag, 29 Junie word die roman, Donkermaan deur André P. Brink, by Krit bespreek. Die gesprek begin om 19:00 by die kantore van Windhoek Consulting Engineers. As u meer inligting wil hê, kan u skakel met Susan Alexander (kontaknommers bo-aan die bladsy).

DIE OLIEBOLHONNE(D)ROL

Andree-Jeanne Tötemeyer

Tussen die ouderdomme van elf en veertien was ek baie ondeund en vol poetse. Miskien was dit 'n soort vertraagde kindertyd. Té soet gewees gedurende die eerste jare van my skoolloopbaan. Wel, my twee poetspêlle in die klas was Hettie en Deon. Die dag van die oliebolhonne(d)rol het só verloop:

Deon bring een môre 'n eienaardige objek skool toe. Dit was 'n kliphard gebakte stukkie deeg wat in die oliebolpot gevind is nadat die gebruikte olie uitgegooi is. Deon het saam met die bûre se kinders die vorige aand oliebolle gebak. Die dingetjie had 'n snaakse vorm: so 'n hopie onder met 'n vertikale stukkie in die middel. Deon was ook nie links nie, en het die affêretjie met 'n blinkbruin enamelverf geverf. Toe lyk dit darem kompleet na hond-se-ding en vars daarby ook.

Ons eerste teiken is Miss M, die Engelsonderwyseres. Ons had Miss M baie lief, maar ai!, dit was so lekker om haar te terg! Miskien omdat sy so 'n lady was. Met ons het sy net Engels gepraat, binne en buite die klas, maar met haar kollegas, Afrikaans. Dit was per slot van sake 'n Afrikaanse hoërskool. Haar aksent was taamlik sterk Engels. Haar erre was soos in "wrong", dus was dit "meneewr" en "mevwrou".

Ewenwel, net voor die einde van die eerste pouse sit Deon die hond-se-ding teen die tafelpoot en Hettie gooi nog 'n bietjie water oor. Dis tyd vir die 8A klas se Engelse periode. Miss M kom ingestap, maar sy steek vas 'n paar treë binnekant die kamer. Die klas sit tjoepstil. Miss M is duidelik heel onkant gevang en lyk effens paniekerig. Sy begin weer beweeg, maar maak anders as gewoonlik, so 'n wye draai vóór om die tafel om tot agter die tafel te kom. Iemand proes hard…

Miss M se neusvleuels tril afkeurend… Sy probeer iets sê maar daar kom geen klank uit nie… Sy is radeloos… Dan kies sy skielik die hasepad by die deur uit...

Nou is ons ietwat bekommerd. Miss M het ons gaan rapporteer. Hier kom dalk moeilikheid. Deon gaan haal gou-gou hond-se-ding weg. Na 'n tyd kom Miss M terug met die onderhoof, Mnr K, bekend as Ou Bosaap. Hulle staan albei in die deur, maar behalwe vir 'n nat kol op die vloer, is daar nou niks ongewoon te sien nie. Nou moet Miss M tot haar groot verleentheid, in Afrikaans probeer verduidelik wat nou eintlik haar probleem was. Dit het min of meer só geklink: "Meneewr… Meneewr… daawr was honde… uh… (wanhopige gebaar)… honde… uh ... (wanhopige gebaar)… uh… daawr!… (terwyl sy na die tafelpoot beduie)… Maar die situasie is net te veel vir haar en sy vlug weer weg, hierdie keer om vir die res van die periode nie terug te keer nie.

Ou Bosaap plant homself voor in die klas… Hy is 'n groot, forsgeboude man, donker en baie harig… O hond! Nou's ons in vir 'n ding! Ons bewe in ons broekspype/rokspante… Ons ken Ou Bosaap nie besonder goed nie. Hy is die biologie-onderwyser vir Standerds 9 en 10. Maar… wonder bo wonder! Bosaap se stem is sag as hy praat en dit wil amper lyk of hy met moeite sy lag kan bedwing: "Ai kinders! Moet julle nou regtigwaar vir Mejuffrou M so pla? 'n Mens maak nie so met dames nie. Los nou die nonsens en bepaal julle by julle werk"! En daar gaan hy!

Ons kan ons geluk skaars glo! ... Maar o wee! Nog is het einde niet. Hond-se-ding blink darem te pragtig! Ons volgende teiken is wetenskaponderwyser Meneer M (nie familie van Miss M nie) alias Ou Bulletjies. Hierdie keer is dit ek wat die ding teen die tafelpoot sit. Hettie gooi weer 'n bietjie water uit haar flessie oor.

Ou Bulletjies kom met sy tipiese hardloopstappie die klas binne… "Aag, watse str... is dit nou weer??!!" brul hy en met 'n goedgemikte skop, skop hy hond-se-ding dat dit met 'n boog by die deur uitskiet, dwarsoor die gang vlieg en wip-wip in die groen lower van die "quad" (die binnetuinvierkant) verdwyn. Nog effens hygend, bulder hy: "Maak oop julle boeke by bladsy 69 en laat ons werk!!" Dadelik verdamp die laaste sweem van onnutsigheid in ons. Ons respek vir Ou Bulletjies styg hemelhoog.

Die oliebolhonne(d)rol het ons daardie dag 'n belangrike lewensles geleer, 'n insig wat baie waardevoller was as een verlore Engelsperiode. Dit was 'n les in mensekennis; naamlik dat 'n mens keuses het van hoe om op 'n gegewe eksterne gebeure te reageer!

WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT

Plant 'n katjiepieringboom; verlustig jou in die geur wat dit so kwistig versprei. In my verbeelding staan ek weer onder Ouma se katjiepieringboom. Ek sluit my oë en ruik hoe die geur my sag omvou. Dan sê ek: "Liewe Heer, gee dat ek soos die katjiepiering ook 'n heerlike geur mag versprei oor almal wat my weg kruis."

(Uit: Ruikertjies vir Reëndae deur Rachie Viljoen)


HOOR-HIER GALORE 2001

In hierdie spesiale publikasie word jagstories,
lagstories, huilstories, visvangstories, sketse,
vertellinge, resepte en grappies opgeneem.

As u graag u storie in hierdie publikasie wil plaas,
stuur dit in.

Ek sal hierdie jaar probeer om die onkostes so laag as moontlik
te hou sodat elkeen wat lief is vir Afrikaans, die publikasie
kan bekostig en as 'n kersgeskenk kan weggee!

Bydraes moet my per pos, faks of E-pos bereik voor einde September
sodat die publikasie einde Oktober gereed kan wees.

Laat hoor so gou moontlik van u!

Hoor-Hier! Redaktrise


Volgende Uitgawe Volgende Uitgawe
Vorige uitgawe Vorige Uitgawe
Tuisblad Tuisblad
Teken in op Hoor-Hier! Teken in op HOOR-HIER!
Besoekersboek Besoekersboek
Boekwinkel Boekwinkel
 
Internet-tuiste geborg deur

Die Knoop

Die Knoop: Duisende Afrikaanse Bestemmings!

 
MAL- en ander stories, deur Andre P. Brink

Oshike? Otjike?: Alledaagse Frases en Segswyses in Ndonga, Herero, Afrikaans en Duits
10 Jan 02 12:31:41 AM