|
HOOR-HIER! KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS Maart 1998: 6 Redaktrise: Susan Alexander
|
|
Dagsê Vriend |
||||||||
|
Toe ek nog in die skool was, het die onderwysers soos klokslag een keer in n jaar die volgende opstelonderwerp gegee: My geliefde seisoen. Ek het dan altyd geskryf dat Herfs my geliefde seisoen is. Omdat ek so baie oefening gekry het met dié spesifieke onderwerp, het ek n paar beelde agtermekaar gehad wat ek in die middel van die nag kon aanhaal: die rooi- en goudgekleurde blare dwarrel van die boomtakke af; in die nagte nestel ek my knus in die lappieskombers wat Ouma vir my gemaak het; Ma kook stomend geurige potte groentesop; Pa maak hout bymekaar om die kaggel te stook Objektief beskou, dalk gladnie sulke slegte gedagtebeelde nie maar hoe ver van my werklike ondervinding af! Ek het nie my Herfs beleef in D.J. Opperman se Stellenbosch nie ek was n leerling van P.K. de Villiers Hoërskool op Keetmanshoop! Nou ja dit is weer Herfs, en ek is steeds in n streek waar jy weinig van dié seisoen beleef hierdie jaar minder as ooit tevore: dit is warmer en stowweriger as wat ek kan onthou. Lesersbriewe Oom Pieterse van Walvisbaai skryf vir my: "Niggie die vissermanne hier weet dat jy ook net vir n rukkie probeer om vis in n sekere gat te vang; as dit n droë gat is, skuif jy aan totdat jy n gelukkie tref. Dit lyk mos nou vir my asof jy jou lyntjie in n goudmyntjie laat sak het. Gaan so voort! Ek sit hier in die aand op my toegeboude balkonnetjie en kyk hoe die son daar agter die groot water wegsak en ek geniet die spel van die lig en die kleur wat verdonker en dan stadig verdwyn. Dis n lekker lewe, man! Gaan voort met jou blaadjie. Baie sterkte! (Die "niggie" geniet die wysheid en steun daar van die kus af!) Red.) Krit Die eerste Krit op Dinsdag, 3 Maart 1998, was n groot sukses. Daar was redelik uiteenlopende menings oor die jeugboek, Slinger-Slinger deur Francois Bloemhof. Die volgende Krit vind plaas op14 April. Dan gesels ons oor Uitreis deur Rina Sherman. Ingrid van Graan sal die inleiding tot hierdie roman hanteer. Die res van die jaar se program lyk soos volg:
Enige navrae oor hierdie gespreksgroep, kan gerig word aan Susan Alexander. Die Afrikaanse Toastmasters van Namibië Wie is die Afrikaanse Toastmasters? Toastmasters International is n toonaangewende beweging wat daarop ingestel is om doeltreffende mondelinge kommunikasie n werklikheid te maak. Die Afrikaanse Toastmastersklub, Tarentaal, hier in Windhoek, se doel is om die luister- dink- en praatvermoë van mense te bevorder. Opleiding vind in n vergadering-omgewing plaas waar lede die geleentheid kry om verskillende rolle te vertolk. Kursusse en lesings in kommunikasie word deurlopend aangebied. Die Tarentaalklub hou elke tweede Woensdag van die maand n vergadering. Dit begin 18:00 by die Gammams-opleidingsentrum naby die begraafplaas. Kom ril saam met ons om die braaivleisvure! Tarentaal Toastmastersklub hou n pretvergadering om n kampvuur waar Spookstories vertel gaan word. Hierdie geleentheid vind plaas op Saterdagaand, 14 Maart 1998 op die plaas Regenstein, 18 km suid van Windhoek. Die vuur word verkoop teen N$20,00 per volwassene, brandhout word dus voorsien, maar kos, drank, eetgerei en flitse moet saamgebring word. Almal wat die geleentheid wil meemaak, moet skakel met Ingrid van Graan, telefoon 227146 (huis) of 232165 (werk) of met Christene Uys, telefoon 252655 (huis). Enigiemand wat belangstel om by die Tarentaalklub aan te sluit, kan gerus vir Ingrid van Graan (die president) of vir Inneke Viljoen (vise-president) skakel. Inneke se telefoonnommer is: 244350 (Hierdie beriggie is saamgestel deur Ingrid van Graan) Nuwe stemme 2 Tafelberg-Uitgewers het onlangs met n splinternuwe projek genaamd Nuwe stemme begin. Die idee is om n platform vir ontluikende skrywers te skep wat nog nie genoeg verhale of gedigte vir n eie debuut het nie. Die eerste in die reeks, Nuwe stemme 1, het in Oktober 1997 verskyn, en elf debuterende digters is daarin opgeneem. Die samestellers was George Weideman en Anastasia de Vries. Dié jaar is die kortprosaskrywers aan die beurt. Die samestellers is Etienne van Heerden en Nèlleke de Jager, en die beoogde publikasiedatum is Oktober 1998. Enige navrae kan gerig word aan Nèlleke de Jager by (021) 241320 of by haar e-posadres: ndejage@naspers.com (Ek lees in die Rooi Rose van 21 Januarie 1998 n vertelling deur A.H.M. Scholtz soos aangehaal uit die Desember-uitgawe van Afrikaans Vandag): Ons begin die nuwe jaar op skool. En ons moes elkeen n tiekie (drie pennies) bring vir n hard-cover skryfboek. Sondag na ete vra ek my ma n tiekie wat ek môre moet skool toe neem vir die hard-cover skryfboek. Ma sê: "Ek is kort dié week. Dit is die huishuurbetaal-week, en van die week se kosgeld het ek net een pennie oor vir die spaar-kers." Ek kyk na Pa. Pa sê "Jy weet dat jy my die pakkie Sport gekoop het." (Daai jare het n pakkie tien Sport sigarette drie pennies gekos.) Maandagoggend loop ek treurig skool toe. Ek voel nie vir maats nie. Gewoonlik vat ons die pad skool toe, want daar is nie dorings in die pad nie. Die kinders met skoene neem gewoonlik die voetpaadjie, want dit is korter en gouer as die pad skool toe. Ek met my hartseer gedagtes neem toe die paadjie. En die duwweltjiedorings begin my te steek. Nou, daar is n manier om die dorings uit jou voet te kry. Jy sleep jou voet op die grond, dan rol die dorings uit. Ná n paar treë sien ek hoe lê die geel blommetjies van die duwweltjies nog voor. Ek draai om en sien in n graspol n stuk silwerpapier (daai jare het ons die sigarettepapier silwerpapier genoem). Ek buk af met die woorde wat ek hoor: "Vader, kan daar nie n tiekie in wees nie." Ek maak die silwerpapier oop en sien twee tiekies swart van oudgeid. Ek hardloop toe skool toe met die gedagte die Here verstaan Afrikaans. Na skool loop ek vol vreugde met my maats met n juwe hard-cover skryfboek, n pennie-inkpen, n pennie-potlood en n pennie-uitveër. Ek het vir Ma die verbleikte silwerpapier gewys en gesê: "Ek het vir die Here gevra vir n tiekie. Toe ek dit optel en oopmaak, kry ek twee tiekies!" Ma gee my n drukkie en sê: "Die Here ken ons taal, kind." LAAT ONS VAN JOU HOOR! Hef asseblief die droogte hier by my op! Groete tot n volgende keer.
|
|
Volgende Uitgawe |
|
Vorige Uitgawe |
|
Tuisblad |
|
Gasteboek |
|
|
|
|