|
||||
|
|
|
DAGSÊ VRIENDE Die opdrag Susan AlexanderEk sluit myself toe in my kamer as die ander studente koffie drink. Ek werk met 'n vuur en 'n ywer. Die studente op dieselfde vloer as ek, skud net hulle koppe en spot bietjie met my. Spot maar, dink ek. Ek gaan nie net deurkom nie - ek gaan bo uitstyg. In die Afrikaans klas kry ons 'n opdrag om 'n studie oor Die beiteltjie van NP van Wyk Louw te maak. Ek bestudeer die gediggie. Gaan soek besprekings oor die digter en sy gedigte in die biblioteek. Dan sit ek agter my Baby Hermes en tik versigtig my interpretasie van die gedig. Ek werk tot laat in die nag. Dan is ek klaar. Ek knip wit karton in folio-grootte en gebruik dit as buiteblad vir my opdrag. My naam en studentenommer skryf ek in drukskrif aan die buitekant. Dit lyk so netjies dat ek besluit om al my take só te versorg. Dit is my eerste taak en ek voel nogal effens bewerig as ons dit moet ingee. Twee seniorstudente wat as assistente vir die dosent optree, kom haal die reuse-stapels take. Die dosent gaan aan met haar werk. 'n Week later kry ons die take terug. Daar is nie 'n merkie op die buitekant nie. Eers dink ek dat my taak nie nagesien is nie. Ek blaai die buiteblad stadig om. Binne staan in 'n pynlik netjiese handskrif: 82% Baie deeglike werk. Kom spreek my asseblief. R. Pretorius. Ek weet gladnie wat die res van die periode aangaan nie. Na klas stap ek soos in 'n droom terug koshuis toe. Ek gaan lê op my bed en maak die taak weer oop by die handskriffie. Ek staar na die woorde. Ek mis aandete. Na 'n week het ek nog nie die moed bymekaar geskraap om na die dosent toe te gaan nie. Na twee weke bêre ek die taak heel onder in my kas en kyk nie weer daarna nie. In die Afrikaansklas sit ek tussen die ander driehonderd studente en luister na die lesings wat die dosente aanbied. Lesersbriewe Ek plaas 'n kort uittreksel uit 'n lesersbrief deur Willie Erasmus van Durban. Ek sit toe mos hier op ons stoep in die sonnetjie oor die hawe en uitstaar. Kyk nie na iets besonders nie, meer net na die prentjies wat my geheue optower. Maar hier voor my merk ek tog iets wat my aandag trek. Op die telefoondraad wat oor ons agterste grens loop sit daar 'n duif met 'n takkie in sy bek. Dit kon netsowel Noag se duif gewees het, behalwe dat duiwe nie so lank aan die lewe bly nie. Maar Noag se duif was seker net so broeis soos hierdie een, want die enigste verskoning vir 'n takkie in sy (of is dit haar) bek is om 'n nes te bou. Nie dat 'n duif juis veel weet van nesbou nie. Hy pak sommer net 'n takkie hier en 'n takkie daar in 'n mik van 'n boom en verbeel hom dan hy het 'n nes. Geen wonder dat so baie duifeiers op die grond beland nie. Laat my dink aan die krotte wat die plakkers sommer net waar daar 'n kaal stuk grond is oprig. Plak die ding sommer aanmekaar van enige beskikbare materiaal. Al verskil is dat hulle eiers nie op die grond beland nie, en daar dus veel meer van hulle afstammelinge oorleef. Ek merk op dat die duif eers op die telefoondraad kom sit met die takkie in sy bek. Dan besin hy hom seker eers ernstig oor die nesbouery. Of hou hy dalk eers die geelvinke wat hier in die palmboom ook besig is met nesbou dop om te sien of hy iets van hulle kan leer - net soos mens altyd eers in House and Home idees probeer kry? Maar anders as die vinke wat knaend kan aanhou vleg en uitrafel neem dit hom net sewe sekondes (ek het getel) om die takkie op sy plek neer te sit. Hy is duidelik nie 'n ou wat soos sekere werksmense wat ek ken sy taak so lank uitrek as wat hy kan nie. Gelukkig is 'n duifma nie jaloers of afgunstig nie. Maak nie saak hoe mooi en deftig haar vinkbure se nessies hier langsaan in die palmboom is nie, sy sal nooit soos 'n vinkwyfie haar nes kom uitmekaarpluk nadat dit moeisaam aanmekaargeplak is nie. So kan mens dan soos 'n Job uitroep: 'Mensekind, gaan na die duif en word wys. Hy mors nie tyd nie en is nie afgunstig nie. Living up to the Jonese's (finches) is nie vir hom nie!' (Tot hiertoe die uittreksel ... laat ons bietjie nadink oor hierdie wysheid. En om te dink ek het altyd gereken 'n duif het net 'n agste van 'n breinsel! Red.)
PIET VAN ROOYEN SE NUUTSTE PUBLIKASIES Met sy vyfde roman, Die brandende man, beweeg Van Rooyen buite sy selfgevestigde tradisie van die Afrika-milieu. Twee Suid-Afrikaners begewe hulle na die Nevada-woestyn waar duisende mense elke jaar byeenkom vir 'n fees waartydens 'n sewe verdieping man van rottang en neon ritueel verbrand word. Humor word ontnugtering, ontnugtering word trauma. Dit is veel meer as die Man wat vernietig word. "Slegs ontbering en lyding kan die denke oopmaak vir dit wat versteek is," het die ou Indiaan gesê. "My mense se teenwoordigheid bly in my gedagtewêreld steek." Maar die pad terug lei nie weer by die ouman verby nie... " Die volgende - ook oor die roman - is deur Piet se vrou, Annalie, aan my gestuur: Ek herlees nou die boek, maar dis ontstellend. Nie dieselfde as Piet se vorige werk nie. Hy was aanvanklik gestimuleer deur 'n program oor die ware fees wat hy op Discovery gesien het, en het toe die kuberruimte betree om die res van die inligting bymekaar te maak. Ek het intussen baie van die uitdrukke van die internet deurgelees en hy het baie min versin - al die gruwelikhede vind werklik plaas. Die volgende ook deur Annalie: Piet se nuutste digbundel, Goedsmoeds, bevat gedigte wat maar "so met die jare" gekom het. Soos Piet self sê: "Digwerk is mos maar 'n saak van sterk persoonlike belewing, wat nie elke dag kom nie." Dig bly sy groot liefde. Dis sy derde digbundel - met groot tydsverlope tussen-in! (die voriges verskyn in 1973 en 1983) Ampie Coetzee, spreek hom só uit oor die bundel: Selde kan 'n eenwoordtitel die aard, onderwerpe en selfs iets van die tegniek van 'n digbundel saamvat. Dit is die geval met die woord "goedsmoeds", wat kan beteken: opgeruimd, welgemoed, sonder aarseling, somaarso, onverwags, ongeërg, nonchalant, moedswillig, baldadig, sonder vrees, willens en wetens. Piet van Rooyen is meer bekend as prosaskrywer, veral oor die veld en jag ... Sy talent as verteller word geopenbaar in talle verse in Goedsmoeds. Die eerste indruk wat 'n mens van die poësie kry, is die direktheid en eenvoud daarvan ... Coetzee gaan voort deur te sê dat die gedigte soms die indruk wil skep van konvensionele poësie, maar as die leser werklik gaan soek na rym en ritme, is dit baie versteek en versigtig gebruik. Van Rooyen hou van die vers met die slotwending. Hy gebruik 'n groot verskeidenheid onderwerpe: die natuur, geskiedenis, liefde, reis, woestyn, dors, sterre, die skilderkuns. Afrika - soms herkenbaar as Namibië - word as agtergrond gebruik. (Uittreksel uit resensie in die Burger van 22 April 2002) BAIE geluk aan Piet met sy nuutste publikasies. Van die Hoor-Hier-redaktrise namens al ons lesers WORD STIL VIR N MINUUT Kameraadskap Dit is moeilik om lank te bly glo dat enigiets werklik die moeite werd is tensy 'n ander mens se oë soms saam met ons s'n vonkel en 'n woord af en toe gesê word om aan te dui dat iets wat vir ons oneindig kosbaar is vir iemand anders net so kosbaar is. |
|
|
|||||||||||||||