|
||||
|
|
|
DAGSÊ VRIENDE Dans, dans voor ontbyt Die verskrikking van die koshuislewe neem af en ons begin met streke en poetse om die doodse roetine te verbreek. Een middag sluip ek ongemerk uit die studiesaal, na ons slaapsaal. Ek maak die deur saggies toe en gooi al die matrasse van die beddens af. Die lakens en kussings gooi ek op 'n hoop. Die kamer is in 'n chaotiese toestand. Net voor die einde van studie, sluip ek terug by die studiesaal in. Die onderwyseres aan diens is steeds verdiep in haar nasienwerk. Na studie storm die kinders na hulle kamers om bekers vir die middagkoffie te gaan haal. Die eerste een wat ons kamerdeur oopmaak, staan verslae. Die res dam agter haar op en staar oopmond na die wanorde. Wie de duiwel was dit? kry een kind dit uit en toe is daar 'n hele koor van protes waaraan ek hartlik deelneem. Daardie middag moet almal eers weer beddens opmaak - ek ook - voor ons kan gaan koffie drink. 'n Nuweling wat halfpad deur die jaar by ons aansluit, sorg vir vermaak van 'n heel ander aard. Niemand in die koshuis mag 'n radio aangehou het nie - maar Antjie Degenaar het hierdie reël gebuig toe sy skelm 'n klein platespeler insmokkel. Saam met die pikante speler bring sy 'n reusestapel Seven Singles. My eerste kennismaking met hierdie verskynsel. Eers het Antjie net in die aande, na ligte-uit, die treurigste musiek gespeel totdat die heimwee te veel word en 'n paar dogters snuif-snuif die kussings oor hulle ore druk. Toe gebeur daar iets wat die gebruik van die platespelertjie en die musiek heeltemal verander. Toe ek een middag by die kamer instap, is Antjie en Sophia besig om op die vrolikste musiek 'n jakkalsdraf op die vloer uit te voer. My mond val oop. Die twee dans soos hierdie ballroom-mense. Hulle swaai en draai en stap fyntjies tussenin. Toe is die koeël deur die kerk. Almal in die kamer wil leer om te dans. Antjie is 'n wonderlike leermeesteres en ons gryp elke geleentheid aan. Iemand moet telkens wagstaan terwyl die danssessies aan die gang is. Ewe skielik is almal saans vroeg gebad en reg vir die bed; soggens spring almal uit die kooi sodat daar voor ontbyt 'n paar draai gegooi kan word. Ons dans op ons sokkies en die vloere tussen die beddens blink soos nooit tevore. Ons kry selfs 'n paar komplimente van die prefekte en onderwysers wat kamerinspeksie kom doen. Maar natuurlik sneuwel sulke vrolikheid een of ander tyd; asof 'n onsigbare pretbederwer dit nie kan verduur dat mense vir te lank te lekker moet kry nie. Ons word uitgevang een oggend toe die hele kamer met 'n langarmwals op hulle sokkies een-twee-drie, een-twee-drie. Die deur gaan saggies oop en die onderwyseres staan daar - nog in haar kamerjas met krullers in die hare. Sy sê nie 'n woord nie. Staan net daar met gevoude arms. Ons los ons dansmaats soos warm patats en staan gevries. Die walsmusiek speel voort, min gesteur deur die verskyning van die figuur in die deur. Antjie vind dit wys om maar eerder die musiek af te sit - versigtig die naald van die plaat af. Niemand sê 'n woord nie; Juffrou bly ook stom. Sy steek net haar hand uit en wys: bring maar hier. Met 'n sug prop Antjie die spelertjie uit en dra dit soos 'n babatjie na die onderwyseres. Juffrou raas nie, sy doen niks nie. Net die woorde: Jy kan die spelertjie by my kom haal as jy weer huis toe gaan. En dan sal die spelertjie maar daarna by die huis bly. Na die onderwyseres uit die kamer is, begin ons almal versigtig en senuweeagtig giggel. Half verlig dat ons so lig daarvan afgekom het - maar aai, die verlies het ons nog weke bygebly. Die oggende en die aande was ewe skielik so lank en leeg.
NEËNTIG Hier's 'n byskrif by Schoonspruit se storie oor die moord op waterbronne. Om dit nie te lank te maak nie het ek hierdie deel uitgelaat: Van sewe kinders het net drie van ons neëntig gehaal. My broer James, wat soms tot in sy knieë in die yskou water gestaan het om sugvore te grawe, en ons twee meisiekinders wat met niks minder as 'n koue stortbad in die spruit tevrede was nie. Nou is ek al een wat oor is. Dalk sê dit iets. Saterdae het ons die beroemde driepootpot, waarin seep gekook en koffie gebrand is buite voor die badkamer se venster gedra, vol water uit die sterk stroom water geskep, en 'n moewiese vuur onder sy pens gemaak. Sodra die water in die penspot dan amper kook, staan een van ons binne voor die badkamer se venster en vat emmers vol warmwater aan by die ander een wat dit uit die groot pot geskep het en aangee om in die bad gestort te word. Dan moet emmers kouwater uit die watervoor geskep en aangegee word tot die water in die bad net lekker warm is. Somers was die seremonie natuurlik nie nodig nie. Dan kon die wat wou, net maar 'n paar emmers kou water deur die venster aangegee het, maar ons twee was versot op daardie avontuurlike draffie na die spruit en die tintelende gevoel na ons ons afgedroë en in die klere geklim het. Ja. Van ons, sewe, word ek toe die oudste en enigste. Dit gee 'n snaakse gevoel as jy daaroor nadink. Laat mens net besef jou tassie moet maar gedurig regstaan, klaar gepak en toegeknip. Liefdegroete, Ouma Mari NAMIBIESE PUBLIKASIES Daar is onlangs van twee van ons eie mense publikasies bekendgestel. Dit is die vierde roman deur Piet van Rooyen, Gif en die debuutdigbundel deur Kobus Lombard, Geknipte naelstring. Albei hierdie tekste is deur Protea Boekhuis uitgegee. Baie geluk aan hierdie begaafde woordkunstenaars. Ons hoop om in die toekoms meer van hulle te lese te kry. WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.Filippense 4:6 LESERSBRIEWE Ek kry 'n heerlike brief en gedig van Koos van Ellinckhuijzen. Die man het ook die bynaam, Jacobus Kwas. Hy skryf: Beste Susan
TOT VOLGENDE KEER Liewe lesers - laat hoor gerus van julle. Volgende maand is ons Hoor-Hier! sowaar al vier jaartjies oud. Onthou julle nog hoe nederig en klein was die begin? Onthou dat ons reaksie van julle nodig het om die gesprek aan die gang te hou. Groete! |
|
|
|||||||||||||||