HOOR-HIER!

Desember 2001: 51

Redaktrise: Susan Alexander
Telefoon tuis: (061) 235757
Vanaf SA: (0926461) 235757
Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na

Hoor-Hier!


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

DAGSÊ VRIENDE

Ek en Kittie

Ek ontmoet hierdie malkopmeisiekind in die stofstraat voor ons spoorweghuisie. Ons herken mekaar van die skool af en begin gesels. Sy en haar suster bly by hulle oom en tante - net so drie huise van ons af. Ja - hulle is nog nuut hier. Sy was eers by 'n ander skool op die platteland. Haar ouers is albei in 'n motorongeluk dood.

My oŽ rek toe sy hierdie nuus byna gevoelloos aan my oordra. Die dood is vir my nog 'n vreemde begrip. Niemand wat ek ken is al dood nie. Op 'n manier maak haar maklike manier van praat dit vir my ook makliker om haar te vertel van my pa en ma; ons probleme; ons uittog na Suidwes. Vir die eerste keer in my lewe praat ek daaroor. Dit is 'n bevrydende gevoel. As ons ons stories gepraat het, sluit ek en sy albei weer daardie deurtjie toe. Nooit weer praat ons daaroor nie.

Kittie en ek loop Vrydagmiddag na die veld toe - nie ver van ons huise af nie. Die lang, droŽ gras skuur teen ons bene. Die sand is warm en skurf onder ons kaal voete. In die middel van die veld staan 'n motorwrak. Ons klim tot op die dak. Daar is nie 'n mens in sig nie. Ons praat nie. Die son is warm - soos 'n streling op ons bene en arms. Kittie strek haar uit op haar rug. Haar oŽ is toe. Ek verwonder my aan die skaduwees wat haar wimpers op haar wange maak. Sy neurie 'n vreemde deuntjie wat net in haar kop bestaan. Ek weet dat sy van my vergeet het. Ek vind dit goed. Ek hou haar dop: die brosserige donker hare; die vol mond en sterk ken.

Meteens word die intimiteit van die oomblik vir my te veel. Ek spring van die motordak af en stap na 'n doringboom 'n entjie verder. Ek hou steeds vir Kittie dop, die benoudheid van 'n oomblik gelede weg. Ek hoor vaagweg nog haar wysielose neuriestem. My dink raak weg. Net die wind en die hitte; die reuk van die droŽ gras dring hulle op aan my. Dit is goed, dink ek. Die lewe is goed.

As ons later terugstap huis toe, slaan Kittie haar arm om my lyf. Half skugter vou ek my arm ook agter om haar rug. Ons stap stil terug; die skaduwees lank en die son laag op die horison.

KRIT 2002

Vir my Hoor-Hier-vriende wat dalk nog nie weet wie of wat Krit is nie: Dit is 'n literÍre besprekingsgroep in Windhoek wat so ongeveer ses keer 'n jaar bymekaar kom om te gesels oor goeie Afrikaanse boeke. Hierdie groep bestaan al 20 jaar.

Ons het 'n groot fees gehou om dit te vier dat ons al twee dekades ons met die Afrikaanse boek besig hou.

KERSFEESBONUS

Kersfeestyd is 'n tyd van 'n Kind in 'n krippie; 'n tyd vir saamwees en omgee; 'n tyd van nadink oor 'n jaar of dalk 'n lewe wat verby is. Kersfees is ook 'n tyd wanneer ons vreemde besoekers kan ontvang... soos Engele. Ja, Kerstyd is 'n tyd wanneer ons Engele můťt verwag!

 

ANGELUS DOMINI (ENGEL VAN GOD)

Henriette Lamprecht

Die engel is moeg. Sy vlerke hang ruggraatlangs grond toe. Die donsies wat onder skuil se koppies is ingevoeg onder die reuse-skag. Die helderwit nou dof met hier en daar 'n stukkie grys wat tussen die veertjies deurbreek. Sy gang is traag, sy blik grond toe, sy nek 'n krom boog teen sy lyf.

Die engel stap na die waterkan in die koue wit gang. Hy vat 'n wit koppie, die rante afgebyt deur 'n vorige gebruiker, druk dit teen die kraantjie en wag totdat dit vol loop. Lugborrels bewe in die plastiekbal soos die stroompie sjor in sy koppie. Hy druk dit teen sy lippe en gooi die koue vloeistof in sy keel af. Vee met sy plathand die druppels langs sy mondhoeke op sy palm, frommel die koppie op en gooi dit in die vullisdrom langs die waterkan.

Die engel sien die mense verby hom beweeg, geruisloos, hul arms wat liggies teen sy vlerke skuur. Hy sien hoe hulle uniforms, wit en styf, kraak as hulle agter die lessenaar gaan sit, pille uit 'n glaskas haal, uitgooi op die tafel en versigtig aftel in plastieksakkies met name in blou geskryf in die hoek bo. Hy ruik die Dettol-dampe, bloed in sakkies bokant beddens, vloeistof in inspuitings, urine in bedpanne, koors en pyn.

Die engel gaan sit voor Kamer 23. Die deur is oop. Binne hoor hy stemme, woorde wat lig en sag tot by hom gedra word. Sy gesig versag, die lyne skielik sagter en weerloos. Die kepies langs sy mondhoeke nou fyn teen sy growwe gesig. En hy onthou. Saam eet onder 'n groot grasdak met duiwe wat speel om hul voete. Bekers vol stoomwarm koffie en bonte borde met hompe puntroomkoek. Wandelinge op vreemde strate, foto's in gange. Hy kyk op, beweeg sy oŽ na die figuur uit hout gekerf, vasgespyker teen 'n kruis, afgeŽts teen die skarlakenwit van die gang se muur. Vir die eerste keer glimlag hy. 'n Warmte kruip deur sy koue lyf, hou hom vas soos 'n stywe druk teen 'n bekende lyf. Hy gaan huis toe.

Die engel hoor 'n stem. Hol uit die gat in die muur wat die deur moet vashou. Die engel se vlerke begin kriewel, die donsies staan stadig op onder die skag. Die engel staan op, sy vlerke hoog en majestueus soos 'n toga wyd agter hom uitgesprei. Die engel se voete word lig, sy treŽ seker en vas.

Die engel stap in, sien die vrou wat in die bed lÍ, haar onderlyf in gips. Die engel sien haar seer; die pyn wat 'n gat in haar mond vorm, skiet tot by haar oŽ. Die engel stap tot by haar bed, steek sy hand uit en vee haar trane af, druk sy hand gerusstellend en styf vas in hare. Hy sien die aanvaarding in haar oŽ, die vrede wat stadig oor haar spoel. Die engel draai om, stap na hom wat in 'n bondel op die vloer lÍ. Buk en vat hom met seker hande onder sy oksels vas, trek hom orent teen sy sagte lyf totdat hy regop teen die engel leun. Die engel sit sy voete langs hom en begin stadig stap na die vensters, sy vlerke gevou oor sy kosbare vrag. Die engel gooi die vensters oop, klim op die vensterbank en adem die skerp asem van 'n koue wintersaand in. Sien die ougoud skynsel van die maan wat hoog 'n skewe sirkel teen die donker vorm. Vir oulaas kyk hy hom, stuur met sy oŽ 'n boodskap na haar wat hy weet sy verstaan. Een van vrede wat 'n mens se verstand te bowe gaan. In 'n wit wolk van vlerke en vrag verdwyn hulle agter die maan.

Op die koue wit vloer bly 'n donsveer windskeef teen die bed lÍ. In die kamer hang die reuk van soet kaneel.

Hierdie pragtige verhaal verskyn ook in Hoor-Hier Galore! 2001. Indien u 'n kopie van hierdie heerlike dik bundel verhale, gedigte en resepte wil bestel teen slegs N$20,00 (R20,00), kan u direk met Susan Alexander skakel by een van die kontaknommers op die voorblad.

 

 

TOTSIENS SANTIE, TATTA MY OU HOND

11 Desember 2001

Susan Alexander

Vandag moes ek vir Santie laat uitsit. Die veearts het haar met versigtige, simpatieke vingers ondersoek. Hy het teruggestaan en teen die kas met medisyne geleun. "Die ou hart wil nie meer nie. Dit klop teen 'n geweldige pas. Daar is vog in die longe. Die volgende orgaan wat waarskynlik gaan skade ly, is die niere. Maar natuurlik kan ons probeer om vir haar nog bietjie tyd te wen met medikasie. Sy sal dit egter elke dag moet neem." Ek het net my kop geskud. "Nee, ek het my les geleer met 'n vorige troeteldier wat ek vir maande met medikasie aan die gang probeer hou het."

Ek kyk hoe die veearts omdraai en die spuitstof, inspuiting, wattetjie, rekkie bymekaar kry. Intussen streel ek oor ou Santie se maer lyf. Die ribbes steek uit - ek voel die vibrasie in die longe, die vinnige hartklop.

Elf jaar gelede gaan soek ek die hondjie by die Dierebeskermingsvereniging uit. Dit moet nou 'n troeteldiertjie vir my ma wees. Ouma woon uiteindelik in 'n woonstel met 'n tuintjie - nou kan sy weer 'n dier aanhou. Daar is 'n paar klein hondjies. Die klein swart krulhaar Maltees kyk met blink ogies na my. "Ek wil hierdie ene hÍ." Ek betaal die bedrag om die klein tefie later te steriliseer en stap met die bondeltjie uit. Sy is wakker en energiek. In die motor lÍ sy op my skoot en byt my vingers as ek nou en dan tussen ratte wissel en oor haar streel. Ouma is dadelik verlief op die swart hondjie. Na sy die gespelery en gebytery aan alles vir 'n rukkie dopgehou het, kondig sy aan: "Hierdie hondjie se naam is Santie. Dit is nou 'n samestelling van Susan en Parmant!" Dit het gelyk asof Santie baie in haar skik was met die naam. want sy het 'n skril blaffie laat klink en byna omgeval in die proses.

Die eerste maand het Santie in die deksel van 'n A-4 boksie geslaap. Sy was te pragtig: die swart krulhaartjies bottelblink, die rooi tong soos 'n ryp vruggie, speels tussen die lippe - in en uit. Sy het gehardloop en wegkruipertjie met my dogter gespeel.

Na 'n ruk kom ons agter Santie draai haar koppie so vreemd skeef as sy luister. As sy vir 'n ondersoek na die veearts gaan, kondig hy aan dat die ou hondjie se sig baie sleg is. "Sy sal mettertyd waarskynlik heeltemal blind raak. Maar honde het die wonderlike vermoŽ om aan te pas. Haar gehoor is waarskynlik baie skerp." Die veearts kom ook agter dat Santie se tandjies liederlik skeef is. Hy vermoed dat haar ma en sy maar 'n slegte tyd gehad het voor die DBV hulle oor die babahondjie ontferm het. Hy gee ekstra kalsium en vitamines wat ons getrou saam met haar kos vir haar ingee.

Santie is eintlik 'n groot plesier. Sy is grommerig en kwaai - maar word net so gou weer goed en kom val voor jou voete neer met die magie na bo ... nadat sy jou bietjie erg karnuffel het. Ja - Santie het haar eie karakter. Sy word deel van die familie. As Ouma later verhuis en haar nie meer kan aanhou nie, kom trek Santie weer by ons in. Sy bejeŽn my ander troeteldiere met 'n hoogmoed wat hulle op 'n veilige afstand hou.

Santie word oud. En nog meer grommerig. Dit raak al moeiliker om haar na die hondesalon te neem. "Mevrou - hierdie ou hondjie is baie senuweeagtig ... ons moes vir haar medisyne vir haar maag gegee het!" kla die salonvrou.

En toe word sy siek. Nie haar gewone siek wat ek met disprins regdokter nie. Ek voel haar longe roggel en haar hart wat onbeheerbaar klop.

Die veeart bind die rekkie om Santie se regterbeen. Hy vee met 'n nat watte oor die aar. Hy meet die blouerige vloeistof in sy spuit af. As hy die naald insteek, maak my ou hondjie nie eens 'n geluidjie nie. Ek hou haar vas totdat die geroggel ophou en die hartjie stadiger klop en gaan staan.

Totsiens Santie, tatta my ou hond.

 

WORD STIL VIR ’N MINUUT

Gebed is ’n lewenswyse

Gebed hoef nie altyd 'n vorm van mooi woorde te hÍ nie.

Gebed is 'n lewenswyse. Gebed is om in alle omstandighede bewus te wees van God se teenwoordigheid en om te weet God is vŪr my. As gebed 'n lewenswyse is in die voortdurende bewussyn van God se teenwoordigheid, word die lewe self 'n liturgie, 'n orde van erediens ... Om God telkens te sÍ wat jou lewenservaring is, om dit onomwonde te sÍ, dit is gebed.

          Ferdinand Deist



Volgende Uitgawe Volgende Uitgawe
Vorige uitgawe Vorige Uitgawe
Tuisblad Tuisblad
Teken in op Hoor-Hier! Teken in op HOOR-HIER!
Besoekersboek Besoekersboek
Boekwinkel Boekwinkel
 
Internet-tuiste geborg deur

Die Knoop

Die Knoop: Duisende Afrikaanse Bestemmings!

 


18 Jan 02 08:16:11 PM