|
Lena in my lyf
Elmari Briedenhann
Ek het 'n vyftigrand-noot wat weggesteek lê in een van die geheime afskortinkies van my beursie. Pienk, vars en in vier dele gevou.
Ek kan hierdie noot nie gebruik nie.
*
Ek is jonk, fiks, vinnig op my agtervoete en laat nie met my mors nie. Ek is alles wat deur my ouma se are pomp. Ek trek 'n sigaret soos net sy 'n stuk brooddeeg kon knie, met passie, en vee my af aan die owerheid wat benoud uitroep, "jongmens, jy is die toekoms!", ek is my eie toekoms weet ek. Niemand sê my hoe om te stap nie, ek loop hierdie pad al lank genoeg.
Ek draf deur die strate van my woonbuurt en spoeg op die sypaadjie soos net sy 'n stuk boudvleis kon opkerf, met oorwinning. Die keipie langs die pad skree, "djy, djy wat soe op my sidewalk spoeg, ek klap ve djou dat djouse kop vibrate, gehoor!", ek sê fokof en hou my kop hoog, want ek is wat ek is en ek is gelukkig.
Ek skryf stories wat mense draaie laat loop om my soos net sy haar Bybel kon lees, met absolute teerheid. Ek sleutel die letters van my nuutste intellektuele werk in en maak nie verskonings vir waarvandaan ek kom nie. Want ons weet van helderheid en ons ken die kwaad.
*
My ouma woon in 'n huis met vyf slaapkamers, 'n kombuis met 'n koolstofie, 'n sitkamer met 'n vuurherd wat toegemessel is, 'n eetkamer wat my grief en een badkamer wat eers later jare aangebou is. My ouma hou haar hand voor haar bors as daar 'n foto van haar geneem word en sy is myne.
Ek raak saggies aan die stekelrige krullers in haar silwerwit hare en soen die vel op haar voorkop wat styf span van die ingekrulde slierte.
Haar gene dwaal êrens in my bloed, al het ek niks van haar uiterlike geërf nie.
My ouma se groot ou huis in Langstraat op Riversdal staan vol antieke meubels waarvoor sy eens op 'n tyd moes sente omdraai. Haar sweetdruppels lê vasgevang in die ou oortreksels en haar trane lê gevlek tussen lae meubelpolitoer.
Partykeer gryp ek na my tekenpotlood en begin verwoed te krap in 'n poging om haar huis te teken, ek kan nie een weggesteekte hoekie vergeet nie en elke skaduwee moet perfek wees want haar huis is haar trots en ek wil haar in my lyf voel.
*
Ek het 'n flat in die alleenstrate van Kaapstad wat my asem is. In my sitkamer oftewel televisiekamer oftewel slaapkamer staan 'n rusbank en twee stoele. Dit is my ouma s'n, dit is myne, dit is wat ek van haar het. Die enigste materialistiese voorwerp waarop ek my binneste uitleef vir haar. Ek druk my gesig teen die growwe oortreksel wat ruik na iets ouds, iets ver en onverteld. My kaal vingers vryf oor die knoppiesrige materiaal en die tintelende gevoel van een gevoel, van oudwees, van half onwerklikwees oorval my en ek streel my pyn. Ek is onaantasbaar. Van kleins af kan ek net my vingers streel oor die knoppiesmateriaal en niemand kan my raak nie. Ek het my eie wêreld waar die samelewing geen sê het nie. Ek ontsnap soos 'n besetene en leef volgens myself.
Ek is twee-en-twintig. Ek is skrywer/fotograaf en 'n beminde vir iemand. Dis ek.
Ek neem foto's wat skree. Swart en wit mense wat kreun van pyn, wat skyn van geluk, wat bekommerd staar op hoop na 'n beter iets. Ek neem foto's van items wat geen benul het van hoe ver weg hulle al in die proses van onstuitbare afbreking en hartseer is nie.
Ek vlug van kontinent tot godverlate kontinent op soek na die perfekte beeld wat my siel en brein sal laat rus. As ek net die een foto kan kry wat al die antwoorde bevat, kan ek begin skryf aan al die vrae en my intellek neerlê vir een oomblik van ewige rus.
*
My ouma is nie 'n kiekie-mens nie en het nog nooit daarvan gehou om op een te wees nie. Maar sy maak haar eie prentjies. Haar prentjies het kinders in wat lag en nooit honger ly nie. Haar prentjies is altyd streng. Almal in haar prentjies doen wat van hulle verwag word en sy is streng daarop om niemand te oordeel nie. Dis belangrik om te leef, my kind, en dis belangrik om te laat leef. My ouma se prentjies is altyd regverdig, elkeen kry sy regverdige deel en jou regverdige deel is altyd meer as wat jy verwag het. Dis net regverdig dat elke mens liefde kry en 'n paar hande wat help met alles. Dis regverdig dat jy warm slaap en jou bord oorloop met dit wat jou sterk maak.
My ouma se prentjies is vol van rondloperkatte en honde en weglêhenne en oorgroot brode en pasteie. Elke wese het die reg om te leef en te weet dat hy ook nodig is. Elke prentjie is teer en sag. Ek onthou kiekies van my ouma hoe sy elke dag dorp toe stap en my hand vashou. Kiekies van hoe sy sorg vir die mense rondom haar. Ek onthou eintlik baie min, maar my kiekies van haar is ryk, nie van geld nie, maar van eenvoud en die geluk wat dit bring.
My ouma se prente is vol van lewe. My ouma se lewe loop oor van lewe.
*
Ek skryf my lewe lank al.
Interessante briewe en wegloopbriewe wat eintlik net smeek op 'n antwoord wat sal sê ek stel belang in jou. Pateties. Dagboeke wat sad stories vertel waarin niemand regtig belangstel nie. 'n Mors van tyd. Gedigte, enkel versies wat iets moois of tydloos probeer vasgryp. Lang verhale met almal dieselfde tema wat skree vir aandag. Ek moes êrens begin het. Skoolopstelle wat probeer vermaak en groot woorde rondgooi waarvan niemand die korrekte betekenis ken nie. Hou op kruip! Intellektuele werke, soos ek dit graag noem, wat met selfs meer vreemde woorde werk aan 'n oplossing vir 'n eienaardige tipe van wêreldvrede. Lang sinne wat oneindige verduidelikings gee omtrent onderwerpe waarin slegs 'n handjievol verveeldes belangstel. Dit klink meer reg. Kort reëltjies wat mini-openbarings offer op 'n brandstapel van emosie. Maar dis net vir myself.
Ek skryf verwoed aan 'n breinroman wat heel waarskynlik nooit sal klaar kom nie. Ek skryf eksamens wat hopelik my intellek op 'n stukkie nuttelose papier sal weergee. Ek skryfs sms'e om te laat weet dat my bestaan nog werklik is en die meeste van die tyd om net beleef te wees. Ek skryf en ek skryf en ek skryf tot my kop ontplof en vir wie weet wat. Net om eendag my plekkie te verdien in die mees vooraanstaande inrigting vir sielsiekes.
En ek vergeet om te praat.
*
Ouma skryf ook. In 'n fyn potloodhandskrif in 'n swart notaboekie sal jy al haar resepte kry. Netjies uitgeskryf, duidelik en heeltemal onverstaanbaar op haar eie geheime manier. Ek het dikwels hierdie boekie gesien, met my verjaarsdag en spesiale dae wat 'n ekstra besonderse maaltyd benodig het. Die probleem is net, presies hoeveel gram is een van ouma se handevol meel. En wat beteken dit as jy net 'n bietjie sout moet inmeng. Is groot-ouma Maggie se souserige bruin poeding dieselfde as 'n heerlike bruinpoeding en waar kry jy vandag 'n eetlepel vol boegoebrandewyn vir vinnige hoesmedisyne? En is vandag se eetlepel- en koppievol mates nog dieselfde as vyftig jaar terug s'n?
In my ouma se Bybel sal jy die uitgebleikte merkies kry waar sy met God gepraat het en vir Hom sê wat sy van die woorde dink en miskien waar sy vir haarself probeer verduidelik het hoekom dinge is hoe dit is en waar sy een van die baie antwoorde onderstreep het sodat sy dit kan opsoek die dag as sy die vraag gekry het.
My ouma skryf in tydskrifte, vul blokraaisels in en hoop om die dubbelbaliewasmasjien met outomatiese spin vir haar oudste kleinkind te wen. Sy sukkel ure lank om die mense in die fotoblokraaie te herken en skryf dan versigtig met 'n potlood wat nie die bladsy sal skeur nie die helde se name in. Sy weet dat 'n ander woord vir sies ga is en dat die ou met die sproete en rooi hare wat krieket speel, Shaun Pollock is.
My ouma maak kort, noodsaaklike winkellysies: pille, botter, meel, chocolate, koffie, swartgoed, stroop en 'n simpatiekaartjie vir Les. Die perfekte kombinasie vir 'n gelukkige hart.
My ouma praat nie vreeslik baie nie, maar as sy woorde agtermekaar sit en hulle versigtig vrylaat is dit met verstaan en sêgoed wat meer as die helfte van die vrae en die antwoorde gee.
My ouma lag baie en lekker, dit maak saak. Meer as enige geskrewe woord.
*
Ek hyg en snak na my asem as ek my beminde sien.
My beminde behoort aan my, elke stukkie vlees los my in ekstase. Sy voete is my eenvoud en rus. Hy streel my teer vel en asem in my karakter tot perfekte aanvaarding. My beminde raak aan my lyf en soen my in die geheim, want die liefde wat ons het word net verstaan deur ons. Hy kyk in my hart. My liefde is my hart. En ek behoort aan my beminde.
My beminde se mond is 'n nessie vol voëltjies al sal ek dit nooit vir hom sê nie. Ek is verslaaf aan sy lippe en vergeet van die wêreld wanneer ek verdrink in die sagte warm holte van sy mond.
My beminde is my baba wat in my buik skop en keer teen die lig van die dag. My beminde is my engel wat my brein skoon en helder hou. Hy hou my vas en ek is veilig.
Ek vernietig gereeld my beminde se hart. Ek sluit hom uit en hardloop weg wanneer my lyf wil oopbreek van al die liefde. Ek is pateties sonder my beminde. Sonder my liefde, my beminde, verteer ek tussen ander. Elke oomblik van elke sekonde soek ek hom tussen skares onbekendes en as ek my beminde kry, is my lewe vol en rustig.
Wanneer hy slaap, kruip ek sag onder die slapende warm lyf in en stel my ritme volgens die vinnige hartklop en sus myself aan die slaap.
My beminde dra my, saam is ons simpel en soos kinders, dis beter dat dit net tussen my en hom bly.
*
My ouma was lief, nee is lief, vir baie mense, selfs die wat sy net vlugtig eendag ontmoet het, haar liefde was geduldig en sonder selfsug.
Ek onthou hoe my ouma klokslag elke oggend om sesuur opgestaan het om my oupa se ontbyt met sorg voor te brei, presies het sy alles gemaak wat sy dag reg sal laat begin. Teetyd het sy sy swart koffie in koppie en piering vir hom geneem waar hy by sy groot geel-en swarthout tafel gesit en blokkiesraaisels invul het. Middagete was gebalanseerd met alles waarvan hy hou, al was dit slegs 'n ete vir twee. Met aandete het sy die stukkie biltong fyn gekerf en versigtig op die stukkie brood gepak en dit op 'n skinkbord met sy Milo geneem sonder om hom te versteur waar hy in sy stoel gesit en nuus kyk het. In kort het my ouma haar lewe vir haar man gegee sonder om vrae te vra.
Haar sewe kinders was haar trots en vreugde. Na naweke by ouma het ek gesien hoe haar vaal oë vol trane ophoop as sy op die stoepie staan en waai. My ouma was die beliggaming van onvoorwaardelike liefde.
Party oggende het ek my wekker vir vyfuur gestel sodat ek die laaste uur van die nag in my ouma se bed kon gaan inkruip en in haar sagte holte vir net 'n wyle snoesig kon leef. Middae het ek haar sagte hande met die growwe lyne geneem en haar naels 'n helder vuilpienk geverf en hulle in stilte geseën. Saans neem ek haar voete en vryf die moegheid weg en wonder of ek ooit vir haar sal kan sê hoe bleddie baie ek vir haar lief is. Ek maseer haar skouers terwyl sy met toe oë luister na die stories wat ek opmaak soos die tyd verbygaan. Die krom rug en rimpelnek word my baken van hoop, die koue groot hande my uitkoms en die seer voete wat myle loop my lafenis.
My ouma is liefde. Dis al.
*
Dis vandag 22 April 2001. My ouma Lena is presies drie maande terug dood. Haar beroerte het soos 'n dief in die nag na haar toe aangekruip gekom en haar oorrompel tussen die mense wat vir haar lief is en vir wie sy lief was. Helfte van haar lyf het haar in die steek gelaat en inmekaar met 'n skewe gesig jaag iemand teen 180km/h met haar na die staatshospitaal op Riversdal.
In stadige aksie hardloop ek die wit hospitaalkamer binne en druk verwoed die oumenslyf wat diep in 'n koma rus na 'n ewige leeftyd. My warm souttrane was die spoeg wat by die pragtige skewe mond uitkom af en saggies trek ek my vingers deur die silwerwit hare en smeek vir 'n reaksie. Die warm lyf roggel in my arms op soek na die asem wat rustigheid sal gee. Die kateter, buis deur die keel en stil drup spreek vanself. Sy is klaar met hierdie wêreld en verlang na dit wat mense deur eeue heen bespiegel.
*
Miskien is ek niks wat my ouma was nie, miskien het my gene en bloedgroep my in die steek gelaat en hoop ek net om iets van haar vasgevang te hê in my. Dit is in elk geval nie my plek om te sê of te verwag dat my ouma net myne is nie.
Ek wens partykeer dat ek net vir haar 'n boodskap kan stuur wat sê hoe baie nodig ek haar het en net om te sê dat ek nog steeds lief is vir haar. Dis al.
*
My familie is gewikkel in 'n twis oor alles wat aan Lena behoort het. Haar huis en tydlose meubels, wie kry wat en wat presies is regverdig? Die regverdigheid wat in Lena se huis was is besig om te kwyn en die liefde raak duister tussen skerp stemme wat almal woed om net iets te hê wat hulle vir ewig sal herinner aan Lena. Miskien sou dit beter wees as 'n mens se besittings saam met hulle kon verdwyn het van die aarde af. Saam met hulle verhuis na 'n vrede wat alles bedek en vertroos. Miskien sou dit beter wees as ons almal kon weet dat ons hartseer en verlies die grootste is en dat ons nie hoef te baklei oor wat oor is op die aarde om dit te wys nie.
*
Ek sit saam met my ouma op haar enorme bed in die halfdonker slaapkamer en streel haar sagte, geplooide, beeldskone gesig terwyl sy vroetel in haar handsak. Sy stop 'n vyftigrand-noot in my hand en vou my vingers om die pienk stukkie papier. "Dè, dis nou joune, vir kersfees. Koop vir jou iets daarmee." Haar oë glinster in die skemer lig terwyl ek haar soen en blaas in haar nek. "Dankie Ouma, maar dit is nie nodig nie. Hou Ouma dit liewer vir Ouma se oudag want ek wil tog nie opgeskeep sit met 'n ou en 'n arm ouma nie!" sê ek spottend soos altyd. "Gods kind, nou ja toe hou jy dit maar, Ouma is lief vir jou ook."
Ek het 'n vyftigrand-noot wat weggesteek lê in een van die geheime afskortinkies van my beursie. Pienk, vars en in vier dele gevou.
Ek kan hierdie noot nie gebruik nie.
|