|
HOOR-HIER! KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS Februarie 1998: 5 Redaktrise: Susan Alexander
|
|
Dagsê Vriend |
||||||||||||
|
Hier het ons sowaar reeds die vyfde uitgawe van die Hoor-Hier! Ek is steeds dankbaar vir die reaksie en belangstelling uit alle oorde. Ek hoor van baie interessante dinge wat in en oor en om Afrikaans aan die gang is. In hierdie uitgawe sal ons bietjie praat oor die Afrikaanse Taalvereniging van Namibië se voorgenome planne vir die onmiddellike toekoms. In die Maartuitgawe gee ons weer inligting oor die Afrikaanse Toastmasters, Tarentaal se program van voordrag by die braaivleisvure op Regenstein. Lesersbriewe Ek kry ‘n brief van tannie Ellis van Maltahöhe. Sy vertel my dat die eensaamheid haar soms effe onderkry en daarom het sy ‘n pen gegryp en geskryf. Sy stuur ‘n paar Afrikaanse raaisels:
(Baie dankie vir die prettige raaisels tannie Ellis! Ek kan Tannie gerusstel met die prys van die Hoor-Hier!: Op die oomblik is dit nog vry, verniet en gratis! Ons hoop die blaadjie verdryf die eensaamheid daar op Maltahöhe. Red.) Mev. Joey Schoeman van Windhoek stuur vir my die volgende inspirerende faks: Jy is ‘n juweel? Dankie vir Hoor-Hier! en vir onder andere Johan Bollen se "leuke" inslag. Intussen uit die poësie van W.E.G. Louw soos vervat in Standpunte 135 Junie 1978: In stilte, in rus en in vrede, (Baie dankie vir die morele steun! Red.) ‘n Baie getroue leser van ons blaadjie, mnr. Jan van den Berg van Kleinwindhoek, skryf enkele interessante gedagtes oor opvattings wat rooiwyndrinkers huldig: Rooiwyn behoort sogenaamd teen kamertemperatuur gedrink te word. Beteken dit dat die Russe (wat vandag ‘n temperatuur in Moskou belewe het van 2°C) hul rooiwyn maar koud kan drink en ons in Windhoek (met ‘n temperatuur van 36°C) die rooiwyn warm moet "geniet"? Beslis nie. Die term kamertemperatuur het in Europa ontstaan en het die temperatuur van nagenoeg 18°C in ‘n wynkelder in Parys of Londen aangedui. In die somer hou ek daarvan dat rooiwyn minstens ‘n uur lank in ‘n yskas was. (Dankie vir die interessante gedagtes oor rooiwyn. Ek het eenkeer in die woestyn probeer om ‘n goeie Cabernet Saugvinon uit ‘n blikbeker te drink … Nooit weer nie! Ek pak vir my deesdae ‘n ordentlike wynglas in. Saam met die ouderdom kan mens seker maar bietjie vol fiemies raak! Red.) Krit Ons herinner belangstellendes net aan ons Kritaande, telkens op ‘n Dinsdagaand om 19:30 by die kantore van Windhoek Consulting Engineers (WCE), Bismarckstraat 44. Ons program vir 1998 lyk soos volg:
Enige navrae oor hierdie gespreksgroep, kan gerig word aan Susan Alexander. Die Afrikaanse Taalvereniging van Namibië Die ATVN en Sterkinekor bied op 26 Februarie die première aan van Paljas. Ek lees in enkele resensies oor hierdie Afrikaanse rolprent onder meer die volgende: Katinka Heyns het nog altyd in betowering en wonderwerke geglo. In Paljas, die eerste Afrikaanse prent wat vir die Amerikaanse Oscars ingeskryf is, genees ‘n sirkusnar die psigologiese wonde van ‘n vroeëre trauma wat ‘n gesin laat verbrokkel en die jongste seun stom gelaat het. (Uittreksel uit ‘n resensie deur Barrie Hough wat 9 uit 10 vir hierdie fliek gee.) Katinka Heyns het dit reggekry om ‘n briljante rolprent te maak. Met Paljas het sy van Afrikaans ‘n internasionale rolprenttaal gemaak, selfs met die geur van ‘n Oscar in die lug. (Resensent, Hanlie Retief) Paljas is ‘n prent van hoop; dit open met ‘n toneel van ‘n nuwemaan en eindig daarmee. Deur die siklus van die maan, deur die heling van die gesin wat groei soos die maan deurgaans groei, word die nuwe moontlikhede vir ware gemeenskap tussen hulle oopgemaak. (Johan Roussouw) Indien enigiemand belangstel in kaartjies vir hierdie première, kan hy/sy telefonies skakel met Adele du Plessis (2063860) of Anna-Marie Steenkamp (242240). Uittreksel uit F.A. Venter se Kambro-kind Die reën bedaar, bedaar, bedaar totdat net die na-reën op die seil neersif, en ons begin vorentoe loer deur die nat donker of ons Vanwyksvlei nie sien nie – ‘n kolletjie kerslig of ‘n kolletjie lamplig, of ‘n boom wat in die weerlig uitstaan. Ek kan voel die einde van die reis kom nader, die begin van ‘n ander, veel langer reis. Ma soek my hand en druk dit en haar hand is nog altyd sag en warm soos dit deur al die jare was. "Toe maar, my kind," sê sy opgewek, met ‘n geringe onverskilligheid selfs. "Ma weet jy sal regkom. Jy is mos Ma se kambro-kind, of hoe?" "n Man wat op De Aar die regte trein kan vat soos hy, sal oral regkom," verseker Pa. Ma is vandag rêrig soos ‘n prop wat nie kan sink nie. "Jy kan nie vir my sê dat jy al ooit ‘n verlepte kambroblaartjie gesien het nie, al is dit hoe droog." Met dieselfde opgewektheid as flus. Ek het sowaar nog nie, dink ek. Dit kan so droog wees soos dit wil, maar die tingerige, groenbruin kambroblaartjie lyk altyd vars. Kambro-kind. Ma kan altyd ‘n mens se hart laat warm voel. Ek voel trots omdat sy my so noem. Die huiwering, die geringe onsekerheid is weg. LAAT ONS VAN JOU HOOR! Ek hou my e-pos en skilpadpos, faksmasjien en telefoon met valkoë en oopgesperde ore dop; net om bydraes vir die Hoor-Hier! te onderskep… Groete tot ’n volgende keer.
|
|
Volgende Uitgawe |
|
Vorige Uitgawe |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
|
|
|
|