HOOR-HIER!

Augustus 2001: 47

Redaktrise: Susan Alexander
Telefoon tuis: (061) 235757
Vanaf SA: (0926461) 235757
Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na

Hoor-Hier!


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

DAGSÊ VRIENDE

Dans, dans voor ontbyt

Die verskrikking van die koshuislewe neem af en ons begin met streke en poetse om die doodse roetine te verbreek. Een middag sluip ek ongemerk uit die studiesaal, na ons slaapsaal. Ek maak die deur saggies toe en gooi al die matrasse van die beddens af. Die lakens en kussings gooi ek op 'n hoop. Die kamer is in 'n chaotiese toestand. Net voor die einde van studie, sluip ek terug by die studiesaal in. Die onderwyseres aan diens is steeds verdiep in haar nasienwerk.

Na studie storm die kinders na hulle kamers om bekers vir die middagkoffie te gaan haal. Die eerste een wat ons kamerdeur oopmaak, staan verslae. Die res dam agter haar op en staar oopmond na die wanorde. Wie de duiwel was dit? kry een kind dit uit en toe is daar 'n hele koor van protes waaraan ek hartlik deelneem. Daardie middag moet almal eers weer beddens opmaak - ek ook - voor ons kan gaan koffie drink.

'n Nuweling wat halfpad deur die jaar by ons aansluit, sorg vir vermaak van 'n heel ander aard. Niemand in die koshuis mag 'n radio aangehou het nie - maar Antjie Degenaar het hierdie reŽl gebuig toe sy skelm 'n klein platespeler insmokkel. Saam met die pikante speler bring sy 'n reusestapel Seven Singles. My eerste kennismaking met hierdie verskynsel. Eers het Antjie net in die aande, na ligte-uit, die treurigste musiek gespeel totdat die heimwee te veel word en 'n paar dogters snuif-snuif die kussings oor hulle ore druk. Toe gebeur daar iets wat die gebruik van die platespelertjie en die musiek heeltemal verander. Toe ek een middag by die kamer instap, is Antjie en Sophia besig om op die vrolikste musiek 'n jakkalsdraf op die vloer uit te voer. My mond val oop. Die twee dans soos hierdie ballroom-mense. Hulle swaai en draai en stap fyntjies tussenin.

Toe is die koeŽl deur die kerk. Almal in die kamer wil leer om te dans. Antjie is 'n wonderlike leermeesteres en ons gryp elke geleentheid aan. Iemand moet telkens wagstaan terwyl die danssessies aan die gang is. Ewe skielik is almal saans vroeg gebad en reg vir die bed; soggens spring almal uit die kooi sodat daar voor ontbyt 'n paar draai gegooi kan word. Ons dans op ons sokkies en die vloere tussen die beddens blink soos nooit tevore. Ons kry selfs 'n paar komplimente van die prefekte en onderwysers wat kamerinspeksie kom doen.

Maar natuurlik sneuwel sulke vrolikheid een of ander tyd; asof 'n onsigbare pretbederwer dit nie kan verduur dat mense vir te lank te lekker moet kry nie. Ons word uitgevang een oggend toe die hele kamer met 'n langarmwals op hulle sokkies een-twee-drie, een-twee-drie. Die deur gaan saggies oop en die onderwyseres staan daar - nog in haar kamerjas met krullers in die hare. Sy sÍ nie 'n woord nie. Staan net daar met gevoude arms. Ons los ons dansmaats soos warm patats en staan gevries. Die walsmusiek speel voort, min gesteur deur die verskyning van die figuur in die deur. Antjie vind dit wys om maar eerder die musiek af te sit - versigtig die naald van die plaat af. Niemand sÍ 'n woord nie; Juffrou bly ook stom. Sy steek net haar hand uit en wys: bring maar hier. Met 'n sug prop Antjie die spelertjie uit en dra dit soos 'n babatjie na die onderwyseres. Juffrou raas nie, sy doen niks nie. Net die woorde: Jy kan die spelertjie by my kom haal as jy weer huis toe gaan. En dan sal die spelertjie maar daarna by die huis bly.

Na die onderwyseres uit die kamer is, begin ons almal versigtig en senuweeagtig giggel. Half verlig dat ons so lig daarvan afgekom het - maar aai, die verlies het ons nog weke bygebly. Die oggende en die aande was ewe skielik so lank en leeg.

 

OM NA AFRIKA TERUG TE KEER NA ’N JAAR OOR DIE WATERS

Montreal, Donderdag, 3/5/2001, 23:37

Terwyl Jens Friis regsnavorsing in Montreal gedoen het, het hy heel party keer bydraes vir Hoor-Hier! gelewer. Nou is hy op pad terug na Afrika via Europa. Hy gee 'n paar indrukke weer van sy jaarlange verblyf in Kanada en hoe dit hom en sy siening oor (Suid-)Afrika beÔnvloed het.

Waarom is die laaste dag of wat van 'n besoek altyd die lekkerste? Dis soos lemoensap wat nie behoorlik geskud is nie. Om by die pulp uit te kom moet die bottel leeggedrink word. Met die wegvlieg vanaf Bloemfontein op 31 Maart 2000 het ek gedog: oor 'n maand of vier - hoogstens ses - is ek terug.

Wys sou dit gewees het om eerder my motor toe te verkoop het en lekker selfoonnommer prys te gegee het. My omwandelinge in Noord-Amerika en Europa gaan nou by ver meer as 'n jaar draai. As ek klere verwissel in die gim is dit duidelik dat my vel die witste ooit is. Dan wonder ek of Rex my nog sterswaaiend by die agterplaas-hek in Philippolis sal herken.

Die gedagte dat ek more op 'n vlug na Amsterdam klim (mits die sneeu ophou en vlieg moontlik is), krap my om.

Net na my aankoms woon ek tydelik in 'n woonbuurt wat sy gebruikswaarde oorleef het. Ek slaap laat om gewoond te raak aan die tydsverskil. Doen navorsing by die universiteit. Lees in 'n gunsteling koffiewinkel. Verken die stad.

Ek ontmoet talle mede-studente. Mense met die gawe van kommunikasie en helder intellekte. Ek dryf op 'n see van kennisse, maar ken niemand nie. Die afwesigheid van biltong en blatjang pla min. Ek mis 'n ondersteuningstruktuur. 'n Internet-naelstring strek ook net so ver.

So gebeur dit 'n keer of wat dat ek nie weet wat om te doen, waarheen om te gaan of wie om te sien nie. Tog maak mens vinniger vriende as wat jy ooit sou dink.

Soos die samestelling van die Kanadese bevolking, sou diegene by wie ek werklik aanklank vind heel uiteenlopend wees. Die een is 'n Engelse vertaler, oorspronklik van Vancouver. Daar is 'n Franse patoloog wat hierheen gekom het weens werksgeleenthede. 'n Romeense prokureur wat net voor die val van Kommunisme Kanada bo Suid-Afrika verkies het weens die geweldsituasie.

Ek sien 'n blerts blou van die St. Lawrence vanuit my woonstelvenster en besef dit is dalk die laaste keer. Ook sal ek die kenmerkende "Merci-Bye!" mis waarmee Frans-Kanadese winkeliers groet as jy uitstap - die Engelse invloed onmisbaar.

Blinkskoon, veilige moltreinstasies waar treine elke vyf minute stop. Nie-luiddrugtige passasiers wat soms so stil is in die metrogange dat die geskuifel van hul dikke wintersklere gehoor word as hul stap. Professionele musici wat in wandelhalle oefen. Dat daar aan die regterkant van rolrappe gestaan word sodat diegene wat haastig is aan die linkerkant kan verbystap. Vars sneeu wat soos bakpoeier onder jou voete kraak.

Polisie wat orals sigbaar is, alhoewel geweld en misdaad seldsaam is. Buitengewone verdraagsaamheid ongeag of dit op grond is van seksuele oriŽntasie, ras, geslag, godsdiens ...

Dat selfs die armstes 'n sinvolle bestaan kan voer. Kanada beklee reeds vir jare die nommer 1-posisie op die VN se Ontwikkelingsindeks.

Die wyse reisiger verag nooit sy eie land nie, maar dit is moeilik. Daagliks is e-koerante vol (plaas)moorde, 'n vigskrisis wat groter is as enige wÍreldoorlog, 'n dollar wat lank nie meer net ses kosbare rand kos nie ... Inligting waarvan jy beslis oorbewus is.

Buitelanders vra onophoudelik die boerpotvraag: Gaan ons Suiderland die paadjie loop van ander Afrika-kolonies? Hopelik nie, maar wie weet! Dis immers veel makliker om nou my goedjies te pak op die drumpel van 'n loopbaan as oor 10 jaar op 37.

Of ek my hele lewe dus in Suid-Afrika gaan deurbring, weet ek nie. Ek het al te veel gedink my paadjie loop hierdie kant toe, en dan kies hy koers daai kant toe. As iemand vier jaar gelede vir my gesÍ het dat ek vir maande in Noord-Amerika sou studeer, sou ek dit nie geglo het nie! Maar ek kan eerlik sÍ ek was nog nooit spyt nie.

Ek reis om dieselfde rede as wat ek lees: om nuwe dinge te beleef. Jy kan dieselfde boeke lees of nuwes en jouself uitdaag. Dit gaan oor grensoorskreiding wat makliker is in die vreemde. Jy beklee 'n buitestanderstatus en sien dieper - verby sosiale konvensies, konstruksies en etiket.

Hennie Aucamp is reg as hy skryf dat jy jou 'n soort ballingskap oplÍ as jy reis. "Om dit te oorleef, raak jy waaksaam; registreer jy skerper as gewoonlik, word jy een en al sintuig, wat 'n groot hulp is by waarneming."

Dit is verrykend, maar vermoeiend. Jy is aangewese op jouself. As die geld boonop min is, verg dit deeglike, vindingryke beplanning. Nietemin is dit die sieraad in die kroon van onafhanklikheid. As ek getroud was, sou dit nooit moontlik gewees het nie. Ek kan kies saam met wie ek waar wil wees.

As ek reis, hoop ek altyd dat 'n plek waar ek nog nie was nie anders gaan wees as dit waaraan ek gewoond is. As alle plekke dieselfde was, watter rede sou daar tog wees om te reis?

 

NEËNTIG

Hier's 'n byskrif by Schoonspruit se storie oor die moord op waterbronne. Om dit nie te lank te maak nie het ek hierdie deel uitgelaat:

Van sewe kinders het net drie van ons neŽntig gehaal. My broer James, wat soms tot in sy knieŽ in die yskou water gestaan het om sugvore te grawe, en ons twee meisiekinders wat met niks minder as 'n koue stortbad in die spruit tevrede was nie. Nou is ek al een wat oor is. Dalk sÍ dit iets.

Saterdae het ons die beroemde driepootpot, waarin seep gekook en koffie gebrand is buite voor die badkamer se venster gedra, vol water uit die sterk stroom water geskep, en 'n moewiese vuur onder sy pens gemaak. Sodra die water in die penspot dan amper kook, staan een van ons binne voor die badkamer se venster en vat emmers vol warmwater aan by die ander een wat dit uit die groot pot geskep het en aangee om in die bad gestort te word.

Dan moet emmers kouwater uit die watervoor geskep en aangegee word tot die water in die bad net lekker warm is. Somers was die seremonie natuurlik nie nodig nie. Dan kon die wat wou, net maar 'n paar emmers kou water deur die venster aangegee het, maar ons twee was versot op daardie avontuurlike draffie na die spruit en die tintelende gevoel na ons ons afgedroŽ en in die klere geklim het.

Ja. Van ons, sewe, word ek toe die oudste en enigste. Dit gee 'n snaakse gevoel as jy daaroor nadink. Laat mens net besef jou tassie moet maar gedurig regstaan, klaar gepak en toegeknip.

Liefdegroete, Ouma Mari

NAMIBIESE PUBLIKASIES

Daar is onlangs van twee van ons eie mense publikasies bekendgestel. Dit is die vierde roman deur Piet van Rooyen, Gif en die debuutdigbundel deur Kobus Lombard, Geknipte naelstring. Albei hierdie tekste is deur Protea Boekhuis uitgegee.

Baie geluk aan hierdie begaafde woordkunstenaars. Ons hoop om in die toekoms meer van hulle te lese te kry.

WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.Filippense 4:6

LESERSBRIEWE

Ek kry 'n heerlike brief en gedig van Koos van Ellinckhuijzen. Die man het ook die bynaam, Jacobus Kwas. Hy skryf:

Beste Susan
Oral waar ek ooit geleef het, was my dinkplek op hoŽ grond - daar waar mens baie ver kan sien. Altoos het ek stoksielaleen my kitaar, 'n bottel Coke (of dop) en 'n kafkop ('n halwe witbrood) saamgesleep en totale vrede gevind. Dit werk nou dat ek sestig word nog net so goed.

 
TESTAMENT 
  
Hier op my dinkplek 
 weet die wind van jou
Met my niet netnou 
 wag die wind vir jou
Geen goed moet jy praat 
 geen deugdes dink
geen wonders wens 
 wat my anders wou
Miljuise monumente 
 het ek staangemaak
Meer waar ek rŠŠk 
 as mis moes trap
Geen mens mag jy toelaat 
 om my mťťr te maak
met strofes in steen 
 wat my gat bewaak
Laat net gras oor my wees 
 met die mŰredou
So mag jy vergeet ... 
 as jy wil onthou
 

TOT VOLGENDE KEER

Liewe lesers - laat hoor gerus van julle. Volgende maand is ons Hoor-Hier! sowaar al vier jaartjies oud. Onthou julle nog hoe nederig en klein was die begin? Onthou dat ons reaksie van julle nodig het om die gesprek aan die gang te hou.

Groete!



Volgende Uitgawe Volgende Uitgawe
Vorige uitgawe Vorige Uitgawe
Tuisblad Tuisblad
Teken in op Hoor-Hier! Teken in op HOOR-HIER!
Besoekersboek Besoekersboek
Boekwinkel Boekwinkel
 
Internet-tuiste geborg deur

Die Knoop

Die Knoop: Duisende Afrikaanse Bestemmings!

 


10 Jan 02 12:30:51 AM