HOOR-HIER!

KOM ONS SKRYF ÍN AFRIKAANS ÓÓR AFRIKAANS

Mei 1998: 8

Redaktrise: Susan Alexander

 

Telefoon tuis: 235757 in Windhoek
Faks: 212169 Windhoek
E-pos:  
susanalexander@mweb.com.na
Posbus 9677 WINDHOEK

 

 

 

DAGSÊ VRIEND

n Ou tante van my het eenkeer gesê dat daar ook kompensasie is in oudword: dit is lekkerder om te rus as jy moeg is; jy het n verskoning om te bly sit as daar n tekort aan sitplek is; kinders luister dikwels na jou omdat jy oud is (nie omdat jy noodwendig reg is nie!) Na al hierdie jare dink ek weer aan my tante se woorde... met gemengde gevoelens. Dit is wel baie lekker om te rus as jy moeg is (ek kan dit so bewustelik en met oorgawe geniet). Maar ek ervaar dat my hiperaktiewe gewete my telkens dwing om my sitplek af te staan as daar n siel is wat teen die muur hang. Hierdie siele lyk om een of ander rede altyd moeër, ouer, meer afgeleef, sieker of gewoon meer pateties as ek. (Nou weet ek ook nie meer of dit nie dalk een van die ontkenning-van-die-ouderdomsindrome is wat ek onderlede het nie!) Waar my tante egter geweldig gedwaal het of waar haar wysheid gewoon nie die toets van die tyd deurstaan het nie is met die respekte wat kinders vir die woord uit die oue se mond behoort te hê. Toe ek met groot entoesiasme die heldedaad van Racheltjie de Beer n paar jaar gelede vir my vyfjarige dogter vertel en boonop vra of sy nie dink dat die kind baie dapper was nie, was haar enigste kommentaar: "Ek kan nie glo dat enige mamma so dom kan wees om haar kinders in n sneeustorm uit te stuur nie." Ek moet sê, dié waarheid het my vir die eerste keer getref. Dieselfde dogter van my nou n wyse tiener bevraagteken die uitsprake van sekere volwassenes waarmee sy te doen kry; sy toon selfs begrip vir die onwyse optrede van sogenaamde grootmense ("Hulle is seker moeg... voel nie lekker nie... is vandag in n slegte bui") In my tante se oë sou my dogter te groot vir haar skoene gewees het, maar ek verwonder my daagliks aan haar en haar tydgenote. Dankie tog dat ons kinders aangepas het by die wêreld wat verander het!

LESERSBRIEWE

Die lesersbriewe beleef n laaggety... ek skryf dit toe aan die vakansie en die lekkerlewe! Ek het darem een ou briefie van oom Pieterse van Walvisbaai af gekry. Hy skryf vir my: "Niggie - ek het darem ook n paar besoekers hierdie vakansie in my woonstelletjie onthaal: my goeie ou suster en haar wederhelfte. Saam-saam het ons saans op my balkonnetjie gekyk hoe die son in die see wegsink en aan ons ou rooiwyntjie gesuie want sien, my ou swaer kom van die Boland af en hy ken daar die regte mense én Swaerie het dit reggekry om n paar bokse met die kosbare voggies oor die grens te bring sonder probleme! Ek wys toe vir hulle jou blaadjie en hulle wil dadelik hulle name op jou verspreidingslys hê. Baie dankie vir die lekker gesels in die Hoor-Hier!

(Baie dankie Oom. Ek wens ek kon ook een sonsondergang daar op jou balkonnetjie beleef! Miskien maak ons eendag so. Red.)

KRIT

Die volgende Krit vind plaas op 23 Junie. Twee tekste deur George Weideman - n Staning onder sterre en Die Onderskepper word hanteer. Hierdie bespreking sal gelei word deur Jean Lombard.

Die ander Kritdatums vir 1998 is:
4 Augustus: n Kas is vir klere deur Pieter Cilliers
22 September: In drie riviere deur Jaco Botha
27 Oktober: Landskap met vroue en slang deur Lettie Viljoen

Die besprekings vind telkens plaas om 19:30 by die Kantore van Windhoek Consulting Engineers, Bismarckstraat 44. Enige belangstellende wat die geleentheid wil bywoon is baie welkom. Enige navrae oor hierdie gespreksgroep, kan gerig word aan Susan Alexander.

FELIX DIE KAT

Klik hier om Annemarie Steenkamp van Windhoek se verhaaltjie te lees: Felix die Kat.

TARENTAAL TOASTMASTERS

U onthou seker dat ons n vorige keer gepraat het oor die Afrikaanse Toastmasters. Ilse Burger vertel van hulle laaste geleentheid:

In Maart het die Tarentaal-Toastmaster-Klub n onvergeetlike aand onder die sterre in die geselskap van allerhande grillerige, spokerige goed deurgebring. Ons het besluit om n "vergadering met n verskil" aan te pak, die plek: Regenstein. Dit was toe n goeie keuse, dit is so gerieflik naby Windhoek en tog voel dit asof jy baie ver van alles en almal is. Die Tema: Spookstories. Ai... wanneer laas het jy om n kampvuur gesit en luister na die onverklaarbare, met n rilling hier langs die ruggraat af? Voorwaar n baie geslaagde vergadering. Ons het weer in aanraking gekom met die "grotes" soos Eugene Marais en Langenhoven... opnuut besef: watter lekker taal het ons nie! Het jy al ooit probeer om iemand in n ander taal bang te maak?

Enige iemand wat wil kom luister wat by die Toastmasters aangaan, is welkom. Skakel Ilse 0811240717 of Susan 248446 in Windhoek.

LAAT ONS VAN JOU HOOR!

Groete tot n volgende keer.

 


Felix die Kat
deur Annemarie Steenkamp

Volgende Uitgawe
Tuisblad
Gasteboek

 

Die Knoop: Honderde Afrikaanse Bestemmings! Afrikaans oppie Net Afriklub