HOOR-HIER!

Mei 2002: 56

Redaktrise: Susan Alexander
Telefoon tuis: (061) 235757
Vanaf SA: (0926461) 235757
Faks: 212169 Windhoek

Posbus 9677 WINDHOEK

E-pos:  susanalexander@mweb.com.na

Hoor-Hier!


Webadres:  
http://www.pro.co.za/hoorhier

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

DAGSÊ VRIENDE

Die opdrag

Susan Alexander

Ek sluit myself toe in my kamer as die ander studente koffie drink. Ek werk met 'n vuur en 'n ywer. Die studente op dieselfde vloer as ek, skud net hulle koppe en spot bietjie met my. Spot maar, dink ek. Ek gaan nie net deurkom nie - ek gaan bo uitstyg.

In die Afrikaans klas kry ons 'n opdrag om 'n studie oor Die beiteltjie van NP van Wyk Louw te maak. Ek bestudeer die gediggie. Gaan soek besprekings oor die digter en sy gedigte in die biblioteek. Dan sit ek agter my Baby Hermes en tik versigtig my interpretasie van die gedig. Ek werk tot laat in die nag. Dan is ek klaar. Ek knip wit karton in folio-grootte en gebruik dit as buiteblad vir my opdrag. My naam en studentenommer skryf ek in drukskrif aan die buitekant. Dit lyk so netjies dat ek besluit om al my take sů te versorg.

Dit is my eerste taak en ek voel nogal effens bewerig as ons dit moet ingee.

Twee seniorstudente wat as assistente vir die dosent optree, kom haal die reuse-stapels take. Die dosent gaan aan met haar werk.

'n Week later kry ons die take terug. Daar is nie 'n merkie op die buitekant nie. Eers dink ek dat my taak nie nagesien is nie. Ek blaai die buiteblad stadig om. Binne staan in 'n pynlik netjiese handskrif: 82% Baie deeglike werk. Kom spreek my asseblief. R. Pretorius. Ek weet gladnie wat die res van die periode aangaan nie. Na klas stap ek soos in 'n droom terug koshuis toe. Ek gaan lÍ op my bed en maak die taak weer oop by die handskriffie. Ek staar na die woorde. Ek mis aandete.

Na 'n week het ek nog nie die moed bymekaar geskraap om na die dosent toe te gaan nie. Na twee weke bÍre ek die taak heel onder in my kas en kyk nie weer daarna nie.

In die Afrikaansklas sit ek tussen die ander driehonderd studente en luister na die lesings wat die dosente aanbied.

Lesersbriewe

Ek plaas 'n kort uittreksel uit 'n lesersbrief deur Willie Erasmus van Durban.

Ek sit toe mos hier op ons stoep in die sonnetjie oor die hawe en uitstaar. Kyk nie na iets besonders nie, meer net na die prentjies wat my geheue optower.

Maar hier voor my merk ek tog iets wat my aandag trek. Op die telefoondraad wat oor ons agterste grens loop sit daar 'n duif met 'n takkie in sy bek. Dit kon netsowel Noag se duif gewees het, behalwe dat duiwe nie so lank aan die lewe bly nie. Maar Noag se duif was seker net so broeis soos hierdie een, want die enigste verskoning vir 'n takkie in sy (of is dit haar) bek is om 'n nes te bou. Nie dat 'n duif juis veel weet van nesbou nie. Hy pak sommer net 'n takkie hier en 'n takkie daar in 'n mik van 'n boom en verbeel hom dan hy het 'n nes. Geen wonder dat so baie duifeiers op die grond beland nie. Laat my dink aan die krotte wat die plakkers sommer net waar daar 'n kaal stuk grond is oprig. Plak die ding sommer aanmekaar van enige beskikbare materiaal. Al verskil is dat hulle eiers nie op die grond beland nie, en daar dus veel meer van hulle afstammelinge oorleef.

Ek merk op dat die duif eers op die telefoondraad kom sit met die takkie in sy bek. Dan besin hy hom seker eers ernstig oor die nesbouery. Of hou hy dalk eers die geelvinke wat hier in die palmboom ook besig is met nesbou dop om te sien of hy iets van hulle kan leer - net soos mens altyd eers in House and Home idees probeer kry? Maar anders as die vinke wat knaend kan aanhou vleg en uitrafel neem dit hom net sewe sekondes (ek het getel) om die takkie op sy plek neer te sit. Hy is duidelik nie 'n ou wat soos sekere werksmense wat ek ken sy taak so lank uitrek as wat hy kan nie.

Gelukkig is 'n duifma nie jaloers of afgunstig nie. Maak nie saak hoe mooi en deftig haar vinkbure se nessies hier langsaan in die palmboom is nie, sy sal nooit soos 'n vinkwyfie haar nes kom uitmekaarpluk nadat dit moeisaam aanmekaargeplak is nie. So kan mens dan soos 'n Job uitroep: 'Mensekind, gaan na die duif en word wys. Hy mors nie tyd nie en is nie afgunstig nie. Living up to the Jonese's (finches) is nie vir hom nie!'

(Tot hiertoe die uittreksel ... laat ons bietjie nadink oor hierdie wysheid. En om te dink ek het altyd gereken 'n duif het net 'n agste van 'n breinsel! Red.)

 

MY SIMBOOL

My sandduin in
die Namib
my Atlanties-oseaan
die voetspoor in
my woestyn
nuwemaan van my
donker heelal

Die holte in
my siel
my spuwende vulkaan
die muggie in
my wyn
legende agter al
my pyn.

          johan wentzel           Mei 2002

Opgedra aan my seun.

 

 

VERDIENSTE

Aan die end van 'n
reŽnboog
ontdek ek 'n verlore
siel
erken sy hartseer en
pyn
asem sy teerheid en
verlange
suig dit op en leef soos
nooit
Diť wonder was my
geskenk
die droefheid agterna
diť het ek self
verdien.

          Johan Wentzel

 

 

FAST CAR

Henriette Lamprecht

Buite Okahandja sien ek vir Bin Laden. Osama Bin Laden. Sy wit jurk is weg. So ook sy baard. Sy hemp is kakie. Kortmoue. 'n Kakiebroek wat net bo sy maer knoopknieŽ hang. Een paar kakiekouse pas in bruin Grasshoppers. Osama is 'n Hanskakie-weghol-Moslem-ekstremis. Op safari in die bosse van Afrika.

Ek stop en vra of hy nie vir my 'n sigaret het nie. Hy beduie nee. Teken 'n prent van 'n eier in die stofsand. Bush is op sy spoor, hy't nie tyd om by die take-away uit te kom nie. Ek skud my kop, trek my skouers gemaak verskonend en trek met 'n brul weg. Ek sien in my truspieŽltjie hoe hy tussen duiweltjies en vlakvarke verdwyn. Die verlore seun. Tussen sy varke en peule.

Die pad is lank. Torre en motte verskeur teen die kar se ruit. Los kotsgeel blertse reg bokant my linkeroog. Die honde haal hard asem op die agterste sitplek. Die aircon is 'n droom en 'n luukse. Vir die maand se paaiement kry jy vier wiele en 'n stuurwiel. Die bankbestuurder sweet saam.

Ek trap rem om by die padstal se skewe bord onder die Kameeldroring in te draai. Stop onder 'n doringboom wat saam met die boere bid vir uitkoms. 'n Stukkie skaduwee val oor die honde op die agterste sitplek.

Gemmerbier, warm gegis in uitgespoelde wynbottels. Gister se label vandag toegeplak met 'n tuisgemaakte Babsie se Bier. Pakkies in gelid gepakte koekies. Met hundreds & thousands en bont versiersuiker wat droog verkrummel wanneer jy dit sou optel. Rooi Vellies, Liewe Jesusplakkies, vlieŽplakke wat beloof om 'n vlieg moer toe te stuur, hang ongelyk op 'n ry. Op die rakke van 'n ou sideboard sit die embrios van perskes, uitjies, koejawels en sampioene in can fruit bottels met stowwerige deksels. Babs se label op hul gesigte geplak. Gedroogte blomme hang gebleik en asemloos onderstebo van 'n balk.

Die vrou agter die toonbank is vet. Goedgevoer op biltong met galserige beesvet, room dik gesmeer op hompe brood, gemeng met die oes van 'n oorryp boord. Haar hare is toutjies wat teen haar voorkop vasplak en eindig in 'n stert teen haar rug. Die deining van haar bors beweeg swaar op en af soos die cholestrol en Lucky Strikes haar longe toedruk. Onder haar arms vorm sweet wat salpeter op haar pampoengeelcrimplenerok.

Die toonbank is van glas wat vorentoe buik. In sy maag lÍ hardedop eiers, krummelfrikkadelle, verbleikte halfpienk worsies en twee crumbed chops. Vyf botteltjies koejawelssap waarvan die pitte boontoe stu, sit opgeblaas in die hoek.

Ek vra vir 'n bottel sap, dop dit onderstebo dat die pitte op sy bodem gaan lÍ. 'n Hardedop eier en 'n crumbed chop word in bruinpapier tot 'n oneweredige bondel gedraai. Ek betaal met 'n bruin noot waarop 'n staatsman uit Afrika donker en moeg sy gesig in 'n glimlag forseer. Daar's kreukels waar ek dit oor en oor gevou het.

In die sigaretmasjien gooi ek my laaste sente. Drie handevol. Die masjien weier. Ek skop en skop en totdat die stuk blik 'n pakkie nikotien braak.

Smoking causes cancer. If you need help to quit this filthy habit, please dial this toll free number.

Ek vra die cholestrolvrou agter die toonbank of hulle toiletgeriewe het wat ek kan gebruik. Die vet vinger beduie na 'n deur agter my skouer. Op die deur is 'n kaal engelseuntjie vasgeplak. Onder hom staan in swart: Loo.

Die kalender agter die deur swaai lui aan die een spyker met die toemaak van die stram deur. 'n Bedeelde blonde bom poseer in 'n miniskule rooi bikinibroekie by die reste van 'n motorenjin. Met 'n halfhartige poging probeer 'n rooinaelhand die nodige bo toe hou waar 'n bostuk kort. Die jaar 1982. Februarie.

Die toilet se swart klap is skurf en gebars. Die deksel toegehekel met rooi om te pas by die lap rooi op die toiletbak, omgeboor met groot wit kruissteke. 'n Maer pop met lang blonde hare met 'n krul, sit in 'n toiletrolrok.

Die wasbak het net 'n een kraan. 'n Koue een met 'n blou kol op die voorkop. Die klein sepie sit met ou vuil op sy eens wit lyf.

Buite staan 'n man skeefkop en tuur na iets iewers in die pad af. Ek skuur verby op pad kar toe. Hy sÍ besigheid is sleg. Die koeie se uiers is leeg en die bulle sonder saad. Ja, sug hy. Is omdat vliegtuie nou in geboue vasvlieg.

Die honde se tonge kleef teen die halfoop venster. Ek sluit die kar oop. Met die inklim hoor ek die man onderlangs en vir niemand spesifiek mompel oor 'n losprys op Osama Bin Laden. US$300 miljoen.

Haastig draai ek die sleutel, swaai die kar se neus in die rigting vanwaar ek gekom het. Die hardedopeier en crumbed chop in 'n vetkol-lokaas op die sitplek langs my.

Buite Okahandja sien ek vir Osama Bin Laden. Hanskakie-weghol-Moslem-ekstremis.

 

PIET VAN ROOYEN SE NUUTSTE PUBLIKASIES

Met sy vyfde roman, Die brandende man, beweeg Van Rooyen buite sy selfgevestigde tradisie van die Afrika-milieu. Twee Suid-Afrikaners begewe hulle na die Nevada-woestyn waar duisende mense elke jaar byeenkom vir 'n fees waartydens 'n sewe verdieping man van rottang en neon ritueel verbrand word.

Humor word ontnugtering, ontnugtering word trauma. Dit is veel meer as die Man wat vernietig word. "Slegs ontbering en lyding kan die denke oopmaak vir dit wat versteek is," het die ou Indiaan gesÍ. "My mense se teenwoordigheid bly in my gedagtewÍreld steek." Maar die pad terug lei nie weer by die ouman verby nie... "
(Inligting van flapteks van roman)

Die volgende - ook oor die roman - is deur Piet se vrou, Annalie, aan my gestuur:

Ek herlees nou die boek, maar dis ontstellend. Nie dieselfde as Piet se vorige werk nie. Hy was aanvanklik gestimuleer deur 'n program oor die ware fees wat hy op Discovery gesien het, en het toe die kuberruimte betree om die res van die inligting bymekaar te maak. Ek het intussen baie van die uitdrukke van die internet deurgelees en hy het baie min versin - al die gruwelikhede vind werklik plaas.

Die volgende ook deur Annalie:

Piet se nuutste digbundel, Goedsmoeds, bevat gedigte wat maar "so met die jare" gekom het. Soos Piet self sÍ: "Digwerk is mos maar 'n saak van sterk persoonlike belewing, wat nie elke dag kom nie."

Dig bly sy groot liefde. Dis sy derde digbundel - met groot tydsverlope tussen-in! (die voriges verskyn in 1973 en 1983)

Ampie Coetzee, spreek hom sů uit oor die bundel:

Selde kan 'n eenwoordtitel die aard, onderwerpe en selfs iets van die tegniek van 'n digbundel saamvat. Dit is die geval met die woord "goedsmoeds", wat kan beteken: opgeruimd, welgemoed, sonder aarseling, somaarso, onverwags, ongeŽrg, nonchalant, moedswillig, baldadig, sonder vrees, willens en wetens.

Piet van Rooyen is meer bekend as prosaskrywer, veral oor die veld en jag ... Sy talent as verteller word geopenbaar in talle verse in Goedsmoeds.

Die eerste indruk wat 'n mens van die poŽsie kry, is die direktheid en eenvoud daarvan ...

Coetzee gaan voort deur te sÍ dat die gedigte soms die indruk wil skep van konvensionele poŽsie, maar as die leser werklik gaan soek na rym en ritme, is dit baie versteek en versigtig gebruik. Van Rooyen hou van die vers met die slotwending. Hy gebruik 'n groot verskeidenheid onderwerpe: die natuur, geskiedenis, liefde, reis, woestyn, dors, sterre, die skilderkuns. Afrika - soms herkenbaar as NamibiŽ - word as agtergrond gebruik.

(Uittreksel uit resensie in die Burger van 22 April 2002)

BAIE geluk aan Piet met sy nuutste publikasies. Van die Hoor-Hier-redaktrise namens al ons lesers

WORD STIL VIR ’N MINUUT

Kameraadskap

Dit is moeilik om lank te bly glo dat enigiets werklik die moeite werd is tensy 'n ander mens se oŽ soms saam met ons s'n vonkel en 'n woord af en toe gesÍ word om aan te dui dat iets wat vir ons oneindig kosbaar is vir iemand anders net so kosbaar is.
George Eliot



Volgende Uitgawe Volgende Uitgawe
Vorige uitgawe Vorige Uitgawe
Tuisblad Tuisblad
Teken in op Hoor-Hier! Teken in op HOOR-HIER!
Besoekersboek Besoekersboek
Boekwinkel Boekwinkel
 
Internet-tuiste geborg deur

Die Knoop

Die Knoop: Duisende Afrikaanse Bestemmings!

 


11 Jun 02 11:24:48 PM