|
DAGSÊ VRIENDE
Die liefde
Toe ek in standerd agt is, kom daar 'n nuwe seun na ons skool toe. Hy is nie groot en gespierd nie; hy speel nie rugby nie; hy is nie 'n flankeerder nie ... en tog het hy die helfte van die ou meisietjies aan sy voete binne die eerste twee weke. Sy naam is Johannes Rademeyer. Hy het 'n ernstige, benerig-asketiese gesig. Sy ligbruin hare is kort en netjies gesny. Sy bene is slank maar die spiere is soepel en geoefen. Met die kleuresportbyeenkoms, stof hy die groot atletiekgeeste deeglik uit. Hy is die Victor Ludorum van die dag. Nou is sy aanhang groter as ooit.
Net ek staan ver weg en staar diskreet. My knieë is permanent lam met hom in die nabyheid. Ek sluk droog as hy toevallig in die gange by my verbystap. Ek kry nie reg om hom in die oë te kyk en ongeërg te groet nie.
Eendag stap Johannes doelgerig op my af tydens pouse. Ek kan voel hoe die kouesweet in my armholtes uitslaan. Hy kyk my in die oë en praat sag en intiem. Sal jy asseblief hierdie koevert vir Lippies gee? Hy hou 'n ligblou koevertjie na my toe uit. Ek neem die koevert en knik net. Hy glimlag en dan is hy weg.
Ek voel siek: hy het met my gepraat. Hy het my uitgekies om vir hom iets te doen. Maar - o bittere ironie! Hy het my gekies om 'n kysbrief vir Lippies te gee!
Na pouse sit ek die koevertjie op Lippies se lessenaar neer. Sy kyk vraend op. Terwyl die onderwyser boeke uitdeel, lees sy skelm die briefie. Ek probeer haar ongemerk dophou. Sy lyk triomfantelik. Ek sien hoe sy iets fluister vir haar vriendin wat agter haar sit. Die twee lyk of hulle wil bars van opgewondenheid.
Ek sien hoe Lippies se vriendin die volgende dag 'n blommetjieskoevert vir Johannes gee. Daarna is Johannes en Lippies alyd in mekaar se teenwoordigheid. Hy hou haar hand vas en stuur klein pakkies vir haar - soms net 'n enkel blommetjie.
Ek ervaar die pyn van 'n vergeefse liefde.
|
|
WOORDVERWERKERS EN KOOLYSTERS
Drix Pretorius
Ons leef in 'n era van kompers, faksmasjiene, woordverwerkers en sommer net masjiene. Ek ook in 'n ander tyd van perde gaan soek in die vlei as ons dorp toe wou gaan, van paraffienlampe, kerse en primusstofies. Ek raak nostalgies by die reuk van 'n uitgedoofde kers, van perdesweet en oor die suisende geluid van 'n primusstofie, maar hier diep binne my is ek bly dis iets wat aan die verlede behoort. Of is ek?
Ek vra my dogter om gou 'n brood te gaan koop. "My kar is stukkend, Ma." "Stap sommer gou, my kind, dis net 'n blok ver."
Sy kyk my verstom aan. Niemand lóóp in hierdie verligte eeu nie, al staan die kar ook soos 'n klipsteen.
My strykvrou kom rapporteer dat die strykyster die gees gegee het. Ek is vir 'n oomblik verward, maar kry toe 'n oplossing. "Kyk, ons maak gou 'n vuurtjie buitekant. Ek het 'n koolyster wat op my vertoonkas staan. So vir die mooiegeit, sien. As die kole reg is, gooi ons dit daarin en dan kan jy gou die strykgoedjies klaarmaak."
Sy kyk my onbegrypend aan en ek sien die ongeloof op haar gesig. Is mevrou werklik só oud? Hoe op aarde gebruik 'n mens in elk geval hierdie gedoente om mee te stryk?
Ek is verslaan, verouderd, uit 'n ander tyd. Ons sal sonder brood en gestrykte wasgoed moet klaarkom, want die moderne masjiene het my in die steek gelaat en gister se planne werk nie meer vandag nie.
Nogtans verkneukel ek my in my huisgesin (die jonger geslag) se verbouereerde geskarrel as die ligte skielik uitgaan, want 'n vetkers en 'n blaker pas nie by hulle nie. Hulle ken wel kandelare en sierkerse, maar dit is nie vir ligmaak nie. Ek glimlag as die water in die kraan skielik net sluk-sluk en ophou, want 'n geduldige ou windpomp bring nie vir stadsmense water nie. En as die rekenaar se batterye die gees gee, is almal verlore, want niemand in die hedendaagse lewe het leer reken nie, die masjien moet dit doen. En as die krag afgaan en die elektriese wekker langs jou bed het die tred met die tyd verloor en jy is môreoggend laat vir werk, is daar nie eers 'n haan op sy pos om jou in die vroeë môre-ure tot die daad van die dag te roep nie.
Ek is bly ek leef in moderne tye, net soms wonder ek. Pa kon met 'n stuk binddraad en 'n tang enigiets weer aan die loop kry en met die ou koolstoof byderhand, was daar nooit 'n koskrisis nie. Nou is hulle simbole van vervloë tye en ons sit met die hedendaagse krisisse.
|
|
KRIT
Krit is die Literêre Gespreksgroep wat 20 jaar gelede by Die Windhoekse Onderwyskollege tot stand gekom het. Aanvanklik het George Weideman - wat aan die Afrikaans Departement verbonde was - begin met 'n gespreksgroep waardeur mense aangemoedig is om hul skryfwerk voor te lê en deel te neem aan 'n bespreking daarvan om sodoende skryftalent te bevorder. Nadat Ia van Zyl as departementshoof aangestel is, het sy en die lede van die Departement, hierdie groep 'n ander rigting te laat inslaan. Krit het tot stand gekom waar die klem hoofsaaklik geval het op die lees van gepubliseerde letterkundige werk en die bespreking daarvan.
Oor die afgelope 20 jaar is daar 'n aansienlike aantal van die beste boeke wat in Afrikaans verskyn het, bespreek. Daar is digters en skrywers wat persoonlik by hierdie besprekings betrokke was, onder meer George Weideman, Hans du Plessis, Chris Lombard, destyds hoof van die Departement Drama en daarna skrywer van digbundels en prosa, Gawie Kellerman, Daniel Hugo, Piet van Rooyen.
Om dit te vier dat hierdie gespreksgroep oor die jare net van krag tot krag gegaan het om die Afrikaanse boek te lees, te bespreek en te geniet in 'n aangename atmosfeer, is daar die naweek van 19 tot 21 Oktober opgetrek na 'n plaas, Glynberg Hiking Trails, 74 kilometer buite Windhoek. Daar is groot feesgevier in die vorm van lekker eet en lekker drink, gesels om die kampvuur. Daar is briewe voorgelees wat vorige Kritgangers ingestuur het, daar was 'n boekuitstalling en boekevasvra om oud-Kritgangers se kennis van boeke te toets. Daar is weer besluit dat boeke die wonderlikste manier is om mense bymekaar te bring. Mag Krit net gedy en minstens nog 20 jaar bly voortbestaan!
WORD RUSTIG VIR EEN MINUUT
Ek plaas graag hier 'n brief wat ek van een van my getrouste bydraers ontvang het. Baie dankie vir die wyse gedagtes, ouma Mari D'Alton van Tsumeb.
|
|
Ek het al baie geworstel met die stelling dat alles wat was, weer sal gebeur, en alles wat IS al tevore gewees het. Opeens word dit toe duidelik: dit alles draai om die begrip van 'n draaiende heelal. Die hele skepping, lyk dit, is vasgevang in die Ewigheid, of Tyd sonder begin of einde, wat net moontlik is as die hele skepping, soos die wetenskaplikes ons leer, in 'n draaiende posisie is en onvermydelik verby 'n "plek" draai waar dit tevore al was.
Dat die Skepper van die heelal self ook 'n aandeel in die draaiing het, dus Homself in sy Skepping in die lewe geroep het, is die geheim waaroor geen menslike wetenskaplike nog 'n formule kon uitwerk nie; veral die feit dat daar nooit 'n tyd was waarop God in sy skepping NIE bestaan het nie. Dit is die grootste van alle geheime.
Dat daar, binne die skepping, wêrelde, planete, mense met alles waarmee die mens in verbinding staan, ontstaan het, is te verstane; tog niks wat die mens tot stand kon bring kon die Ewigheid tot stilstand bring nie. Dit draai voort sodat wat was, weer sal wees en wat IS, al gewees het!
|
|
|
|
Miskien so
Johan Wentzel
miskien Of miskien so of miskien is alles so miskien
Daar is verlange wat brand en verlange wat skroei dan's daar verlange wat diep binne groei
miskien of miskien so of miskien is alles so miskien
Soms loop ek reguit soms trap ek skeef verlore in dinge wat niemand beleef Kan jy my sê hoe jy dit wil hê
miskien of miskien so of miskien is alles so miskien
Met yskoue wil doof ek 'n vuur van vergeefse verlange teen my alleenlopermuur Die droogte wat dreig wil ek liewer verswyg
miskien of miskien so of miskien is alles so miskien
|
|
|
|
SUIDE-STORIES
Na aanleiding van die versoek om stories uit die Suide aan te stuur, kry ek toe 'n oproep van die kus af van oom Simon van Zyl. Hy sê dat hy in elk geval stories uit die suide neergeskryf het en daar is nog baie waar daardie vandaan kom - hy stuur! Ek ontvang toe ook 'n brief van 'n ou skoolmaal, Marie Becker (vroeër Kotze). Sy sal ook stories soek, maar sy vertel sommer ook 'n bietjie uit haar eie ondervinding as 'n Suide-kind:
My pa en my skoonma het altwee op Ukamas skoolgegaan (Warmbaddistrik). Hulle het altwee beloof om te skryf oor daardie jare. Skoonma het selfs nog 'n ou konsert-kiekie! My ouers het ook toe Ai-Ais nog 'n tentedorp was jaarliks in die winter soontoe gegaan met my broer wat gesukkel het om te leer loop. Hy het toe inderdaad daar op Ai-Ais sy eerste tree gegee. Hy was wel al vier jaar oud, maar loop het hy geloop!
Toe ek op Keetmanshoop in die skool gekom het, was die skool bekend as Laerskool Keetmanshoop. Dit is later na oom Daan Viljoen (administrateur van die ou Suidwes-Afrika)) vernoem. Die skool was oud maar nog goed. Die koshuis was nog splinternuut en het na verf en nat sement geruik. Die ou geboue het nog gestaan, en ons het te heerlik daarin gespeel. Later is hulle gesloop, maar nie voor een kind wat bo-op die dak gesit en studeer het (bid jou aan!) 'n elektriese skok opgedoen het nie. Sy het aan die ou drade gegryp toe sy wou val. Vandag word nog net 'n gedeelte van die skool as 'n kleuterskool gebruik. Die koshuis is omskep in 'n ouetehuis en kliniek.
Gedurende my eerste weke in die koshuis, het ek baie eensaam geword, want ek het niemand geken nie. Ek stap toe so in die koshuiserf rond en sien 'n paar klein seuntjies speel in 'n ander erf. Ek was baie seker dat my nefie, wat ook daardie jaar in die skool gekom het, daar sal wees. Ek het die straat oorgesteek na die seunskoshuis, maar my nefie was nie tussen hulle nie, want hy was aan die anderkant van die dorp in die splinternuwe Westdene skool wat ook toe geopen het.
Die twee skole het intussen saamgesmelt en staan nou as die Primêre Skool Keetmanshoop bekend. Later jare het ek besef dat ek my in die ou seunskoshuis van Daan Viljoenskool bevind het, toe ek weggeloop het. Die twee koshuise het as: Buk-en-kruip en Haak-en-steek bekend gestaan. Ek kon nooit uitvind waarom nie, maar miskien is daar nog oud-inwoners van die twee koshuise wat vir ons die raaisel kan oplos!
(Baie dankie vir die vertellings uit jou kindertyd. Ek sien uit daarna om die ander stories van ons lesers en belangstellendes te hoor! Redaktrise)
|
|
HOOR-HIER GALORE! 2001
Ek is baie dankbaar vir die positiewe reaksie wat ek tot nou toe op die nuwe Galore gekry het. Die heerlike Kersfeesuitgawe is meer as 70 bladsye dik: pure leesgenot met stories deur Pieter Pieterse, Petrus Haakskeen, Janeke Kirchner, Fred Visagie ... en nog 'n klomp verrassings! Daar is - soos belowe - lagstories, jagstories, mites, huilstories, spookstories, resepte en gedigte. Die blad is pragtig afgerond met illustrasies en 'n treffende buiteblad. Galore 2001 is die ideale kersgeskenk (veral vir platsakkopers!) Dit kos hierdie jaar maar net N$20,00. As u dit persoonlik kan kry in Windhoek, is daar natuurlik geen posgeld by nie, anders moet ek ongelukkig N$10,00 posgeld vra. Laat hoor gerus van u as u hierdie wonderlike publikasie wil besit of wil weggee vir iemand.
'n Heerlike verrassing vir almal wat op Donderdag, 29 November 2001 in Windhoek is: Die Hoor-Hier Galore! 2001 word dan amptelik bekendgestel by die nuwe Book Den in Gutenberg Platz. Tyd: 17:30 vir 18:00
Dit sal heerlik wees om u daar persoonlik te sien! Kom klink 'n glasie (en koop 'n boek, natuurlik!)
|