|
||||
|
|
|
DAGSÊ VRIENDE Universiteitstoelating Ten spyte van die feit dat ons dit nie breed het nie, twyfel ek nooit daaraan dat ek na skool universiteit toe gaan nie. Ek besluit vroeg reeds dat ek medies wil gaan swot. Die voorligtingonderwyser help die kinders om beursaansoekvorms in te vul. Ek word gekeur vir medies. Dit voel net reg. Ek stap met my skooltas in die lang gange van die skool. Ek weet dat ek besig is om afskeid te neem. Dit is nog net die paar maande voor die matriekeksamen, en daarna is ek weg. Die vrees vir die onbekende is steeds daar; maar daar is ook 'n ander emosie wat ek nie kan beskryf nie - 'n soort vasbyt en deursettingsvermoë. Ek weet ek moet hard werk. Ma koop vir my 'n piepklein, tweedehandse tikmasjientjie. Ek kan goed tik want dit is een van my vakke op skool. Ek streel liefdevol oor die toetse van die Baby Hermes. Ek tik my opsommings netjies. Ek staan in die oggende om vieruur op en gaan sit by die lessenaar. Ek werk soos 'n besetene - werk ou vraestelle uit en dikteer langvrae se antwoorde aan Ma terwyl sy by die strykplank staan en klere vou en stryk. Ma sê niks; luister maar net met 'n halwe oor as ek aan haar verduidelik watter pad die kos volg deur die hele spysverteringskanaal. Ek rammel die Duitse naamvalle vir haar af. Ek giggel maar net vir haar uitspraak as sy vir my die Duits uit die handboek probeer vra. Die onderwysers in die skool het nog nie van die kommunikatiewe benadering gehoor nie; dus leer ek al die Duits uit my kop uit. Een oggend, net voor pouse, roep die skoolhoof my na sy kantoor toe. My maats se oë rek groot - wat het jy aangevang? Ek klop aan mnr. Kotze se kantoordeur en stap binne. Hy lyk ernstig. Jy het aansoek gedoen vir medies, nie waar nie? Ja Meneer - ek het ook 'n beurs gekry. Hy lyk ongemaklik. Ek voel dit is my plig om vir jou te sê dat ek dink dat dit nie wys is om medies te studeer as jy nie Wetenskap as vak het nie. Maar ek het Biologie en Wiskunde, Meneer! Ja - maar Wetenskap is baie belangrik as jy Medies as rigting kies. Ek kan nie vir jou besluit nie; maar jy moet daaroor dink. Dit voel vir my asof my wêreld se boom uitgeval het. Ek slof na die klaskamer toe. Ek sien nie kans om terug te gaan na my maats op die speelgrond nie. Wat sê ek vir hulle? Hulle was saam met my bly toe ek die beurs gekry het. Ek lê op my arms. Ek hoor die suising van my bloed in my ore. Ek en Ma het die vorige week 'n kontrak voor 'n Kommissaris van Ede geteken. Ma moes onderneem om die studiebeurs terug te betaal as ek sou druip of opskop. Ek weet ek sal nie sommer opskop nie ... maar sê nou net ek maak dit nie? Ek voel dit is my plig om vir jou te sê dat ek dink dat dit nie wys is om medies te studeer as jy nie Wetenskap as vak het nie. My Afrikaansonderwyser, mnr. Hendrik Jansen, stap by die klaskamer in. Hy staan verbaas stil as hy my daar sien. Voel jy sleg? Waarom is jy nie buite nie? Ek sê nie vir hom dat ek voel asof my lewe binne sekondes in chaos gedompel is nie. Ek stotter dit uit dat ek van studierigting moet verander en dat ek nie 'n benul het wat om te kies nie. Mnr. Jansen kyk op sy stil manier na my. Dit lyk asof hy iets wil sê maar dan daarteen besluit. Hy sit sy hand vlugtig op my skouer en stap dan weer by die klaskamer uit. Na pouse sit ek net stil in my bank. Ek ignoreer my vriendinnetjies se vraende oë. Na skool slof ek huis toe. Ek doen my huiswerk soos 'n outomaat - gaan lê dan op my bed. My gedagtes is leeg. Daar is niks: geen opstand, geen planne, niks. Ek sukkel om later die aand met Ma te praat oor mnr. Kotze se raad. Sy word net 'n bietjie bleek. Jy moet maar self besluit wat jy nou wil doen, my kind. Daardie nag droom ek dat 'n professor van die mediese fakulteit my met 'n mes jaag. Die professor lyk 'n bietjie soos mnr. Kotze. Die mes is 'n slagmes. Ek skrik wakker. My lyf is sopnat gesweet. Ek swaai my bene van die bed af en stap in die donker kombuis toe. Ek drink sommer uit my hand by die kraan water. Ek sal verder studeer. Ek gaan nie druip nie en ek gaan ook nie opskop nie. Miskien gaan ek nou nie meer 'n dokter word nie; maar ek gaan iets word. Ek sal nie in die bank of op die spoorweë of by die algemene handelaar gaan werk nie. Die volgende dag gaan ek na mnr. Jansen toe. Meneer, sê ek, Ek gaan verder studeer in Afrikaans. Hy sê eers niks nie, maar ek kan sien dat hy verras en bly is. Dankie dat Meneer Afrikaans so lekker maak. Dit maak dit vir my makliker om hierdie keuse te maak. Susan, dit is 'n goeie besluit. Ek glo jy sal 'n sukses van jou studie maak. Ek sal Meneer! En dan bloos ek oor my voortvarendheid. Pouse vertel ek my vriendinne van die verandering in my studieplanne. Hulle simpatiseer en wens my terselfdertyd geluk. Nie een van hulle is van plan om verder te gaan studeer nie. Hulle dink ek is 'n vreemde verskynsel. En miskien is ek. LESERSBRIEWE Ek hoop my Hoor-Hier-lesers gaan in die jaar 2002 'n bietjie flukser raak en weer die pen opneem en skryf. Ek hoor graag van julle. Hier is 'n klompie briewe wat ek wel per E-pos en op die besoekersboek van die Hoor-Hier! ontvang het: Dit is baie lekker om te sien dat julle nog almal vasbyt en ook lief is vir Afrikaans. Mag die Leeu van Juda julle Behoeder wees in 2002! Opregte groete uit Bloemfontein. Maggies mense, ek's spyt ek kom nou eers op die "plotjie" af. As 'n oud-inwoner van Aroab waar ek my verstand moes kry vanaf jaaroud en Leonardville - waar my pa Alwyn Nagel predikant was, en Hoërskool Gobabis, geniet ek hierdie nou terdeë. Hallo julle almal N PAAR VROLIKE GEDAGTES NA DIE DESEMBERVAKANSIE (Manus Hanekom stuur die volgende vir my... sommer vir die lekkerte, sê hy) Noudat die feestyd en jolyt agter die rug is en jy weer besig is om die los drade op te tel en om al die ongedane takies aan te pak en af te handel, wonder mens of vakansie of verlof of leeglê, wat jy dit ookal wil noem, die moeite werd is. My ondervinding was en is dat jy die hele jaar lank reikhalsend uitsien om net 'n keer los te breek, weg van die alledaagse sleur van roetine om dan uiteindelik ore in die nek af te sit na iewers by die see vir 'n plekkie in die son op wit seesand. Die lekkerte van die reis op pad soheentoe is gevul met glimlag en skaterlag en koeldrank en chips en baie geduld. Gewoonlik oordoen jy dit die eerste aantal dae. Verbrand jou om die kleur aan te neem van 'n kreef wat uit die kookwater kom. 'Moenie aan my raak nie, eina' en dit is olietjies en poeiertjies en allerhande smeergoedjies om tog net van die brand en die seer ontslae te raak. In die son kan jy dit nie waag nie tensy jy iets oor die seer lyf aantrek en dan krap dit en dit kriewel en die humeurtjies word korter en korter en die 'Ek het jou mos gesê' klink soos 'n skelwoord. Nou is die vakansie sommer geheel gekonfoes en die bekke bly dik en die lippe lank, maar gelukkig kom dit ook ten einde en kort voor lank kan jy weer jou plekkie op die sand in die son gaan innneem - dog hierdie keer met matigheid voor oë en rustige genoegdoening. En nog voor jy werklik jou niksdoen kan geniet, loop die vakansie ten einde en daar gaat julle met min glimlag, min geduld en selfs ook minder koeldrank en chips want die buidel is byna leeg, net genoeg oor vir brandstof om die huis te haal. En as die kinders by die vulstasie sou waag om te vra, 'Pa, kan ons chips en koeldrank kry' kry hulle maklik 'n snou-antwoord, 'Dink julle die geld groei op my blêrrie rug!' So begin en eindig dit, maar elke jaar gaan ons deur dieselfde proses van ekstase, knieserigheid, befoeterdheid en nog 'n klompie gemoedstoestande sonder om te leer, want hoe saai sal die ou lewe wees as ons nie weer en weer deur hierdie fases worstel nie. Omdat ek nou reeds vir 'n hele klompie jare uit die binneland pad gegee het hier na die Suid-Kaap se kus, ondervind ek gelukkig, of is dit ongelukkig, nie hierdie uiterstes nie. Die afgelope vakansie- seisoen het ek egter 'n geheel ander skoen aangetrek as ooit voorheen met vakansietyd. Ek het naamlik my op die bemarkingsveld begewe, dis nou soos in vlooimark of smous, die ruil van goedere vir geld om te kan deel in die oorvloed van die vakansiegangers uit die Noorde, Ooste en Weste. Tesame met my skoondogter, eienares van 'n rokwinkel (hoor hul noem dit iets soos boutique) het ons strand- en verwante drag en plaasprodukte aangebied. Om ons besoekersvriende aan te moedig om te koop (wil nie sê lok nie) het ek Afrikaans ingespan met die volgende advertensies wat ek op papierborde aangebring en oral aan die stalletjie opgehang het. Ek sluit enkeles hierby in. Botterskorsies Toe die groenmielies opdaag het ek die volgende kwyt geraak: Verpand jou Rand Om nie my skoondogter af te skeep nie, het ek die volgende vir haar papierbord saamgeflans: Agter hierdie rak met groente Om af te sluit en my meegevoel met die koperspubliek te toon het ek hierdie kwyt geraak: Jammer Vrinne (Manus - dankie vir die vrolike vakansiebrief. Red.)
WORD STIL VIR N MINUUT Ek kry 'n brief van vriend Johan Wentzel. Hy stuur sy eie vertaling van 'n Engelse teks deur Stymean Karlen en vra of ek dit nie in hierdie klein rubriek van die Hoor-Hier! wil gebruik nie. Ek doen dit graag:
|
|
|
|||||||||||||||