HOOR-HIER!

September 2001: 48

Redaktrise: Susan Alexander
Telefoon tuis: (061) 235757
Vanaf SA: (0926461) 235757
Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na

Hoor-Hier!


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

DAGSÊ VRIENDE

Juffrou Miertjie

Die sagte, klein juffroutjie se bynaam is Juffrou Miertjie. Sy weet dat sy so heet. Sy het die naam gekry omdat sy in die Biologie-klas die rrr van mier so lekker gebrei het in een van haar eerste lesse. Al die rrr's brei sy met 'n gemoedelikheid wat haar hele persoonlikheid kenmerk. Sy is geliefd by die onderwysers en by al die kinders.

Juffrou Miertjie se vak is die groot liefde in haar lewe. Daar is nie 'n man in haar lewe nie. Ek verwonder my daaroor dat sy nie opgeraap is deur 'n man wat hierdie suiwer stukkie goud raaksien nie. Sy stap rustig met haar sagte glimlaggie deur die gange. Ek verbeel my dat sy altyd 'n wysie neurie.

Sy vertel stories wat jy in jou lewe nooit sal vergeet nie. Ek onthou nou nog die storie van die twee skoolseuns wat die nag in die begraafplaas deurgebring het. Natuurlik uitgedaag deur hulle klasmaats. Dieselfde klasmaats wat om twaalfuur die nag kom spook met lakens en onaardse geluide. Die twee slagoffers spring toe daar weg - die gewone, vaal, onopvallende Pieter en die skool se Victor Ludorum, Paul Labuschagne. En Pieter kry dit reg om Paul met meters te klop - maar hy vergeet in sy geskokte toestand van die draadheining om die begraafplaas. Hy hardloop hom half disnis en Paul wat kan voordeel trek uit sy vriend se foutjie, seil oor die heining. Maar Pieter is nie klaar nie. Hy spring op, oor die heining en haal vir Paul van agter af in. Twee keer binne een minuut oortref Pieter vir Paul. En dit alles as gevolg van adrenalien.

Nooit in my lewe sou ek die les oor adrenalien vergeet nie. Vir Juffrou Miertjie sou ek ook nooit vergeet nie. Jare later hoor ek dat sy nou op Mosselbaai skoolhou. Ek vind uit wat haar telefoonnommer is en bel haar. Sy kan my nie meer onthou nie, maar ek kry weer die aangename tinteling wat haar sagte manier van brei-praat by my ontlok het. Nee my kind, ek het nog nie opgehou werk nie, antwoord sy op my vraag. En dan - met effense wanhoop, verbeel ek my - Wat sal ek dan tog doen as ek nie meer skoolhou nie?

Lank na hierdie gesprek voel ek nog treurig oor die sagte, eensame vroutjie wat die wÍreld om ons vir soveel leerlinge oopgemaak het.

 

VAN VEEN IN AFRIKAANS

Ek ontvang van Johan Wentzel 'n faks met 'n gedig. Hy skryf: Susan, hierdie is 'n vertaling van 'n Herman van Veen liedjie. Ek het net die naam Herman vervang met Johan. Ek dink die gedig is wonderlik.

Alles wat ek het

Alles wat ek weet, weet ek van iemand anders
en alles wat ek los, los ek vir 'n ander
Alles wat ek het, is slegs 'n naam
en dit het ek van 'n ander.

Johan!  roep 'n man, en ek loop verder
Johan!  roep 'n vrou, en ek huiwer
Johan!  roep 'n kind, en ek voel so oud
Johan!  roep die wind, en ek word koud.

Alles wat ek sÍ, sÍ ek aan iemand anders
En alles wat ek gee, gee ek 'n ander.
Alles wat ek het, is slegs 'n naam
en dit het ek van 'n ander.

Die hand wat ek gee, gee ek 'n ander
En die trane, wat ek huil
huil ek oor 'n ander
Die sin wat ek het, het ek in 'n ander
En die liefde wat ek voel, is vir 'n ander.
 

KRIT

Krit, die letterkundige gespreksgroep wat ongeveer ses boeke per jaar bespreek, is hierdie jaar 20 jaar oud.Oor die afgelope 20 jaar is die beste Afrikaanse publikasies gelees en dan is daar oor 'n glasie wyn gesprek gevoer oor die tekste.

Die gereŽlde Kritgangers kom uit verskillende sektore van die samelewing.Daar is onderwysers en dosente, natuurwetenskaplikes, huisvrouens en mense wat gewoon lief is vir Afrikaans. Hierdie mense het oor die jare deelgeneem aan die gesprek rondom boeke.

Baie dankie vir almal wat bygedra het om hierdie gesprek aan die gang te hou.

Indien enigiemand belangstel om die Kritgeleenthede by te woon, kan hy/sy skakel met Susan Alexander (kontaknommers voorop).

LESERSBRIEF

Hallo Susan

Hiermee die geswoeg en geskrywe en die oorlogvoering met die gebruikers of misbruikers van die Taal! Ek het nie juis 'n titel vir die skrywe nie, maar het gedink dat 'n Sug in die woestyn miskien toepaslik mag wees!

Ek het 'n broertjie dood aan die verkragting van die Afrikaanse Taal. Net so. Diegene wat my ken, weet dit, en die wat my nog nie ken nie, sal dit ook te wete kom.Ek, as gebore Nederlander, en nou Engels-sprekend, verknies my vreeslik oor hierdie ding. Dit begin nou handuit ruk, en ek voel bitter alleen in my stryd.

Gisteraand lees ek 'n kortverhaal in een van ons gewilde vrouetydskrifte.Daar staan sowaar die woord Astronomie. Ek gryp na my rooi pen en verander dit na Sterrekunde (asof dit die saak gaan regstel). Astronomie beteken vir my niks, dit sÍ niks. Sterrekunde is 'n beskrywende woord wat presies vir jou sÍ waarmee jy te doen het. Selfs 'n kind kan dit verstaan. So baie van ons mooi beskrywende Afrikaanse woorde gaan verlore omdat daar veral uit Engels woorde 'geleen' word. Glo my, ek het niks teen Engels nie, ek is dan self Engelssprekend. Dit is 'n pragtige taal, maar daar word nie woorde uit Afrikaans geleen vir die fÍnsiegeid nie. Kyk nou na die woord stoep. Dit word wyd in Engels gebruik omdat die huise van doerie tyd oorspronklik so gebou is dat jy moes buk (stoop) vir die dak wat laag gehang het om die son uit te hou en 'n bietjie koelte te behou.

Die slim mense met wie ek oor die saak gepraat het sÍ dat taal 'n lewende ding is, en ek waardeer dit en het ook begrip daarvoor. Maar gaan ons Afrikaanse taal nou nog meer Engels wees as Engels self?

Marijke

(Dankie vir die gedagtes, Marijke. Enigiemand wat nog iets oor hierdie tema wil byvoeg?)

 

’N GELIEFDE ONDERWYSER

John D’Alton, Tsumeb

"En 'n saaier het eendag gaan saai...", lees ons in Matteus. Alhoewel daar al baie preke oor hierdie skrifverwysing gepreek is, is daar onder andere 'n beginsel wat hier verduidelik word wat, is ek seker, min mense al raakgesien het.

Die Skrif verduidelik dat sommige van die saad in goeie grond val, maar kom ons laat dit vir 'n oomblik daar. Die res van die saad is bestem vir geen nut nie, die wat op harde grond val, die wat in vlak grond val, die wat tussen dorings val, en so aan.

Die beginsel waarvan ek praat is dat wanneer mense iets moois en kosbaars ontvang, daar net sommige is wat die mooi daarin kan raaksien. Sommige sien wel die mooi, maar gebruik dit vir eie gewin - die voŽls van die hemel wat die saad oppik.

By ander is die mooi net eenvoudig doodgebore - die saad op klipperige plekke. Vir nog ander is die mooi net 'n oorlas, soos die saad tussen die dorings en distels.

So ook is die taal van die suidelike punt van die Afrikaanse kontinent. Dit is jammer dat daar diegene is wat die taal gebruik vir "eie gewin", dit wil sÍ, net om daarmee te kommunikeer so eenvoudig en spoedig moontlik. Ek praat nie van anderstaliges nie, maar spesifiek van Afrikaans-gebore Afrikaners. Die enigste rede, kan mens amper sÍ, waarom hulle die taal gebruik is om kos in hul monde te kry.

Sulkes gee nie 'n flenter om vir die gebruik van die idioom nie, byvoorbeeld, of vir die korrekte spelling van woorde nie, of die korrekte grammatikale vorm nie. Hierdie dinge is nie sogenaamde "tegniese aspekte" van die taal wat slegs beskore is vir geleerdes wat "hoŽ" Afrikaans gebruik nie, dis dinge wat enige persoon met 'n liefde vir kuns en kultuur kan leer. Inderdaad is die sogenaamde "geleerdes" juis van diegene wat die skuldigste staan voor hierdie aanklagte.

My Afrikaans onderwyser was 'n lywige ou man, die enigste motor waarin hy kon inpas was 'n Volkswagen Kombi. Die sitplek moes spesiaal teruggebou word, en die onderste helfte van die stuur was afgesaag om sy geweldige buik te akkommodeer. Vandaar dan ook sy bynaam, "Rietskraal", of soms "Rietie" (die bynaam is op sigself 'n idiomatiese vorm).

Rietie was 'n legende om meer redes as een. Hy kon huiswerk gee soos geen ander nie, en hy kon 'n lat swaai met baie min moeite, en hewige pyn op die lyf bring vir 'n beroerder van sy gramskap. Hy het ook die eienaardige gewoonte gehad om gedurende klas aan die slaap te raak. So het hy dan eendag, terwyl hy 'n les voorlees, al stadiger en sagter begin praat totdat, in die middel van 'n sin, sy kop vooroor op sy bors gesak het en hy liggies begin snork het.

Ons het dikwels, terwyl hy slaap, suutjies die klas verlaat, en die inkomende klas beduie dat die ou man "weg" is. Die rekord was drie klasse wat in en uitgegaan het sonder om hom wakker te maak, het ons later uitgewerk, vyf klasse altesaam as jy die klas tel waarin hy begin slaap het, en die klas waarin hy wakker geword het.

Maar ou Rietie se heel vernaamste eienskap was dat hy lief was vir sy vak. Hy kon 'n taalklas aanbied sodat diegene wat geluister het, lief geword het vir hom as mens, asook dit wat hy oorgedra het. "Hy wat ore het, laat hom hoor."

Hierdie hele relaas oor ou Rietie het ek maar aangehaal om sy metafoor van die Afrikaanse idioom te besing. "Soos 'n man wat deur 'n hoop gruis grawe," hoor ek nou nog sy stem amper hipnoties eentonig voortdreun; "tonne grond en klip en gemors deurgrawe, en dan, op 'n dag, vind hy 'n pragtige edelsteen. Soms 'n diamant, dan 'n robyn, 'n smarag, en daardie een ou klippie maak die hele hoop gruis die moeite werd. So is die idioom, hier en daar versteek in die gruishoop van die gebruikstaal sodat die een wat dit kry se hart verbly word, en vir ewig sy eiewaarde verhoog word. En wanneer ons idiome gebruik, saai ons hulle sodat ander dit kan raaksien en hulle siele daardeur verkwik kan word."

Wie het nog so 'n onderwyser gehad? Een wat oor veertig jaar heen nog steeds met een van sy studente gesels? Meneer Willem Johannes Goosen, u was meer as 'n onderwyser vir my. U was vir my 'n metgesel en mentor die afgelope veertig jaar, die saaier wat goeie saad in my siel gesaai het. Selfs die rottanghoue, soos 'n stamper wat die saad gevestig het in die groeiakker!

 

WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT

(Ek het vandag gepraat met ’n vriendin wat vakansie hou by haar vakansiehuisie op Onrus. Terwyl ek nog aan haar dink, kry ek hierdie woorde oor Onrus en ek mymer oor die mens wat saam met my op Aarde woon en wat steeds met verwondering kyk en luister na al die ongelooflike dinge wat ons omring.)

As 'n mens in 'n kusdorp soos Onrus woon, is daar altyd die see, agter en bo alles wat jy met jou dae doen, altyd die stem van die see, die reuk van die see, die rus of onrus van die see. Oseaan-see, behoort ek te sÍ, want reg suid van ons voordeur strek die wildste en die skoonste seewater sesduisend kilometer ver tot by Antarktika. Watter digter het al die see groots besing? Watter skilder het die oermoeder, oseaan, naastenby in kleure geloof? Hoeveel kleure blou die oseaan? Hoeveel simfonieŽ geluide? Met watter geheime weerklanke in ons landdiere se siele?

'n Mens sukkel om met woorde te sÍ wat in die oseaan ons so lok en boei. Tog is dit juis die onvermoede spel van diť watere wat my so dikwels woorde pasella gee. Wanneer ek vasbrand in my skryfwerk, stap ek af see toe, en gaan sit agter seeklippe uit sig van die land, amper in die sproei van golf na golf wat tot branders breek. Die kom en gaan en druis en guds en skuim sluit later die land uit, en jy is moeiteloos by jou gedagtes. Dan, so dikwels, as ek leeg van alles anders is, kom die oplossing van 'n probleem waaroor ek lank gepieker het, so natuurlik soos die roer van water in my op.

(Jan Rabie in Die see gee my woorde pasella)



Volgende Uitgawe Volgende Uitgawe
Vorige uitgawe Vorige Uitgawe
Tuisblad Tuisblad
Teken in op Hoor-Hier! Teken in op HOOR-HIER!
Besoekersboek Besoekersboek
Boekwinkel Boekwinkel
 
Internet-tuiste geborg deur

Die Knoop

Die Knoop: Duisende Afrikaanse Bestemmings!

 


15 Jan 02 10:54:51 PM