HOOR-HIER!

Februarie 2002: 53

Redaktrise: Susan Alexander
Telefoon tuis: (061) 235757
Vanaf SA: (0926461) 235757
Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na

Hoor-Hier!


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

DAGSÊ VRIENDE

Tukkies - hier kom ek!

Ek en Ma maak 'n lys van alles wat ons dink ek nodig sal kry in die koshuis en op die kampus. Ons gaan na een van die hardewarewinkels op Keetmanshoop en koop 'n groot bliktrommel. Ek verf my naam met swart verf op die deksel en teen die kant. In die trommel word die wintersklere en goed wat ek min sal gebruik gepak. My Baby Hermes tikmasjientjie word ook hier ingepak. Die trommel sal opgeboek moet word. In twee ander tasse word my skrapse besittings gepak en afgemerk teen ons lysie. Ma koop ekstra stelle onderklere en slaapklere.

Ons vier Kersfees en Nuwe jaar rustig en sonder ophef. Ek kan sien dat Ma bekommerd is oor my. Maar sy sÍ niks nie.

Mense kom groet my en dra klein geskenkies aan. Ek voel aangedaan. Ek wil sÍ dat die geskenkies nie nodig is nie; maar ek weet dit sal hulle gevoelens krenk.

Die tyd kom nader en my keel trek toe. As ek die dag op die trein moet klim, vra Ma die stasievoorman om my bagasie asseblief stasie toe te ry. Die trommel word in die bagasiewa gelaai en die ander bagasie word by my in die kompartement gelaai. Daar is drie ander jongmense by my ingeboek. Hulle bagasie lyk maar net so baie soos myne. Die stasievoorman help ons om van die tasse onder die sitplek en die ander op die boonste bank te laai.

As die eerste klok lui, gee Ma my 'n soen en klim uit die trein uit. Sy kom staan by die venster. Ons het nie meer iets om vir mekaar te sÍ nie. Ons kyk na die ander mense wat afskeid neem. Sommiges huil.

As die laaste klok lui, gryp ek Ma se hand en druk dit vinnig. Dan begin die trein te beweeg. Ek waai totdat die trein om 'n draai gaan en ek nie meer vir Ma kan sien nie. Dan sit ek maar by die venster en kyk na die bekende landskap: die droŽ gras, die koppies, sand, geharde bosse. Dit sal maande wees voordat ek dit weer sien.

Maar ek voel nie hartseer nie - miskien 'n bietjie omdat ek weet Ma sal my mis - maar die opgewondenheid oor al die nuwe dinge wat ek gaan belewe, oorheers my hartseer.

Een van die ander meisies begin te gesels en ons vind uit dat nog een van ons kompartement-genote gaan ook Tukkies toe. Sy is al 'n tweedejaar. Die ander twee gaan na die Pretoriase onderwyskollege. Ek gesels lank met die tweedejaar Tukkie en sy vertel my van die kursus wat sy volg in mondhigiŽne. Sy bly nie in 'n koshuis nie en kan maar net oppervlakkig iets vertel oor die koshuislewe.

Later haal ons almal ons padkos uit. Aanvanklik is ons maar selfbewus, maar dan bied die tweedejaar almal van haar frikkadelle aan en ons eet lekker.

Dit word donker en almal rol hulle slaapsakke oop. Ma het vir my ook 'n slaapsak gekoop sodat ons die onkoste van treinbeddegoed kan spaar en vir die wis en die onwis - soos Ma altyd sÍ.

In die donker wieg ek sonder weerstand saam met die beweging van die trein. Ek gee my oor aan die takketak, takketak-ritme oor die spasies in die treinstawe. Ek sing later 'n liedjie in my kop: Ek-kom-ek kom-Tuk-kies-ek-kom.

SKRYWERSHUIS OP PHILIPPOLIS

Jens Friis

PHILIPPOLIS. Genugtig! Soveel bekindes het ek nog nooit tesame op onse dorp gesien nie! Op 'n streep het hul gestaan: Pieter Fourie, Ruda Landman, Gilian van Houten, Christina Landman ... Soos Coenie de Villiers wel met 'n knipoog gesÍ het: "Dis nie aldag dat 'n Zulu-prins, 'n N.G. dominee en 'n Engelse dame dieselfde nalatenskap vereer nie!"

Die geleentheid? Die opening van die Sir Laurens van der Post Museum en -Skrywershuis oftewel Artist Retreat. Deel hiervan is ook 'n inligtingsburo en teetuin.

"Mag dit 'n William Kentridge lok," sÍ De Villiers. "Vir Hugh Masekela is dit die ideale plek om 'n grootste African Symphony te skryf en vir Breyten Breytenbach om 'n korter, maar steeds uitmuntende, nuwe play neer te pen."

Die idee om 'n "lewende nalatenskap" vir Van der Post te skep het posgevat terwyl De Villiers en ds. Bertie Haasbroek eendag onder die prieel van die plaaslike N.G. pastorie gesels het.

In 1998 is die eerste fase van die Van der Post Gedenksentrum voltooi - 'n Japaneserige gedenktuin. Dis hier waar Laurens se as 'n laaste rusplek gevind het langs 'n simboliese paadjie wat die tradisioneel swart en wit woonbuurte verbind. "Sedertdien floreer die roosbome. G'n steen is nog verwyder en g'n graffiti het verskyn nie," sÍ me. Lucia Crichton-Miller, dogter van diť vermaarde skrywer en filosoof.

Van die tweede fase van die Gedenksentrum - 'n skrywershuis - sÍ sy dat weinig haar pa blyer sou maak. "As jongeling het hy gevoel hoe moeilik dit is om te skryf met kwellings oor geld pal in jou agterkop. Mag die Artist Retreat vir kunstenaars die nodige tyd en ruimte bied om hul talente te ontgin. Dit is verkeerd om kunstenaars vas te ketting in onsimpatieke beroepe. 'n Skeppingsgees můťt gevoed word."

Deesdae staan Van der Post se studeerkamermeubels en boekery nie meer in sy Chelsea-penthouse nie, maar in 'n karoohuisie op Philippolis. Inwoners hoop dat dit toeriste vanaf die N1 sal lok. Die teerpad vanaf Colesberg via Philippolis na Trompsburg is net 17 km langer as die N1 oor Norvalspont, Gariepdam en Springfontein.

Verhale van die "wit Boesman" se kindertyd in die Vrystaat en politieke intriges van Afrika tot die Britse koningshuis is as onakkuraat afgemaak na sy dood in 1996. Dit was veral J.D.F. Jonesse wat in The Many Lives of Laurens van der Post beweer het dat diť ghoeroe kleivoete gehad het.

"Dit maak nie saak dat al die feite wat my pa opgeteken het blykbaar nie klop nie," meen Crichton-Miller. "Hy sal voortleef in sy werke solank as wat die mens kan lees, want dit gaan oor blywende waarhede."

Sy ontvang nog op 'n daaglikse grondslag briewe van oraloor waarin dankbares getuig hoe Van der Post die groot waardes van menswees vir hul as moderne wesens ontsluit het.

"Dit was eers na sy dood wat ek besef het watter behoefte my pa gehad het om liefgehÍ te word. Vir min mense kon hy net homself wees. Hul het wysheid by hom kom soek. 'n Gewone mens wou hul nie vind nie." Dat hy 'n kenner van Carl Gustav Jung en vriend van prins Charles en barones Margaret Thatcher was, het uiteraard nie gehelp nie.

"As een van Suid-Afrika se grootste seuns het hy wyer gedink as die beperkte Apartheidsraamwerk," het min. Mangosuthu Buthelezi Saterdag gesÍ van sy "geliefde vriend" en "die wysgeer wat vir my en baie ander veel beteken het" ... "Daar kan geen beter nagedagtenis aan hom wees as dat sy nalatenskap vir mans en vroue - ook kunstenaars - tot iets groters beweeg nie."

Nadat 'n inligtingsplaat deur hom onthul is, het Buthelezi vir diť boorling van Philippolis - "a most beautiful town" - geprys omdat hy nooit skaam was oor sy Suid-Afrikaanse afkoms nie.

"Dit is goed om te sien dat Suid-Afrika leer om sy arms te open en internasionale besoekers te omarm met 'n selfvertroue dat ons ... ook veel meer kan bied as natuurlike skoonheid," het hy gesÍ met verwysing na die skrywershuis en museum. "Die potensiaal bestaan om Suid-Afrika 'n setel te maak van waar inspirasie voortvloei, die gees gestimuleer word en nuwe idees geskep word wat die wyse beÔnvloed waarop ons ťn ander na die wÍreld kyk.

"Dis plekke soos hierdie wat nie alleen die Vrystaat se erfenis vergroot nie, maar ook die Renaissance waarna ons hunker aanhelp."

Mnr. Cecil le Fleur, verteenwoordiger van die Griekwa Nasionale Kongres, het die hoop uitgespreek dat die Skrywershuis persepsies sal help verander dat die Khoi-/San-/Griekwa-groepe "half-mense" was. "Skrywers kan 'n geweldige konstruktiewe rol speel om diť skewe beeld reg te stel en behoort hulself moreel daartoe verplig te voel. Die toekoms van ons land hang grootliks af van 'n verandering van vooropgestelde idees."

Die derde fase van die Gedenksentrum sal 'n waterlabirint behels. Werk hieraan begin eersdaags.

• Akademici tot sangers wat van die Artist Retreat gebruik wil maak, kan Haasbroek bel by 0834404955 of skryf na Posbus 71, Philippolis 9970. Tussendeur sal dit ook as gastehuis dien.

OOR DROME

'n Gedig uit die pen van Fanie Olivier
vir die opening van
die Van der Post Gedenksentrum
op Philippolis:

oor drome

          vir bertie haasbroek

wie het kon droom dat diť gehug
[polis sou mens dit beswaarlik noem]
met die kaalvoetkind en witkopman
neerslag sou kry as "internasionaal":
japanse klippers, kalagadi sand
en gariepwaters onder hierdie oopste lug?
[en hoe faalbaar, uiteindelik, is roem!]
hoe faalbaar, ook, is taal?
sprekers sterf uit, klapklanke gaan
verlore, funksies word minder, lees
'n luukse; hoekom met skryf nog tyd
bly mors, met ruimtes van die gees?
hoe het hy hom later met die stukkie land
en brokkie taal versoen? verstok, wyd
soos die wind hier waai? die donker dinge:
het hy op die kop met die kanonne as kind
daarvan kon droom? of in die kerk se skaduwee?
en oor die baie jare, hoeveel naelstringe
moes hy knip om los te kom tot hiertoe, hiervandaan?
watter troos, watter boodskap sou mens hieruit kon gee?
nou bly daar oor, oneindig, die simboliek,
'n boekery, 'n lessenaar, 'n plek vir die hand
om te doen wat hy vind, 'n stukkie romantiek,
en, om die draai, nog steeds die kerk se skaduwee
en altyd hierdie son wat oor hom brand.


[19 januarie 2002]

LESERSBRIEWE

Weer en Wolke

Dis so lekker om oor die lekker van die lewe in jou eie taal te lees. Lekker om te lees van die "lekker" swaarkry jare toe sommige van ons nog doeke gedra het en voor dit. Vandag wil ek die stoute skoene aantrek deur die pen op te neem en op my amateur manier bietjie speel met woorde in ons lekker-lees Afrikaanse taal.

So loop my dag in my verbeelding af. Ek sit hier in my wolkekrabber en uitkyk, toe ek opmerk dat hier mos 'n groot onweer aan die opsteek is, want donker wolke is besig om in die lug saam te pak. Dis sommer lekker bewolk daarbuite. Net toe stap 'n kollega by my kantoor in en ek sien sommer die onweer op haar gesig, maar vra tog ewe bedagsaam hoe dit gaan? "Nee jong, sommer baie bewolk!" is haar antwoord.

Ja-nee, daar is nie net 'n donderweer aan die opsteek daar buite nie, die donderbuie is ook, op hierdie Donderdag, goed aan die uitsak in die kantoor. Bliksemstrale klief deur die lug aan die eenkant en aan die anderkant blits woorde heen-en-weer tussen twee kollegas. Ek kom in om vredesregter te probeer wees, maar twee pare oŽ blits na my kant toe en soos blits is ek maar liewers uit die kantoor terug na my ou stoeltjie toe om my half kapoet te skrik toe 'n blits buite deur die lug klief.

O jitte, en as ek hierdie koerante so sit en lees, sien ek net donker wolke om my hang. Op my kollega se vraag hoekom my oŽ so wolkerig lyk sÍ ek toe vir haar dat ek maar bra bewolk voel vandag en dat ek wens ek kan ook weer 'n slag in die wolke wees.

Ek kyk by my venster uit en ek sien hoe 'n stukkie son agter die wolke kop uitsteek. Ek merk hoe 'n pragtige silwer rand om die donker wolk vorm en ek dink by myself dat dit tog so waar ook in 'n mens se lewe is. Elke donker wolk het sy silwer rand. My kollega se trooswoorde? "Onthou, agter elke wolk skyn die son!"

Meteens besef ek: die storms het bedaar - binne en buite. Nou gaan ek vir my 'n lekker koppie wolkerige koffie maak, agteroor sit en dit geniet.

          Salig, so 'n stilte na die storm!

Groetnis

RonŤlle Burger
Windhoek

WORD STIL VIR ’N MINUUT

Dankbaarheid

Dankbaarheid vir reŽn
om te ploeg en plant, te saai en te oes
met 'n lied in die hart.
Na 'n siekbed weer op te staan ...
Verlos uit ellende!
Want dankbaarheid is:
Eer wat ons aan God verskuldig is!

A.J. la Cock, Uit: Net met woorde ...



Volgende Uitgawe Volgende Uitgawe
Vorige uitgawe Vorige Uitgawe
Tuisblad Tuisblad
Teken in op Hoor-Hier! Teken in op HOOR-HIER!
Besoekersboek Besoekersboek
Boekwinkel Boekwinkel
 
Internet-tuiste geborg deur

Die Knoop

Die Knoop: Duisende Afrikaanse Bestemmings!

 


11 Mar 02 10:48:42 PM